Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Boer, seuns, plaaswerkers vry ná moordklagte

’n Boer in Noordwes is dood enkele maande voordat ’n moordsaak teen hom, sy seuns en hul plaaswerkers Maandag in die hooggeregshof in Mmabatho teruggetrek is.

Theo Scholtz se dogter, Annemarie, is oortuig haar pa se dood op sy 61ste verjaardag op 27 Julie 2020 was deels weens die moordsaak wat vir byna twee jaar soos ’n donker wolk oor hul kop gehang het.

Scholtz, wat op die plaas Regina naby Stella geboer het, is dood aan hartversaking op die dag wat die verhoor sou begin. Dis egter uitgestel. Annemarie sê haar pa, wat aan emfiseem gely het, het die week van sy dood “begin moed opgee en ophou eet”.

“Ek dink die spanning was net te veel. Hy kon nie op 27 Julie hof toe gaan nie omdat hy te swak en in die hospitaal was. Hy het gesê hy voel ‘soos ’n sleg ding’ dat my twee broers en die werkers alleen hof toe moet gaan.

“Ek kan nie beskryf waardeur ’n mens gaan wanneer jy weet jou mense het niks gedoen, maar daar is absoluut niks wat jy kan doen om die ongeregtigheid weg te vat nie. Dit was erg vernederend. Ons dank die Here ons mense het hul vryheid en eer terug, en dat geregtigheid geskied het.”

Emosionele oomblikke het in die landdroshof in Vryburg afgespeel toe die sewe beskuldigdes in Februarie 2019 aansoek om borgtog gedoen het. Hier verberg Theo Scholtz sy gesig in sy hande, terwyl sy broer, Christo, hul pa, Theo sr., bemoedig. Foto: Susan Cilliers
Francois Fortuin, die beskuldigdes se prokureur, praat tydens die mans se borgtogaansoek in Februarie 2019 met Theo Scholtz sr. Hy was met ’n rolstoel en suurstofmasjien in die hof. Scholtz, wat aan emfiseem gely het, is intussen dood. Foto: Susan Cilliers

Scholtz, sy twee seuns, Christo (25) en Theo jr. (28), asook hul plaaswerkers, Katlego Moholo (30), Modisaotsile Links (28), Abel Thamele (31) en Tshepiso Thlameng (31), het tereg gestaan op aanklagte van moord en menseroof. Dít nadat Ben Molwele (52) se erg ontbinde lyk op 10 Februarie 2019 op die N18-hoofweg naby Stella gevind is.

Die staat het aangevoer die werkers het Molwele op 17 Januarie 2019 in ’n stoor op die Scholtze se plaas betrap. Hy is toe glo aangerand, op ’n bakkie gelaai en langs die snelweg gegooi.

Met die mans se borgtogaansoek in Februarie 2019 het EFF-ondersteuners die landdroshof in Vryburg vol gesit en die Scholtz-familie uitgejou voordat die sewe mans op borgtog vrygelaat is. Almal het van die begin af skuld ontken.

EFF-lede jou die Scholtz-familie in die hof uit toe die sewe beskuldigdes in Februarie 2019 om borgtog aansoek gedoen het. Foto: Susan Cilliers

Theo jr. sê hoewel hy nou verlig en bly is, is hy kwaad omdat hul lewe vir twee jaar tot stilstand geruk is.

“Ek voel tien jaar ouer. ’n Mens kan niks beplan nie, want jy weet nie wat gaan gebeur nie. Die saak het ons by die R300 000 gekos. Alles was onnodig. Ons is by die hof gevloek, al was daar van die begin af geen bewyse nie.”

Vir Christo voel dit nog onwerklik dat die saak teruggetrek is.

“Dis vir die werkers ook ’n groot verligting. ’n Berg is van ons skouers af. Vir twee jaar was die saak die eerste ding waaraan jy dink wanneer jy wakker word en die laaste ding wanneer jy gaan slaap. Die voel of ons nou skielik ’n ander lewe leef.”

Theo en Christo boer deesdae op hul pa se plaas met saaigewasse soos sonneblomme en mielies.

Vry: Theo Scholtz, Tshepiso Thlameng, Abel Thamele, Modisaotsile Links, Katlego Maholo en Christo Scholtz Foto: Verskaf

Trane van verligting het Maandag ook oor hul ma, Elsabé, se wange gerol toe sy in die hooggeregshof hoor al die aanklagte word teruggetrek.

“Christo het gehuil, my ma het die werkers ’n drukkie gegee,” sê Annemarie.

“Ek wens my pa was hier om te beleef hulle is vry van al hierdie gemors.”

Francois Fortuin, al die mans se prokureur, sê die saak is teruggetrek nadat hy en hul advokaat, Ferdi van Heerden, vertoë daarvoor aan die direkteur van openbare vervolging in Noordwes gerig het omdat daar geen bewyse teen die beskuldigdes is nie.

“Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het ons verlede week in ’n brief in kennis gestel die saak gaan teruggetrek word omdat daar nie ’n redelike vooruitsig op suksesvolle vervolging is nie.”

Die NVG in Noordwes het beloof om binnekort kommentaar te lewer. Die werkers self kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Geen bewyse

Tydens die mans se borgtogaansoek in Februarie 2019 het landdros Johan Pretorius die polisie behoorlik die kop gewas omdat die sewe beskuldigdes in hegtenis geneem is terwyl daar geen bewyse teen hulle was of die lykskouing afgehandel is nie.

Ben Molwele se oorskot was so erg ontbind dat die oorsaak van sy dood nie bepaal kon word nie. Daar was ook geen tekens van beenbreuke of enige ander trauma weens aanranding nie. Die polisie kon ook nie sê of enige van die sogenaamde ooggetuies gesien het hoe Molwele vermoor of ontvoer word nie.

Konst. Piet Mokgothu, die ondersoekbeampte, het destyds in ’n verstommende wending self getuig “hy weet nie hoe Molwele dood is en wie hom doodgemaak het nie.”

Meer oor:  Stella  |  Noordwes  |  Mmabatho  |  Plaaswerkers  |  Seuns  |  Boer  |  Nvg  |  Moordklagte  |  Moord  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.