Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Bodi kry 5 j. vir krieketknoeiery
Bodi se regsverteenwoordiger het reeds aangedui hulle gaan teen die vonnis appelleer. Foto: Deaan Vivier

Die voormalige Protea-krieketspeler Gulam Bodi is Dinsdag in die handelshof in Pretoria vyf jaar tronkstraf vir krieketknoeiery opgelê.

Bodi (40) wil teen die uitspraak, waarvolgens hy ná tien maande in aanmerking kom vir parool, appelleer.

Bodi is vyf jaar tronkstraf opgelê weens korrupsie in sport. Hy sal ná tien maande in aanmerking kom vir parool. Foto: Deaan Vivier

Hy is vroeër, in wat ’n eerste strafregsaak in sy soort in Suid-Afrika is, skuldig bevind aan agt aanklagte wat met korrupsie in sport verband hou.

Die hofsaak volg nadat Bodi na bewering omkoopgeld aanvaar het om op te tree as ’n middelman tussen Indiese krieketknoeiers en ander Suid-Afrikaanse krieketspelers wat destyds gekontrakteer is om in die plaaslike Ram Slam T20-kriekettoernooi van 2015 te speel.

Die hof het bevind Bodi, wat verlede jaar in hegtenis geneem is, het honderdduisende rande aan sekere spelers belowe om dele van wedstryde op ’n spesifieke manier te speel.

Dié spelers word ook deur vervolging in die gesig gestaar.

Landdros Nicca Setshogoe het in haar uitspraak klem geplaas daarop dat korrupsie ’n ernstige oortreding in Suid-Afrika bly – of dit nou in sport of in die regering plaasvind.

“Hierdie oortreding moet nie anders gesien word as korrupsie wat deur openbare amptenare gepleeg word nie. Dít omdat korrupsie skade kan doen aan die beeld en integriteit van sport, wat swaar op borgskappe steun,” het Setshogoe gesê.

Die landdros het verwys na die voormalige Protea-krieketkaptein Hansie Cronjé wat weens beweerde wedstrydknoeiery lewenslank uit krieket geskors is. Daar is egter geen aanklagte teen Cronjé voor sy dood in 2002 ingedien nie.

Gulam Bodi, ’n voormalige Protea-aanvangskolwer, kom Dinsdag voor sy hofverskyning by die handelshof in Pretoria aan. Foto: Deaan Vivier

Krieket Suid-Afrika het Bodi reeds effektief vir 15 jaar uit deelname aan krieket geskors. Hy het sy werk as krieket-kommentator verloor en werk die afgelope ruk by ’n klein slagplaas.

Setshogoe sê sy het Bodi se skorsing in ag geneem toe sy oor die vonnis besluit het. Sy het ook daarop ag geslaan dat Bodi skuld beken en om verskoning gevra het, asook dat sy drie kinders deels finansieel van hom afhanklik is.

Die versagtende omstandighede het volgens Setshogoe egter nie swaar genoeg geweeg dat Bodi tronkstraf vryspring nie.

“Ek glo die vonnis is lank genoeg om die beskuldigde te rehabiliteer en dat hy later ander kan waarsku oor die gevare van korrupsie in sport,” sê Setshogoe.

Bodi se regsverteenwoordiger, Oelof de Meyer, het onmiddellik ná die uitspraak opgestaan en aan die landdros gesê sy kliënt gaan teen die uitspraak appelleer.

“Ek sê nie die hof is verkeerd nie. Al wat ek sê, is dat ’n ander hof moontlik tot ’n ander gevolgtrekking sou kom,” het De Meyer gesê.

Hy sal later die aansoek om verlof tot appèl by die hof indien. Bodi verbeur sy borgtog en is nou agter tralies.

Bodi was destyds ’n professionele krieketspeler wat vir die Lions, Dolphins en Titans gespeel het. Hy het ook Suid-Afrika in enkele eendagwedstryde verteenwoordig.

Hy het in Januarie 2015 sy laaste eersteklaswedstryd gespeel.

Krieket Suid-Afrika het nie dadelik op navrae gereageer nie.

Meer oor:  Gulam Bodi  |  Tronkstraf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.