Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Nóg plase, nóg moorde – en weer ruk boere op
Mark Regal saam met sy gesin. Agter is sy seun, Blake (18,) en Mark se vrou, Angela. Sy dogter, Kiara (17), sit voor by hom. Foto: Facebook

Boere sal Maandag wéér na ’n Vrystaatse landdroshof opruk om te betoog teen plaasmoorde. Hierdie keer is dit na Hennenman en dié keer is dit oor Pieter Hills en Eddie Hills, en Mark Regal.

Pieter Hills en sy seun Eddie is verlede Donderdagaand op die plaas Zwartpan in Hennenman aangeval. Pieter het op die toneel gesterf en Eddie het Woensdag in ’n Johannesburgse hospitaal aan sy wonde beswyk. Ure later het ’n gewapende aanvaller Mark Regal (50) ten aanskoue van sy vrou op hulle familieplaas, Thelma, by Odendaalsrus doodgeskiet.

Angela Regal (47) het op die huis se stoep gesit toe twee mans op haar afgestorm het. Sy het haar vuurwapen by haar gehad en op die aanvallers losgebrand en een van hulle noodlottig gewond. Die ander aanvaller het op Mark, wat op daardie oomblik by die deur uitgekom het, geskiet en daarna op die vlug geslaan. Mark en die gewonde aanvaller is op die toneel dood.

Die egpaar het onlangs, ná die dood van Mark se ma in Julie, verhuis na die plaas wat al sedert 1952 in die familie se besit is. Hulle wou nader wees aan sy pa, Joe, ’n internasionaal bekende taksidermis en boer.

Joe en een van sy ander seuns, Nathan, was uitstedig ten tyde van die aanval, maar dit was Nathan wat met ’n WhatsApp-boodskap hulp van omliggende boere ontbied het.

“Almal, help asseblief. Plaasaanval by Joe Regal. Ek en Joe sit in Jeffreys. My broer is geskiet. Mark is op die plaas geskiet. Op die Thelma-plaas in Odendaalsrus. Dankie,” lui die noodkreet. Boere van die omgewing, buurtwagte en die polisie het hulle na die plaas gehaas en ’n grootskaalse, maar vrugtelose soektog na die voortvlugtige aanvaller begin.

Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, het in reaksie op Regal se moord gesê: “Ons land het nóg ’n boer, ’n voedselprodusent, verloor. Die misdaadaanslag op die landbousektor en in ons land duur onophoudelik voort en dit is onaanvaarbaar. Landbouers, maar ook die publiek as ’n geheel, is nie meer bereid om dit te aanvaar nie.”

Hy het boere, namens Vrystaat Landbou, aangemoedig om Maandag die borgtogaansoek van Pieter en Eddie Hills se vermeende moordenaars by te woon. “Howe moet kennis neem van die publiek se woede en frustrasie met moord in die landelike gebiede. Die hof moet ons in ag neem wanneer borgtog oorweeg word aan beskuldigdes wat misdade in landelike gebiede pleeg, spesifiek plaasmoorde,” het Wilken gesê.

Mark RegalFoto: Facebook

Jan van Niekerk, leier van die VF Plus in die Vrystaat, het gesê: “Die Goudveld is ’n duidelike brandpunt met die jongste plaasmoord op Mark Regal, wat die vyfde plaasmoord in ’n baie kort tydsbestek in dié gebied is.”

Hy meen die oomblik wat die politieke wil bestaan om landelike gebiede te beveilig tesame met behoorlike strafmaatreëls, sal daar ’n drastiese afname in plaasaanvalle en -moorde wees.

“Dié antwoord is tog voor die hand liggend. Die president se stilswye oor plaasmoorde, maar vinnige reaksie op die gebeure in Brackenfell waar die EFF en ouers van die Hoërskool Brackenfell oor ’n private partytjie slaags geraak het, stuur ’n duidelike boodskap aan minderhede dat hulle geminag word,” het Van Niekerk gesê.

Hy het ’n hernude beroep gedoen op boere om betrokke te raak by veiligheidsplanne in hul gemeenskap.

Wilken het op sy beurt gesê alle organisasies en lede van die publiek is welkom om Vrystaat Landbou te kontak vir meer besonderhede oor Maandag se beoogde protes op Hennenman.

Hy sê die VL sal toesien dat die protes op die veldtog van #StopPlaasmoorde fokus.

“Deelname is vrylik, maar met die versoek om te alle tye binne die wet en die protesreëlings op te tree,” het Wilken gesê.

Meer oor:  Mark Regal  |  Eddie Hills  |  Pieter Hills  |  Hennenman  |  Plaasmoorde  |  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.