Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Boer ‘kuier’ weer met familie wat teen hom getuig

’n Vrystaatse boer wat tronkstraf vrygespring het in die opspraakwekkende Parys-moordsaak, sê hy het vrede gemaak met sy familielede wat vroeër teen hom gedraai en teen hom getuig het.

Boeta van der Westhuizen Foto: Deon Raath

“Ons is oor dit. Ons het vrede gemaak met die verlede. Ons kuier nou weer gereeld saam as ’n familie,” sê Boeta van der Westhuizen (51).

Regter Corné van Zyl het hom en Anton Loggenberg (55) Vrydag elkeen tot 15 maande korrektiewe toesig (huisarres) gevonnis. Hul seuns, Loedie van der Westhuizen jr. (23) en Cor Loggenberg (24) en Boeta se skoonseun, Miela Jansen van Vuuren (28), het opgeskorte tronkstraf gekry.

Die regter het tydens vonnisoplegging gesê hoewel die vyf mans van moord aangekla is, kon die staat nie bewys hulle is vir Samuel Tjixa (35) en Simon Jubeba (29) se dood verantwoordelik nie.

Tjixa se ma kry swaar.

Die vyf boere is verlede jaar skuldig bevind aan aanranding en aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Tjixa en Jubeba is op 6 Januarie 2016 deur boere aangekeer omdat hulle Boeta se pa, Loedie sr., glo op sy plaas aangeval het.

Die twee is erg aangerand en het ’n dag later beswyk.

Anton Loggenberg vroeër in die hof. Foto: Elizabeth Sejake

Die Van der Westhuizen-familie het vroeër in twee geskeur toe aanklagte van moord teen drie van Boeta se kleinneefs, Wian (24), Wikus (23) en Müller van der Westhuizen (23) teruggetrek is sodat hulle vir die staat kon getuig.

Hulle en Fanie Oosthuizen (43) het in 2016 ’n ooreenkoms aangegaan om as staatsgetuies op te tree.

Die staat het swaar op hul getuienis geleun.

Tog het Van Zyl hul getuienis verwerp en die vyf op grond van hul eie getuienis en verklarings aan aanranding skuldig bevind.

Van links is Cor Loggenberg met die swart baadjie, Loedie van der Westhuizen en Miela Jansen van Vuuren vroeër in die hof. Foto: Elizabeth Sejake

Boeta sê die saak het hom R8,5 miljoen uit die sak gejaag.

“Ek het nog my plaas, maar ek het baie skuld uitgeneem wat ek nou moet afbetaal.”

Hy was nooit gepla oor die uitspraak nie, want hy het in sy “getuienis geglo”. Hy is ook bly die saak is nou afgehandel sodat hy en sy gesin kan aangaan met hul lewens.

Anton Loggenberg sê hy is dankbaar oor die hof se regverdige uitspraak.

“Dit is moeilik om te glo dat ek en my familie ná meer as vyf jaar in een stuk hierdeur is. Dit is met die krag van Bo wat ons dit reggekry het.”

Hy sê hy kan nog nie presies sê hoeveel die saak hom gekos het nie, maar hy moes meer as 200 Brahmanbulle – bykans sy hele stoet – verkoop om sy regskoste te betaal. “Dit het vir my groot finansiële skade berokken.”

Sy familie se bystand en sy werkers en ander mense se geloof in sy onskuld het vir hom baie beteken.

“Dit het my geestelik versterk elke keer wanneer iemand vir my gesê het hulle weet ek is ’n goeie mens en dat hulle my ondersteun.”

Sy vrou, Gusta, sê die saak was ’n aaklige hoofstuk in hul lewens, maar dit het hul gesin uiteindelik nog nader aan mekaar gebring.

“God het ons vasgehou en elkeen van ons is dankbaar daarvoor.

“Soms kan dit wat sleg is in jou lewe, jou nader aan God laat groei. Ons het hieruit geleer om positief te wees en om in moeilike tye vas te hou aan ons geloof,” sê sy.

Tjixa se ma, Ruth Quebeka, het ná vonnisoplegging aan Netwerk24 gesê die familie is moeg en kry swaar. Sy sê haar seun was nie ’n misdadiger nie en het vir haar gesorg.

Boeta het aangebied om R20 000 elk vir haar en Jubeba se families te betaal.

Van Zyl het dit ’n bevel van die hof gemaak. Hy moet die geld teen 1 Oktober betaal.

Boeta en Anton moet ook elkeen 160 uur gemeenskapsdiens verrig.

Cor Loggenberg is tot ’n jaar tronkstraf gevonnis, Loedie van der Westhuizen tot 15 maande en Janse van Vuuren tot tien maande.

Janse van Vuuren se straf is voorwaardelik vir twee jaar opgeskort en die ander twee s’n vir drie jaar.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.