Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Boeremag-leier kon staat se inligting in tronk kry

Werknemers van die regering se inligtingstegnologie-agentskap (Sita) het na bewering staatstoerusting gebruik om regstreeks met ’n Boeremag-leier, André du Toit, in die tronk te kommunikeer, waar hy tronkstraf uitdien weens hoogverraad.

Dr. Setumo Mohapi, uitvoerende hoof van Sita, het dít Woensdag in die parlement bevestig nadat ANC- en opposisie-LP’s hul kommer uitgespreek het oor die waarskynlike infiltrasie van Sita en die regering se IT-stelsels deur dié regse groep.

Sita administreer alle staatsdepartemente – die polisie en nasionale tesourie ingesluit – se IT-stelsels.

Genl. Khehla SitoleFoto: MELINDA STUURMAN/ SON

Mohapi het Woensdag saam met genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, voor die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) verskyn waar hulle verslag moes doen oor ’n diensverskaffer genaamd Forensic Data Analysts (FDA). FDA dreig om sy inligtingstegnologiestelsels, wat hy ten duurste aan die polisie verskaf, weens niebetaling af te skakel.

Dit kan glo Suid-Afrika se hele strafregstelsel in chaos dompel.

LP’s het dít Woensdag as ’n bedreiging vir Suid-Afrika se nasionale sekuriteit beskou.

Die polisie vra tans die hof om die FDA te verbied om die stelsels af te skakel. Alle omstrede polisiekontrakte met die FDA moet ook ondersoek word.

Mnyamezeli Booi, ANC-LP, het in die komiteesitting gesê dit lyk of die Boeremag steeds aktief in Suid-Afrika se strukture is en nou selfs die sekuriteitsgroepering ondermyn.

Hy het versoek dat die parlement dit ook moet ondersoek.

Robert McBride, uitvoerende direkteur van die Onafhanklike Ondersoekdirektoraat, het gesê daar moet gevra word of die polisie as “voertuig gebruik is om die wit heerssugtige, niegrondwetlike organisasie wie se hoofdoel dit is om die grondwetlike orde met geweld te vernietig, te finansier”.

Volgens hom is daar baie mense (in Sita en die polisie) wat nie die Boeremag se ideologie steun nie, maar deur geld in die versoeking gelei kon word.

“Ons moet dit met die grootste erns hanteer.”

Ons sê nie daar is ’n Boeremag-plan om die land omver te werp nie, maar staatsamptenare mag sekerlik nie met hul werktoerusting met ’n bekende terroris wat tronkstraf vir hoogverraad uitdien, kommunikeer nie.

Sitole het die Boeremagkwessie as ’n “groot nasionale sekuriteitskwessie” beskryf.

Volgens hom werk die polisie aan sy eie misdaadintelligensie-geleide ondersoek na Boeremag-aktiwiteite. Die agentskap werk ook saam met ander staatsdepartemente in ’n breër ondersoek.

Themba Godi, voorsitter van Skoor, het Woensdagmiddag in ’n verklaring gesê Skoor is bekommerd oor die “samespanning tussen Sita-amptenare en Du Toit, wat daartoe gelei het dat die amptenare finansiële en ander steun aan Du Toit in die tronk verleen het”.

Mohapi het ná die komiteesitting gesê die Boeremag-verbintenis het opgeduik nadat Sita verlede jaar met ’n ondersoek na ongerymdhede in sy verkrygingstelsel begin het. Die Valke is ook daarvan ingelig.

“Twee werknemers se verbintenis met Du Toit is ná ’n forensiese ondersoek van hul toerusting geïdentifiseer. Hulle het met hom gekorrespondeer.

Een werknemer het sedertdien bedank, terwyl die ander een geskors is.

Hoeveel het hulle geweet en was hulle in staat om die land se nasionale sekuriteit in gevaar te stel?

Tim Brauteseth, DA-LP, het ná die sitting gesê die Sita-werknemers het gedetailleerde e-posse aan “Du Toit en sy vrou gestuur oor hul steun vir hom. Hy het hulle uit die tronk bedank”.

Volgens Brauteseth heers daar ook kommer dat van die geld wat FDA met sy kontrakte met die polisie gemaak het, “dalk die Boeremag kon gefinansier het”.

“Ons sê nie daar is ’n Boeremag-plan om die land omver te werp nie, maar staatsamptenare mag sekerlik nie met hul werktoerusting met ’n bekende terroris wat tronkstraf vir hoogverraad uitdien, kommunikeer nie”.

Vincent Smith, ANC-LP, het gesê nog ’n bron van kommer is dat die Sita-werknemers toegang tot sensitiewe regeringsinligting gehad het. “Hoeveel het hulle geweet en was hulle in staat om die land se nasionale sekuriteit in gevaar te stel?”

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, het die Boeremag-verbintenis in ’n verklaring egter afgemaak as “ ’n rookskerm om die onbevoegdheid en onbekwaamheid by Sita te probeer verdoesel”.

Meer oor:  Staatsveiligheidsagentskap (Sva)  |  Sita  |  Robert Mcbride  |  Reaksie  |  Boeremag  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.