Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
KYK: Boer aangekeer weens oproer in Senekal

André Pienaar, ’n boer van Senekal, is Woensdag in hegtenis geneem in verband met Dinsdag se oproer by die landdroshof in dié dorp.

’n Groep boere het Dinsdag by die hofgebou ingestorm op soek na Sekwetje Mahlamba (32) en Sekola Matlaletsa (44), die twee moordbeskuldigdes wat vroeër die dag daar verskyn het.

Mahlamba en Matlaletsa word aangekla van die moord op Brendin Horner (22) wat naby Paul Roux by ’n plaashek vermoor is.

Andrepienaar
André Pienaar sê aan die polisie hulle moet die moordbeskuldigdes gaan haal dat hulle die boere kan sien.

Piet Coetzer, ’n vriend van Pienaar, het aan Netwerk24 bevestig dat hy in hegtenis geneem is en in Bethlehem aangehou word.

“Hulle het nogal sewe polisievoertuie gestuur om hom te kom haal,” sê Coetzer op Facebook.

Dit kom nadat Bheki Cele, minister van polisie, Dinsdagaand geëis het dat die betrokke boere in hegtenis geneem word weens die geweld by die hof.

Die polisie het bevestig dat ’n 52-jarige boer van Marquard, wat in Senekal bly, op aanklagte van openbare geweld en kwaadwillige saakbeskadiging in hegtenis geneem is.

Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, sê nog inhegtenisnemings word verwag.

Lt.genl. Baile Motswenyane, provinsiale kommissaris, het die span geloof vir die vinnige optrede en sê dat verhoudinge tussen boere en die polisie herstel moet word.

Intussen heers daar kommer oor die veiligheidsituasie in die dorp nadat Julius Malema, EFF-leier, lede van die party aangehits het om in Senekal saam te trek.

“Genoeg is nou f*kken genoeg!” lui die plakkaat by 'n brandende polisievangwa voor die hof in Senekal. Omgekrapte boere het die vangwa aan die brand gesteek met die verskyning van die twee vermeende moordenaars van Brendin Horner. Die betogers het eers die polisievangwa omgegooi en dit later aan die brand gesteek. Op die voorwiel kan ’n vloeistof gesien word wat ’n betoger daarop gegooi het kort voordat hy dit aan die brand gesteek het. Foto: Mlungisi Louw
Die oomblik wat die gemoedere in Senekal laat oorkook het. André Pienaar, ’n boer van Senekal, het ’n emosionele toespraak gehou buite die hof waar die vermeende moordenaars van Brendin Horner Dinsdag verskyn het. Hy het sy toespraak afgesluit met die woorde: “Kom ons gaan haal hulle uit!” Hierop het ’n stormloop na die hofgebou gevolg, waar ’n polisiebeampte hulle wou voorkeer. Pienaar is Woensdag deur die polisie in hegtenis geneem en word volgens bronne in Bethlehem aangehou. Foto: Cheréne Pienaar

Malema het op Twitter gesê pres. Cyril Ramaphosa is “te bang om beslissend op te tree” en dat die EFF se “troepe op grondvlak en vredeliewende Suid-Afrikaners” die twee aangeklaagdes se volgende hofverskyning moet bywoon.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê die geweld by die hof in Senekal is veroorsaak “omdat boere getart is”, en dat dit ’n geïsoleerde voorval was.

Die protes was in die algemeen vreedsaam en die boere se optrede “moet teen die agtergrond van die uittarting” beoordeel word.

Cele se uitsprake dat hy “geskok en gewalg” is oor die optrede van die boere by die hof en die uitsprake van Ronald Lamola, minister van justisie, dat sulke optrede “anargistiese geweld” is wat nie geduld kan word nie, is niks anders as dubbele standaarde nie.

Groenewald sê toe die EFF Clicks-winkels geplunder het, het hierdie ministers nie sulke sterk uitsprake gemaak nie

’n Polisiebeampte kyk toe hoe ’n polisievangwa brand nadat boere die voertuig buite die landdroshof in Senekal aan die brand gesteek het. Foto: Mlungisi Louw

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.