Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Bo-Kaap-mense verloor appèlsaak oor ‘monstergebou’
’n Kunstenaarsvoorstelling van die beoogde woonstelgebou-ontwikkeling in die Bo-Kaap. Foto: Argief

Die Bo-Kaap-belastingbetalersvereniging se appèlsaak in verband met die Kaapstad-metroraad se goedkeuring van ’n nuwe ontwikkeling in dié gebied, is Dinsdag deur die appèlhof in Bloemfontein met koste van die hand gewys.

Dit kom nadat die hooggeregshof in Kaapstad in 2018 ’n aansoek van die vereniging om die metroraad se goedkeuring vir die ontwikkeling van die woonstelgebou van Buitengracht Properties te hersien en tersyde te stel, ook van die hand gewys het.

Die vereniging het in 2016 beswaar gemaak teen die voorgestelde ontwikkeling van die woonstelgebou van 60 m hoog in die historiese Bo-Kaap.

Die gebou van 18 verdiepings grens aan Buitengracht-, Langmark-, Kortmark- en Rosestraat. Daar is destyds berig die projek se waarde is minstens R1 miljard. Dit sal ook ondergrondse parkeerplek en kommersiële ruimte insluit.

Inwoners het gekla dat die ontwikkeling hul uitsig sal belemmer, hul privaatheid kan skend, die verkeer gaan vererger, en dat dit ’n negatiewe uitwerking op die erfeniswaarde van die gebied sal hê. Meer as 1 000 besware teen die ontwikkeling is by die metroraad ingedien.

Regter Mahomed Navsa van die appèlhof sê in sy uitspraak die kern van die saak handel oor of die metroraad deur sy munisipale beplanningstribunaal (MPT) en die burgemeester ingevolge die wet opgetree het om Buitengracht Properties se aansoek goed te keur.

“Anders gestel is die vraag of die metroraad en die burgemeester behoorlik die erfenisoorwegings in ag geneem het soos voorgeskryf in die wetgewing en beleid, en hulle die beginsels van administratiewe reg nagekom het.”

Die metroraad, MPT, die burgemeester, Buitengracht Properties en Erfenis Wes-Kaap was die respondente in die saak.

Regter André le Grange het vroeër in sy uitspraak in die hooggeregshof bevind dat die goedkeuring en die interne appèlproses daarteen volgens die wet verloop het. Hy het daarop die aansoek om dit te hersien en tersyde te stel, met koste van die hand gewys.

Erfenis Wes-Kaap het die aansoek om hersiening in die hooggeregshof gesteun en ’n verklarende bevel versoek dat ontwikkeling nie sonder ’n permit ingevolge die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne kan voortgaan nie.

Die aansoek om dié bevel is ook van die hand gewys, luidens Navsa se uitspraak.

Die Bo-Kaap-belastingbetalersvereniging het in Februarie in ’n verklaring gesê dat hy appèlhof toe gaan in verband met sy aansoek om die besluit van die MPT op 7 Junie 2016, en die besluit van Patricia de Lille, voormalige burgemeester, oor die interne appèl daarteen op 19 Januarie 2017, te laat hersien en tersyde te stel.

Die bekende kleurryke huise van die Bo-Kaap in Kaapstad.Foto: Jaco Marais

Volgens die vereniging staan die ontwikkeling onder Bo-Kapenaars as die “monstergebou” bekend.

“Die voorstel het massiewe teenstand ontvang van die mense van die Bo-Kaap sowel as ondersteuners oor Kaapstad en die wêreld heen, met meer as 1 200 besware wat ingedien is,” lui die verklaring.

“Indien dit (die ontwikkeling) toegelaat word om voort te gaan, baan dit die weg vir ’n ‘muur’ van 60 m lank se hoë-inkomste-ontwikkelings langs Buitengracht, wat in wese die Bo-Kaap van die middestad sal afsny en die buffersone-mentaliteit van apartheid se ruimtelike beplanning sal versterk.”

• Die volle hofuitspraak kan hier gelees word

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.