Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
BLO vra hoe SAL nie wis van vlieënier se lisensie

Die Burgerlike Lugvaartowerheid (BLO) wil uitvind waarom die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) glo vir jare nie geweet het dat een van sy senior vlieëniers nie die vereiste lisensie het nie.

Die BLO het Vrydag bevestig dat hy ook ’n ondersoek doen oor ’n SAL-vlieënier wat verlede jaar nog na Duitsland gevlieg het. Hy het voorgedoen dat hy ’n lugdiensvervoer-vlieglisensie (ATPL) het, terwyl hy net oor ’n kommersiële vlieglisensie beskik het.

William Chandler, ’n voormalige senior vlieënier van die Suid-Afrikaanse Lugdiens. Foto: FACEBOOK

William Chandler het na bewering langer as 20 jaar as senior eerste offisier gewerk sonder ’n ATPL, het die Mail & Guardian berig.

Luidens Chandler se profiele op sosiale media is hy van Livingstone, Zambië, en woon in Johannesburg. Op sy LinkedIn-profiel staan daar nog dat hy ’n “senior vlieënier” by SAL is.

Die BLO het bevestig dat Chandler die vlieënier ter sprake is.

Phindiwe Gwebu, die BLO se woordvoerder, sê daar word vermoed dat dit ’n “geïsoleerde voorval” is, maar as die owerheid wat vlieglisensies uitreik, wil die BLO ondersoek waar daar skuiwergate is en of bykomende maatreëls nodig is.

“Dit is belangrik dat ons dit nie net om veiligheidsredes doen nie, maar om seker te maak dat ’n Suid-Afrikaanse vlieglisensie steeds as wêreldklas beskou word en ons bemanning hooggeag word.”

Die BLO sê hy het die reg om ’n vlieënier se lisensie te herroep, in dié geval ’n kommersiële vlieglisensie.

“Ons is wil ook graag weet hoekom die lugdiens se stelsels dit vir so lang tyd nie opgetel het nie,” sê Gwebu.

’n Airbus A330-200 van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) staan by die O.R. Tambo-lughawe in Johannesburg. Foto: Reuters/Mike Hutchings

Alpa-SA, ’n vereniging vir lugdiens-vlieëniers, het Vrydag bevestig dat ’n lid daarvan beskuldig is dat hy die besonderhede van sy kommersiële vlieglisensie gewysig het om soos ’n ATPL voor te kom.

William Rooken-Smith, president van Alpa-SA, sê dié man se lidmaatskap is herroep.

“Ons praat nie die optrede van dié vlieënier goed nie en verdra nie enige bedrog nie. Die vereniging verteenwoordig vlieëniers wat vertrou word om hulle te gedra op ’n wyse wat hulself en hul beroep sal bevorder.”

Die SAL het bevestig dat Chandler intussen bedank het en dat die lugdiens ’n klag van bedrog teen hom ingedien het.

Daarby wil die SAL miljoene rande van hom verhaal, wat “onregmatig betaal en as beloning aangebied is”. Dit sluit in sy salaris, oortydbetaling en toelaes.

Volgens die SAL is die onreëlmatigheid rondom die lisensie vasgestel toe ’n voorval tydens ’n vlug na Duitsland op 6 November 2018 op ’n Airbus A340-600 ondersoek is.

Vlug SA260 na Frankfurt het ’n lugsteurnis bo die Switserse Alpe ervaar en dit het veroorsaak dat die vliegtuigenjins vinniger gedraai het as waarvoor dit ontwerp is (oorsnelheid).

Die vliegtuig het veilig geland, sonder skade of beserings vir passasiers, en daar is bevind dat dit lugwaardig is en nie oorlaai was nie.

Toe die personeel egter ondersoek is, is daar gevind dat die senior eerste offisier op die vlug glo valslik aangevoer het dat hy oor ’n ATPL beskik.

Tlali Tlali, SAL-woordvoerder, sê dit is ’n vereiste dat alle vlieëniers van SAL binne vyf jaar van hul indiensneming ’n ATPL kry en dit is deel van die diensvoorwaardes.

Chandler en lede van sy gesin kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Enige vlieënier wat nie dié lisensie kry nie, kan deur die lugdiens afgedank word.

“Om met die beweerde vervalste lisensie te vlieg het nie enige gevare vir SAL se bedrywighede ingehou nie. Die vlieënier het ’n kommersiële vlieglisensie gehad en slegs die vlug gemonitor.”

Tlali sê Chandler het al die vereiste opleiding voltooi en ’n kommersiële vlieglisensie laat vlieëniers toe om ’n passasiersvliegtuig te vlieg.

“Dit is egter verontrustend dat daar ’n wanvoorstelling was oor die tipe lisensie waaroor die vlieënier beskik. Hy is bevorder en teen ’n hoër skaal vergoed op die grond van die wanvoorstelling dat hy ’n ATPL gehad het.”

Volgens Tlali was dit voorheen die praktyk dat ’n vlieënier wat die BLO se eksamens vir die ATPL geslaag het die sertifikaat aan die SAL sal oorhandig vir verwerking.

Dit is nou verander sodat die SAL self die uitslae en sertifikaat van die BLO kry.

“Ons het alle SAL-vlieëniers se lisensiedokumente aan die BLO gestuur om na te gaan en te oudit. Volgens ’n steekproef is daar tot op hede geen onreëlmatighede nie.”

Die SAL het in die boekjaar geëindig 31 Maart 2017 ’n verlies van R5,7 miljard gely.

Luidens die finansiële state vir die boekjaar 2016-’17 was die SAL-groep se salarisrekening R6,131 miljard vir sy 10 071 werknemers.

Chandler en lede van sy gesin kon nie vir kommentaar bereik word nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.