Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
BLF by hof om ‘profeet’ Bushiri te steun
 Shepherd Bushiri
Shepherd Bushiri

“As Black First Land First (BLF), staan ons by die groot een (Shepherd Bushiri). Dit is ’n sistematiese aanval op die kerk en die profeet.”

Dit was die woorde van Andile Mngxitama, BLF-leier, wat Maandag buite die handelshof in Pretoria gepraat het.

Bushiri, die leier van die Enlightened Christian Gathering-kerk (ECG) en sy vrou, Mary, het Maandag in dié hof verskyn.

Hulle is Vrydag in Rustenburg in hegtenis geneem op aanklagte van bedrog en geldwassery.

Mngxitama sê die BLF is die enigste politieke beweging wat gekom het om die selfaangestelde profeet en sy vrou te ondersteun. Hy het honderde van Bushiri se gemeentelede, wat buite die hof gesing het, toegespreek.

Hy het gesê politieke partye en hul leiers het hul rug op die profeet gedraai noudat hy “in die moeilikheid” is, hoewel dit dieselfde mense is wat seëninge van Bushiri sou soek.

“Ons is die enigstes wat gekom het, want ons is aan die waarheid se kant. Ons weet dat die groot een deur hierdie regering vervolg word, want hy is ’n swart man wat uit sy eie en danksy sy seëninge van sy God suksesvol is.”

Mngxitama sê die kerk word aangeval omdat swart mense “wit gevestigde kerke verlaat omdat daar geen spiritualiteit” in daardie kerke is nie.

Dit is jaloesie. Hulle wil net die groot een teister en sy eiendomme vat.
Andile Mngxitama, BLF-leier

Mngxitama sê die regering word gebruik om Bushiri se naam en die kerke se naam swart te smeer.

“Nou probeer hierdie wit kerke, met behulp van ons regering, hierdie onafhanklike swart kerke vernietig. Ons sê aan ons regering hy moet ophou en moet swart mense toelaat om te floreer,” sê Mngxitama.

Die Bushiri-egpaar sal Woensdag terug in die hof wees nadat die saak uitgestel is om die staat toe te laat om ondersoeke af te handel, sê Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).

Mngxitama meen egter die saak is uitgestel om Bushiri te “teister en as goddeloos en dreigend uit te beeld”. Hy sê daar is nie genoeg bewyse nie en die saak sal uit die hof gegooi word.

“Die NVG teister altyd mense soos dié. Ons weet byvoorbeeld in die Estina-saak, vir die Guptas, al daardie dinge is uit die hof gegooi omdat daar geen bewyse is nie.

“Ons sien dieselfde ding hier gebeur. Dit is jaloesie. Hulle wil net die groot een teister en sy eiendomme vat.”

Onder diegene wat Maandag buite die hof was, was nog ’n selfaangestelde profeet, Paseka Mboro Motsoeneng, wat gesê het hy was daar om geestelike en morele ondersteuning aan Bushiri en sy vrou te gee.

Biskop Modiri Patrick Shole, president van die Suid-Afrikaanse Unie-raad van Onafhanklike Kerke, sê hulle sal die gereg toelaat om sy gang te gaan.

“Ek is hier om morele en geestelike ondersteuning as ’n broer in Christus te gee. Hy is ’n profeet en hy is besig om ’n kerk te bestuur, en ek bestuur ’n kerk, so ek kan nie bly wees as dinge so gaan nie,” het Motsoeneng gesê.

Biskop Modiri Patrick Shole, president van die Suid-Afrikaanse Unie-raad van Onafhanklike Kerke, sê hulle sal die gereg toelaat om sy gang te gaan.

Hy sê die raad was deel van die bemiddelingsproses tussen die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Taalkundige Gemeenskappe (CRL), Sanco en die kerk.

Shole sê hoewel Bushiri nie lid van die raad is nie, is hulle daar om ondersteuning te bied aangesien hy deel is van die liggaam van Christus.

“Ons sê laat die hof sy gang gaan. Ons weet nie wie reg of verkeerd is nie. Al wat ons sê, is dat die gereg sy gang gaan. Ons standpunt is dat ons sal bid en ons sal kom luister en hoor wat gesê word,” sê Shole.

Lees ook by News24.

Meer oor:  Andile Mngxitama  |  Shepherd Bushiri  |  Ondersteuning  |  Blf  |  Profeet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.