Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Boete ná hy Hindoes wou bekeer?

’n Bekeerde Hindoe wat gelykheidshof toe geneem is omdat hy hardop gebid het dat Hindoes “afgode” aanbid, sê hy sal aanhou om die evangelie te verkondig al word hy met ’n skadevergoedingseis van R1 miljoen en 200 uur gemeenskapsdiens gedreig.

Ramarak Maharaj. Foto’s: Facebook

Simeon Bradley Chetty van Revival Ministries in Chatsworth, Durban, voer in hofstukke aan Ramarak (Ram) Maharaj, ’n Hindoe-leier, wil hom en ander Christene “stilmaak om God se opdrag in die Bybel uit te voer om mense van alle gelowe oor die evangelie in te lig”. Chetty sê hy het geen wet oortree toe hy in Mei 2020 oor sy bekering tot die Christendom getuig het nie.

Maharaj, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Hindoe Dharma Sabha, ’n kultuur-en-godsdiensorganisasie, het in Julie klagte van crimen injuria teen Chetty en Llewellyn Joseph, ’n pastoor van dié kerk, by die Chatsworth-polisiekantoor ingedien.

Maharaj het ook klagte van haatspraak teen Chetty én Joseph by die gelykheidshof ingedien ingevolge die Wet op die Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onbillike Diskriminasie (Pepuda, die Gelykheidswet).

Chetty sal ‘aanhou om evangelie te verkondig’.

Maharaj, ’n oud-ANC-LPW in KwaZulu-Natal en ’n senior lid van die Hindu Unity Movement, ’n politieke party wat in 2019 gestig is, het die klagte teen Chetty ingedien nadat Chetty ’n video op Facebook geplaas het van ’n opelugkerkdiens buite ’n woonstelgebou in Chatsworth waar hy oor sy bekering getuig het. Die diens is in Mei 2020 gehou nadat pres. Cyril Ramaphosa gevra het vir ’n nasionale biddag hou vir dié wat deur die koronavirus geraak word.

Chetty sê in die video “die naam van Jesus is bo elke ander naam”. Hy bevraagteken waarom mense Hindoe-“afgode en ander gode” sal aanbid. In ’n ander diens het Joseph gevra dat mense na vore kom wat swaarmoedig voel weens ’n vloek of geeste tydens die Hindoefees Kawadi sodat hy vir hulle kan bid. Dit is ook op sosiale media geplaas.

Die gelykheidshof het Joseph se saak na die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Taalkundige Gemeenskappe (CRL) verwys vir bemiddeling. Die kommissie het in Maart bevind Joseph se uitspraak oor die Kawadi-fees was kwaadwillig en aanbeveel dat Joseph in ’n plaaslike koerant en op sosiale media om verskoning vra.

Simeon Bradley Chetty.

Chetty se saak in die gelykheidshof is Woensdag uitgestel nadat hy ’n nuwe prokureur aangestel het.

Maharaj sê Chetty se uitsprake is aanstootlik, beledigend, kwetsend en godslasterlik en hy impliseer die Christelike geloof is meerderwaardig. Dit is “aanhitsing” en “propageer haat”.

Hy eis namens sy organisasie skadevergoeding van R1 miljoen van Chetty en dat hy 200 uur gemeenskapswerk doen. Die gelykheidshof moet Chetty beveel om Hindoeïsme op geen manier te minag nie.

Chetty sê in sy verklaring hy was ’n gas by die kerkdiens toe pastoor Colin Pillay hom vra om met gebed af te sluit. “Ek was baie emosioneel, want die diens was buite die woonstelle waar my gesin gewoon het en waar my pa van ’n alkoholis na ’n liefdevolle gesinsman verander het. As Christen word ek aangespoor om te praat oor hoe Jesus my lewe verander het sodat my getuienis ander mense sal aanspoor om verandering in hul eie lewens aan te bring.”

Sy broer het die video geneem wat Chetty op Facebook gedeel het.

“Ek het die video onmiddellik verwyder toe ek hoor dat sommige mense aanstoot neem. Ek het op 5 Junie skriftelik verskoning gevra (omdat) die Bybel Christene opdrag gee om die ander wang te draai. Wat my aanbetref, het ek niks verkeerd gedoen nie, maar tog verskoning gevra.”

Hy sê elke persoon het die reg om siele vir sy God te wen.

“Die applikant beweer my getuienis skep ’n omgewing wat die vernietiging van Hindoeïsme in Suid-Afrika teweeg sal bring. Ek voer aan sy eintlike klag is dat die Bybel Christene aanspoor om die Evangelie onder mense van alle gelowe te versprei. Hy poog om te keer dat die inhoud van die Bybel onder ander gelowe, veral Hindoes, gedeel word.”

Maharaj sê: “Die aanname van meerderwaardigheid en oorheersing van een geloofstelsel bo ’n ander geloofstelsel is diskriminerend, verdelend en onregverdigbaar. Dit berus op fanatiese en heerssugtige vooroordele.”

Hy sê Chetty se verklarings is “ ’n verdraaide beskrywing van die Hindoe-kultuur, godsdiens en gemeenskap”.

Volgens hom het Chetty “inbreuk gemaak op die Hindoe-gemeenskap se grondwetlik gewaarborgde regte op menswaardigheid” en “misbruik” hy sy godsdiensvryheid, wat niemand die reg gee om ander te beledig nie.

Bekering is ’n “bewuste indringing” in mense se lewens en “aggressiewe godsdienste het geen godgegewe reg om antieke gelowe en kulture te vernietig nie”. “Elke persoon het die vryheid om sy of haar eie godsdiens sonder inmenging uit te leef,” sê Maharaj.

Meer oor:  Crimen Injuria  |  Haatspraak  |  Gelykheidshof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.