Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Boeremaglid wil seks in tronk hê – hof vra opinies

Die Boeremag-gevangene dr. Wilhelm Pretorius se aandrang om seks met sy vrou in die tronk te hê, is deur die hof verwys vir verdere konsultasie omdat dit verreikende gevolge kan hê vir ander.

Dr. Wilhelm en Riëtte Pretorius is in Julie twee jaar getroud.

Pretorius (41), wat 25 jaar tronkstraf in die Zonderwater-tronk in Cullinan uitdien, se hofaansoek vir sulke regte is die afgelope week in die hooggeregshof in Pretoria uitgestel.

Dit is sodat organisasies wat inspraak in die aansoek wil lewer, kan toetree. Die rehabilitasiegroep Nimro, die Menseregtekommissie en die Sentrum vir Kinderreg moet almal geleentheid gegee word om hul sê te sê.

Wilhelm se vrou, Riëtte (36), is 32 weke swanger nadat sy deur kunsmatige inseminasie bevrug is.

Wilhelm het ’n rits klagtes in sy hofstukke oor die beweerde stief behandeling wat hy en sy vrou al gekry het by die tronk. Een daarvan is dat hy nie enige “stimulus” gehad het toe ’n dokter hom in die tronk besoek het om sy semen te oes nie en dit toe vir hom “fisiologies onmoontlik” was om sy samewerking te gee. Rapport het vroeër berig die paartjie het reggekom sodat Riëtte kunsmatig geïnsemineer kon word.

Wilhelm is einde 2013 saam met 18 ander Boeremag-beskuldigdes gevonnis vir onder meer hoogverraad. Hy het in die tronk sy doktorsgraad in Bybelse argeologie behaal.

Hy is in die A-groep van gevangenes in die tronk, wat drie besoeke per maand toegelaat word. Dit kan net oor naweke of op vakansiedae gebeur.

Hy wil egter die volgende hê:

  • “Private huweliksbesoeke” met Riëtte een keer per maand vir drie uur lank. Die departement van korrektiewe dienste (DKD) moet met dié besoeke die egpaar se “menswaardigheid maksimaal beskerm”.

Hy sê hy kan nie met die huidige besoeke sy “verhouding met sy eggenote behoorlik opbou nie”. Dit plaas ’n “geweldige stremming” op sy huwelik.

  • Benewens huweliksregte dring hy aan om elke naweek en openbare vakansiedag kontak-kuiersessies met gaste te hê van 08:00 tot 13:30. Die stoele moes só gespasieer wees dat hy en sy gaste “met gemak hande kan sit en vashou sonder om hulself te verrek en om mekaar behoorlik te kan hoor”.
  • Hy wil ook elke weeksdag “nie-kontakbesoeke” tussen 08:00 en 13:00 bekom, waar jy volgens tronkreëls nie aan die ander persoon kan raak nie.

Volgens Wilhelm het die departement van korrektiewe dienste sy versoek om huweliksregte botweg geweier. “Dit was blote weiering sonder om enigsins enige aspek van die versoek te spesifiseer,” sê hy in hofstukke.

Matsobane Mahlatse van die DKD se regsdienste in Gauteng sê in hofstukke Wilhelm is nie geregtig op spesiale behandeling of buitengewone voorregte waarvoor daar nie in die wet, beleid of regulasies voorsiening gemaak word nie.

Hy sê die beleid en regulasies bepaal tans dat huweliksregte nie in tronke toegelaat word nie.

Dit is “belaglik” dat hy op elke dag van die week besoekers wil kan ontvang. Geen enkele oortreder geniet sulke onbeperkte voorregte nie.

Hy sê toe die Pretoriuse in 2017 getroud is, het hulle goed geweet en verstaan “dat hulle nie geregtig sal wees op huweliksregte binne die vier mure van die tronk nie”.

“Hulle het dit aanvaar,” sê Mahlatse oor die egpaar.

Die tronk het reeds agteroor- gebuig om die paartjie tegemoet te kom, maar kan nie instem tot die verreikende regte wat hy nou vra nie.

’n Hofdatum vir die aanhoor van die aansoek sal bepaal word wanneer die belanghebbendes hul insette gelewer het.

Meer oor:  Boeremag  |  Regte  |  Gevangenes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.