Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
BLF: ‘Ons vier nie Driehoek-kinders se dood, maar . . .’

“Die BLF vier nie die dood van die leerlinge in die Hoërskool Driehoek-tragedie nie. Die BLF is teen geweld.”

Só het Andile Mngxitama, leier van die omstrede politieke beweging Black First Land First (BLF), in ’n eedsverklaring gesê.

Die blok beton het op die leerlinge geval toe hulle ná die saalopening op pad na hul klaskamers was. Foto: Twitter/@Slindelo_M’s

Die verklaring is deel van opponerende hofstukke wat die BLF saamgestel het na aanleiding van ’n klag wat die vakbond Solidariteit op 14 Februarie by die gelykheidshof teen dié party ingedien het.

Solidariteit het die BLF verkla nadat BLF-lede onder meer gesê het die dood van vier leerlinge van die skool was ’n “goddelike ingryping om van toekomstige probleme ontslae te raak”.

Mngxitama volg sy stelling op deur te sê die BLF ag die Driehoek-voorval as ’n tragedie.

“Dit is iets wat nie veronderstel is om met enige kind te gebeur nie. Dit is iets wat ons in ’n normale samelewing, almal, sonder huiwering, tragies en hartseer moet vind,” sê hy.

Dan sê hy dat Suid-Afrika egter nie ’n “normale samelewing” is nie.

Volgens Mngxitama is Suid-Afrika verdeeld tussen wit arrogansie aan die een kant en ’n swart ingesteldheid aan die ander kant.

“Onder normale omstandighede sou ons so ’n stelling veroordeel, maar deur dit te doen sal dit ons bittere verlede wat ons deurgemaak het, uitwis,” sê Mngxitama.

Hy sê verder dat dit redelik van swart mense sal wees om nie empatie met wit mense se pyn te hê nie.

Die gewraakte uitlating, sê Mngxitama, moet gesien word in die lig van die pyn wat swart mense daagliks beleef as “gevolg van die voordele wat elke wit persoon weens kolonialisme ontvang het”.

Hy braak dan ook gal oor “verregse organisasies” soos AfriForum, die DA en die VF Plus.

Hy vaar ook uit oor die uitlatings van die sakeman Johann Rupert en Helen Zille, Wes-Kaapse premier.

Onder normale omstandighede sou ons so ’n stelling veroordeel, maar deur dit te doen sal dit ons bittere verlede wat ons deurgemaak het, uitwis.
Andile Mngxitama

Hy wil weet waar was die verontwaardiging van die publiek oor hul uitlatings wat neergekom het op haatspraak en rassisme.

Hy sê hy is van plan om Kallie Kriel, AfriForum se hoof, hof toe te sleep oor sy uitlatings oor swart mense en apartheid.

Mngxitama het by navraag aan Netwerk24 gesê hy is nie bekommerd oor Solidariteit se hofsaak teen die BLF nie en is vol vertroue dat sy party sal wen.

Anton van der Bijl, hoof van arbeidsregsdienste by Solidariteit, sê die eedsverklaring was ’n gulde geleentheid vir die BLF om die ouers van die slagoffers van die Hoërskool Driehoek om verskoning te vra, maar dat die party eerder verskonings gesoek het vir hoekom hy rassisties kan en mag wees.

’n Hofdatum moet nog vasgestel word vir die saak om aangehoor te word.

Meer oor:  Solidariteit  |  Driehoek-Ramp  |  Blf  |  Andile Mngxitama  |  Brugtragedie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.