Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Blompotmoord: Groenewald ‘moet liefs korter vonnis kry’

’n Maatskaplike werker het getuig dat Regard Groenewald nie dieselfde mens is as wat hy twee jaar gelede was toe hy Hilary van Rooyen in haar huis in Durbanville met ’n blompot vermoor het nie.

Arina Smit neem ’n blaaskans tydens haar getuienis in die hooggeregshof in die Wes-Kaap. Foto: Adrian de Kock

Arina Smit, wat met die opstel van haar verslag oor Groenewald nog by Nicro gewerk het, het Woensdag in die hooggeregshof in Kaapstad in sy vonnisverrigtinge getuig. Groenewald se regspan het haar as getuie geroep om ter versagting van vonnis te getuig.

Groenewald is in Mei deur regter Daniël Wille skuldig bevind aan moord. Op die aanklag van roof met verswarende omstandighede het Wille bevind daar is nie genoeg bewyse om hom hieraan skuldig te bevind nie. Hy het dus ’n bevoegde uitspraak van diefstal – ’n mindere oortreding – ten opsigte van dié aanklag gemaak.

Van Rooyen is op 9 Mei 2017 dood gevind in haar huis in Durbanville, Kaapstad, met ’n gebreekte glasblompot naby haar lyk. Groenewald het die blompot gebruik om Van Rooyen minstens twee keer met mag teen die kop te slaan nadat sy glo by hom aangelê het. Groenewald het ter verdediging getuig hy het ongemaklik geraak en Van Rooyen geslaan met die eerste voorwerp waarop hy sy hande kon lê.

Smit het ’n onderhoud met Groenewald gevoer toe hy nog van plan was om skuld te beken aan die moord, maar met die aanvang van die verhoor het hy skuld ontken. Sy het erken dit sou ’n impak gehad het op haar verslag indien sy geweet het hy was van plan om skuld te ontken.

Omdat sy onder die indruk was dat hy skuld sou beken, was dit haar mening dat Groenewald ’n mate van berou getoon het en dus ook ’n laerisiko-misdadiger is – iemand wat nie sommer weer ’n soortgelyke misdaad sal pleeg nie.

Regard Groenewald buite die hooggeregshof in Kaapstad. Foto: Adrian de Kock
Regard Groenewald verlaat die hooggeregshof Woensdag tydens die middagete-breek. Foto: Adrian de Kock
Regard Groenewald sit in die hof voordat sy vonnisverrigtinge Woensdag begin. Foto: Adrian de Kock

Smit het getuig hy is nie ’n gevaar vir die samelewing nie. Sy het wel ook getuig hy het die emosionele gedrag van iemand tussen sewe en 11 jaar oud. Die staat het vir Smit gevra of dit dan nie juis van Groenewald ’n groter risiko vir die samelewing maak nie, waarop sy geantwoord het dat dit ten tyde van die voorval was en dat hy sedertdien sy optrede verwerk het.

Smit het in haar verslag ’n straf van sewe jaar tronkstraf, waarvan ’n deel opgeskort is met korrektiewe toesig, voorgeskryf.

Arina Smit, maatskaplike werker, kyk vir adv. Ross McKernan toe die hof Woensdag verdaag het. Foto: Adrian de Kock

Wille het Smit oor hierdie aspek gepols en wou weet waarom, indien hy dan ’n laerisiko-misdadiger is wat glo nie weer ’n soortgelyke misdaad sal pleeg nie, sy wil hê Groenewald moet ook ’n opgeskorte vonnis opgelê word.

’n Opgeskorte vonnis gaan gewoonlik gepaard met die voorwaarde dat die beskuldigde nie weer ’n soortgelyke misdaad sal pleeg nie.

Smit het erken geweld teen vroue is ’n neiging in ons land en dat Groenewald tyd in die tronk moet deurbring, maar dat ’n korter vonnis in hierdie geval beter sal wees.

Langtermyn-gevangenisstraf sal onbillik wees en sy vonnis moet met ’n mate van genade en rehabilitasie gepaard gaan.

Slotbetoë in die saak word Donderdag aangehoor.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.