Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Blompot-moord: Man sê ouer vrou het by hom ‘aangelê’

Die vermeende moordenaar van ’n 53-jarige vrou van Kaapstad hou vol dat hy onskuldig is en dat sy in 2017 by hom “aangelê” het voordat sy met ’n blompot in haar huis doodgeslaan is.

Reghard Groenewald (24) stap Woensdag uit die hofsaal van die hooggeregshof in Kaapstad. Voor hom is adv. Ross McKernan, sy regsverteenwoordiger. Foto: Adrian de Kock

Reghard Groenewald (24) het Woensdag in die hooggeregshof in Kaapstad skuld ontken op die klagte van roof met verswarende omstandighede en moord met voorbedagte rade op Hilary van Rooyen, die ma van een van sy vriende.

Hy voer aan dat hy nie die besonderhede van die voorval goed kan onthou nie, dat hy oorweldig van emosie was en onder die invloed was van dagga, wat hy glo gereeld rook.

Van Rooyen se lyk is op 9 Mei 2017 in haar huis in Eversdal, Durbanville, gevind nadat Groenewald glo vir haar gekuier het.

Die staat voer aan Groenewald het Van Rooyen van haar selfoon en huissleutels beroof en dat hy haar met sy hande en ’n blompot aangerand het. Ook dat hy beplan het om Van Rooyen te vermoor.

Luidens ’n verklaring van Groenewald wat aan die hof voorgelees is, is hy ’n vriend van Van Rooyen se jongste seun, Luke (24). Hulle het mekaar ontmoet toe hulle leerlinge aan die Hoërskool Stellenberg was.

’n Paar weke voor die moord op Van Rooyen was Groenewald by haar huis vir ’n spitbraai voordat Luke na Londen sou vertrek om daar te gaan werk.

Hilary van Rooyen Foto: Verskaf

Volgens Groenewald het Van Rooyen hom toe genooi om te kom kuier voordat hy self oorsee sou gaan vir werk.

Hy het op 8 Mei die gimnasium waar hy geoefen het verlaat en besluit om vir Van Rooyen te kuier, waar hulle toe koffie gedrink en sigarette gerook het.

Daarna het hy glo sowat 150 m in die straat af gery toe sy motor sonder petrol gaan staan. Hy het dit na ’n vulstasie gestoot. Hy het daar besef dat hy nie geld vir petrol het nie en hy is terug na Van Rooyen se huis om geld by haar te leen.

“Ek wou nie hê my meisie moet weet dat ek nie geld gehad het en dit moes leen nie. Ek het vir haar gesê dat ek die volgende dag moet teruggaan om te help om bokse te skuif.”

Groenewald sê hy het die dag van Van Rooyen se dood die oggend ongeveer ’n halwe gram dagga gerook, by die gimnasium gaan oefen en R100 by sy ma geleen om Van Rooyen terug te betaal.

Sy het aan my broekspype gegryp en aanhoudend gesê sy gaan my meisie vertel dat ek met haar probeer slaap en haar geslaan het.

Hy is weer ingenooi vir koffie en sigarette. Hy het homself daarna verskoon, maar Van Rooyen het glo gevra of hy nie wil bly vir nog koffie nie.

“Ek het nee gesê en kombuis toe gegaan om die beker in die wasbak te sit. Sy het van agter af naby my beweeg om haar beker in te sit en het haar borste in my hand gedruk.”

Luidens Groenewald se verklaring het hy “baie vreemd gevoel” en na die voordeur geloop terwyl Van Rooyen hom gevolg en hom gevra het om langer te bly.

“Ek het ongemaklik begin voel en sy het haar rug na die deur gedraai. Ek het haar bedank vir die koffie en sy het gesê hoe baie sy my gaan mis en in my oë gestaar. Sy het na my toe beweeg vir ’n drukkie en haar hande op my boude gesit.”

Volgens Groenewald het hy probeer wegtrek, maar sy al hoe stywer vasgehou en hy het haar toe weggestoot.

“Op dié punt het ek vies geraak omdat sy sterk by my aangelê het. Ek het haar gevra wat sy aanvang. Sy het baie ontsteld geraak, ’n stryery het gevolg en sy het gevra of ek haar nie aantreklik vind nie.”

Groenewald sê hy het paniekerig en vasgekeer gevoel omdat hy nie die huis kon verlaat nie.

Reghard Groenewald Woensdag in die beskuldigdebank in die hooggeregshof in Kaapstad.Foto: Malherbe Nienaber

Hy beweer dat Van Rooyen sy hand toe gegryp het en gesê het “kom aan”, waarna hy haar teen die bors gestamp en sy geval het.

“Sy was byna knielend en het histeries uitgeroep ‘kyk wat het jy gedoen, jy het my aangerand’. Sy het aan my broekspype gegryp en aanhoudend gesê sy gaan my meisie vertel dat ek met haar probeer slaap en haar geslaan het.”

Dit was toe dat Groenewald sê hy die naaste voorwerp op ’n tafel gegryp het en haar vinnig twee keer daarmee geslaan het.

“Dit was die blompot en dit het so vinnig gebeur. Ek was in skok en het afgestomp gevoel.”

Groenewald het toe Van Rooyen se selfoon en die huis se sleutels gevat en in sy motor weggery, waarna hy dié besittings later uit die voertuig gegooi het.

“Ek het nie geweet wat om te doen nie en het gedink ek het haar doodgemaak.”

Daarna het hy ’n gram dagga gerook, en ook die oggend voordat hy in hegtenis geneem is. Hy hou vol dat hy met die polisie saamgewerk het en gesê het wat hy die dag gedoen het.

“Toe sy gedreig het dat sy gaan vertel dat ek met haar wou slaap en haar aangerand het, was ek uiters angstig en paranoïes. Ek kon nie my emosies in toom hou nie en ek het diep berou vir my dade.”

Groenewald is in Mei 2017 op borgtog van R3 000 vrygelaat.

Van Rooyen se man, Derick, het Woensdagoggend getuig dat hy gelukkig getroud was en dat sy vrou in hul huis ekstra klasse vir leerlinge gegee het.

Hul oudste seun, Dean, het sy ma se lyk in die huis gesien toe hy gaan ondersoek instel het nadat haar huissleutels in die pad opgetel is.

Meer oor:  Reghard Groenewald  |  Hilary Van Rooyen  |  Kaapstad  |  Roof  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.