Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Bob Hewitt-slagoffer gaan sy parool-aansoek teenstaan
Olivia Jasriel is op 12-jarige ouderdom deur Bob Hewitt verkrag. Sy is Suellen Sheehan gebore. Foto: Taryn van der Merwe

Die oudtennisspeler- en afrigter Bob Hewitt is van plan om in September opnuut aansoek te doen om op parool vrygelaat te word.

Olivia Jasriel, (voorheen bekend as Suellen Sheehan), een van die meisies wat Hewitt op 12-jarige ouderdom verkrag het, sê egter sy gaan hand en tand veg om hom agter tralies te hou.

Die Australies-gebore Hewitt (79) is in Maart 2015 skuldig bevind aan die verkragting van twee tienermeisies wat in die 1980’s tennislesse by hom geneem het.

Hy is ook skuldig bevind aan die onsedelike aanranding van ’n derde meisie en is effektief tot ses jaar tronkstraf gevonnis.

Hy het in September 2016 sy tronkstraf in die St. Albans-gevangenis in Port Elizabeth begin uitdien.

Jasriel het die nuus dat Hewitt op 20 September aansoek gaan doen om parool, Saterdag op ’n fondsinsamelingontbyt wat jaarliks deur die Reeva Rebecca Steenkamp-stigting gehou word, bekend gemaak.

Jasriel was die gasspreker en het in trane van haar nagmerrie-ondervinding, en die herinneringe wat die verhoor teen Hewitt opgediep het, vertel.

Sy vertel haar ouers het op tienjarige ouderdom besluit sy moet by Hewitt tennislesse kry.

Volgens Jasriel het Hewitt haar op 11-jarige ouderdom seksueel begin voorberei, onder meer deur te vra of een van haar vriendinne ’n maagd is.

Hy het ook op die tennisbaan gelê en by hul rompies ingeloer, bo-oor hulle gestaan in ’n kortbroek sonder onderklere aan, en hy het gedurig agter Jasriel gestaan sodat sy sy ereksie teen haar rug kon voel.

Jana van der Merwe
Bob Hewitt. (Photo: Getty Images/Gallo Images)

Sy onthou hoe Hewitt op ’n geleentheid toe hulle in New York was, haar na sy hotelkamer ontbied het deur te sê sy moet die sakgeld wat haar ma gestuur het, kom haal.

“Toe ek in sy hotelkamer kom het hy heeltemal naak op die bed gelê. Ek was heeltemal onkant gevang. Wat vreemd was, is dat sy vrou ook in die hotelkamer was.

“Dit was die dag toe Hewitt my op sy eie stil manier vertel het presies wat hy van plan was om met my te doen.”

In 1982 het Hewitt vir Jasriel gesê haar ma het hom gevra om oor seks met haar te praat. Kort hierna het hy haar een middag by die skool gaan haal en haar verkrag.

“Dit was pynvol en ek was vreesbevange. Toe hy klaar was het hy my badkamer toe gestuur om myself skoon te maak. Hierna het ek vir vier ure tennis gespeel.

“Die mees traumatiese ding, behalwe vir die verkragting, was die reuk wat aan my vasgekleef het. 38 jaar later maak die walglike reuk my steeds naar.”

Jasriel het vertel hoe sy twee weke na die insident haar ma in haar vertroue geneem het deur haar te vertel wat gebeur het, maar haar ma het haar nie geglo nie.

Die mishandeling het voortgeduur totdat Jasriel se ouers drie of vier jaar later dit nie meer kon bekostig om Hewitt as haar afrigter te betaal nie.

Hoewel Jasriel probeer aanbeweeg het met haar lewe, was ’n mislukte huwelik en verhoudings, en ’n mislukte selfmoordpoging bewys daarvan dat die verkragtings haar nog erg emosioneel en sielkundig geknou het.

Sy bieg sy sou nooit kon dink dat haar bereidwilligheid om te praat oor wat met haar gebeur het, ’n web sou oopvlek van Hewitt se beweerde seksdade met jong meisies van oor die wêreld heen nie.

Deur uit te praat het haar egter ook duur te staan gekom met dié dat sy vir ’n lang tyd nie werk kon kry nie, en verhoudings met vriende en familie op die rotse beland het.

Jasriel bemoei haarself deesdae daarmee om te probeer seker te maak dat kinders wat aan verskillende sportsoorte deelneem, veilig is, sowel as met motiveringspraatjies.

Sy wil skole en sportinstansies sover kry om die agtergrond en die geskiedenis van die afrigters van skoolkinders deeglik na te gaan.

Tania Koen van Port Elizabeth gaan in September namens Jasriel optree teen Hewitt se paroolaansoek.

* Die geld wat ingesamel is met die ontbyt van die Reeva Rebecca Steenkamp-stigting, dra elke jaar by tot ’n beurs vir ’n student in die finale jaar van haar regstudies en wat ’n gesinsadvokaat wil word. Vanjaar het drie studente daarby baat gevind.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.