Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Boeremag-lid wag langer vir seks

Sewe tronkbewaarders het Donderdag in die hooggeregshof in Pretoria fyn dopgehou dat die Boeremag-gevangene dr. Wilhelm Pretorius nie naby sy vrou kan kom nie.

Riëtte Pretorius Donderdag by die hooggeregshof in Pretoria. Foto: Jeanne-Marié Versluis

Die voetgeboeide Wilhelm, wat dié hof vra dat hy met Riëtte, sy vrou, in die tronk seks mag hê, was merkbaar omgekrap omdat sy aansoek weer eens uitgestel is.

Riëtte het agter in die hof se openbare galery gesit terwyl haar man, wat homself in die saak verteenwoordig, aan regter Jody Kollapen gesê het sy menseregte word grof geskend.

Hy vra vir private kontaksessies met sy vrou, een keer per maand, drie uur op ’n slag.

Wilhelm, wat ’n doktorsgraad in Bybelse argeologie in die tronk behaal het, wil ook oor naweke kontakbesoeke met gaste hê. Die stoele moet só gespasieer wees dat almal “met gemak hande kan vashou sonder om hulself te verrek en om mekaar behoorlik te kan hoor”.

Toe die hof verdaag het, het Riëtte “Liefie!” vanuit die galery na hom geroep. Wilhelm het geantwoord: “Ek is lief vir jou, hoor! Tatta!”

Voordat die bewaarders hom uit die hofsaal begelei het, het een van hulle Riëtte versoek om eerste die hofsaal te verlaat.

Die bewaarders het toegesien dat daar etlike meter tussen die egpaar buite die hofsaal is totdat hulle met hom by ’n stel trappe af verdwyn het.

Wilhelm is van Desember 2002 in die Zonderwater-gevangenis in Cullinan om sy 25 jaar tronkstraf vir onder meer hoogverraad uit te dien.

Hy en Riëtte is in 2017 in dié tronk getroud. Hul eersteling, ’n seuntjie, is in Augustus gebore nadat Riëtte met tronkowerhede se goedkeuring deur kunsmatige inseminasie bevrug is.

Die tronkowerhede het die hof gevra om die saak uit te stel omdat ’n amptenaar in die staatsprokureur se kantoor per ongeluk nie die advokate, wat die owerhede se saak moet voer, van die verhoordatum laat weet het nie.

Wilhelm het aan Kollapen gesê die owerhede se argument dat die saak se uitstel hom nie benadeel nie, “omdat ek mos nou ’n kind het”, hou nie steek nie. “Dit gaan nie net oor voortplanting nie. Daar is ander, veelvuldige menseregte wat geskend word, soos kommunikasie en huweliksregte. Hulle vernou die skade tot ‘ek het nou ’n kind’.”

Hy het gesê as die saak uitgestel word tot Maart soos die owerhede wil hê, beteken dit ’n “nee” vir sy regte.

Wilhelm het Kollapen gevra vir ’n tussentydse bevel dat hy solank sy regte kan uitoefen. “Dan kan hulle (die teenkant) later ordentlik kans kry om te sê waarom ek dit nie moet kry nie. Só word my regte beskerm.”

Kollapen het in sy uitspraak die partye se belange opgeweeg en gesê die belang van geregtigheid kom eerste. Aan die een kant sê Wilhelm die verhouding tussen man en vrou sal onherstelbare skade ly en die feit dat hy intussen pa geword het, laat nie dié nadeel verdwyn nie.

Aan die ander kant het die staatsprokureur se kantoor ’n “menslike fout” gemaak deur in ’n e-pos oor die verhoordatum nie die advokate daarby in te sluit nie.

Die unieke aard van hierdie saak vereis dat dit uitgestel word sodat dieselfde advokate wat die hofstukke vir die tronkowerhede opgestel het, in die verhoor kan optree.

Kollapen sê hy kan nie ’n tussentydse bevel toestaan nie, want Wilhelm se aansoek moet versigtig oorweeg word. “Dis belangrik vir die hele korrektiewe stelsel. Elke poging sal aangewend word om die saak in die eerste hoftermyn van 2020 aan te hoor.”

Meer oor:  Seks  |  Gevangene
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.