Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Boeremag-3 wil dadelik vrygelaat word

Drie voormalige Boeremaglede sê hul verhoor was “onwettig” en eis dat hulle onmiddellik vrygelaat word.

Lets Pretorius (73) en sy seuns Johan (47) en Wilhelm (41) het Dinsdag die aansoek in die hooggeregshof in Pretoria voor regter Peter Mabuse ingedien.

Riëtte Pretorius, wat met die veroordeelde Wilhelm Pretorius getroud is, was Dinsdag saam met haar skoonma Minie Pretorius (regs) in die hof gewees waar haar man, swaer en skoonpa gevra het om permanent vrygelaat te word. Foto: Isabel Venter

Die drie is daaraan skuldig bevind dat hulle die ANC-regering in die vroeë 2000’s wou omverwerp en is in 2013 gevonnis. Lets is 20 jaar tronkstraf vir hoogverraad opgelê, en sy seuns 25 jaar tronkstraf vir hoogverraad, vyf jaar vir strafbare manslag en agt jaar vir sameswering om oudpres. Nelson Mandela te vermoor.

Adv. Hercules Booysen, die mans se regsverteenwoordiger, het die regmatigheid van sy kliënte se aanhouding en verhoor bevraagteken. Hy meen sy kliënte se regte is tydens en ná hul strafsaak vertrap.

Hul aansoek is gegrond op art. 35 van die Grondwet wat bepaal dat “elkeen wat aangehou word die reg het om die wettigheid van die aanhouding uit te daag, en as dit onwettig is, moet die persoon vrygelaat word”.

Booysen sê die verhoorregter was partydig en hulle het geruime tyd tydens die verhoor, wat tien jaar geduur het, nie ’n regsverteenwoordiger gehad nie.

Booysen het die vonnis wat sy kliënte opgelê is as skokkend beskryf en gesê die hele verhoor was onwettig.

“Wetgewing bepaal dat assessore slegs tot met skuldigbevinding dien. In hul strafsaak het die assessore gedien tot aan die einde van die vonnis en dus was die samestelling van die regbank onwettig,” sê Booysen.

Die Pretoriusse sukkel ook al meer as vyf jaar om ’n appèlaansoek teen hul vonnisoplegging te bring.

Die Pretoriusse sukkel ook al meer as vyf jaar om ’n appèlaansoek teen hul vonnisoplegging te bring.

Art. 35 bepaal dat ’n aangeklaagde “die reg op ’n billike verhoor het, dat dit sonder onredelike vertraging afgehandel word en die reg op appèl deur ’n hoër hof”.

Volgens Booysen weier die staat om die volledige en amptelike inligting en dokumente van die strafverhoor aan die verdediging te gee sodat hulle behoorlik vir ’n appèlaansoek kan voorberei.

Die pa en sy seuns het in die verlede hul eie aansoek probeer voorberei net vir personeel van korrektiewe dienste om dié dokumente by hulle te konfiskeer, sê Booysen.

“Wat staan my te doen met dié nuwe inligting, anders as om hierdie hof te nader vir ’n oplossing?” vra Booysen.

Hy het gevra dat die driemanskap permanent vrygelaat moet word en hul rekord nietig verklaar word.

“Hulle moet nie weer vervolg of gestraf word nie, hulle is reeds swaar genoeg gestraf,” sê Booysen.

Hy het ook gevra, sou die hof nie dadelik die drie kan vrylaat nie, om hulle tydelik vry te laat sodat die Verenigde Nasies (VN) die gesin se klag kan ondersoek.

Die mans het verlede jaar ’n klag by die VN se Menseregtekomitee ingedien. Hulle voer aan dat die skendings ten tyde van hul verhoor ooglopend is en dat die VN-komitee sal saamstem en beslis dat hulle vrygelaat moet word.

Daar is geldige redes hoekom hulle in die tronk is. Hulle het geen reg om hierdie hof te vra om sy besluite te hersien en tersyde te stel nie.
Adv. Zinzile Matebese

Adv. Zinzile Matebese het namens die staat gesê die drie se aansoek is ’n onbenullige mors van die hof se tyd.

“Daar is geldige redes hoekom hulle in die tronk is. Hulle het geen reg om hierdie hof te vra om sy besluite te hersien en tersyde te stel nie. Dit is nie hoe die hof werk nie, hulle moet hulle wend tot die appèlhof,” sê Matebese.

Mabuse het uitspraak voorbehou.

Wilhelm en Johan was deel van ’n groep Boeremaglede wat ná hul pa se inhegtenisneming bomme in Soweto, by die M.C. Mitchell-brug by Port Edward en by ’n moskee geplant het. ’n Bom by die Nan Hua-Boeddhistetempel in Bronkhorstspruit het nie ontplof nie.

Die konstitusionele hof het twee jaar gelede die laaste hofaansoek vir die Boeremaglede se vrylating van die hand gewys.

* Wilhelm se vrou, Riëtte Pretorius (36), het in Maart ’n dringende aansoek gebring waarin sy vra dat hulle tydelik vrygelaat word.

Sy is in 2017 met Wilhelm getroud en is swanger met hul eersteling. Sy het die hof probeer oortuig sy het die reg om haar gesin by haar te hê tydens haar swangerskap.

Dié aansoek is van die hand gewys.

Meer oor:  Johan Pretorius  |  Pretoria
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.