Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Bom’ in bank: Man sê hy wil skuld beken

“As ek kan, sal ek graag skuldig wil pleit.”

Ekhard Albertus Mostert (50) van Garsfontein, Pretoria, se stem was sterk, maar die toon byna gelate.

Die vermeende oudlid van die Skerpioene het dié sin uit sy eie bygevoeg toe landdros Thandi Theledi Donderdag sy regte aan hom verduidelik het.

Mostert het geantwoord dat hy sy eie verdediging sal behartig, en toe uit die bloute bygevoeg dat hy wil skuld beken.

Hy word aangekla van die oortreding van die Wet op die Beskerming van Grondwetlike Demokrasie teen Terreur en Verwante Bedrywighede en poging tot gewapende roof.

Ekhard Albertus Mostert (50) het Donderdag in die landdroshof in Pretoria verskyn op aanklagte van oortreding van die Wet op die Beskerming van Grondwetlike Demokrasie teen Terreur en Verwante Bedrywighede en poging tot gewapende roof. Foto: Deaan Vivier

Luidens die klagstaat het hy op 17 September by die Absa-bank in die Menlyn Maine-winkelsentrum in die ooste van Pretoria ingestap en ’n toestel wat gelyk het soos ’n bom of dodelike apparaat – ’n plastiekboks met ’n flikkerende liggie – op die toonbank voor die kassiere neergesit.

Toe het hy, met die “bom” as dreigement, geld van die kassiere, Nonsenzosihle Magonelisa, geëis.

Mostert is kort daarna deur lede van die Brooklyn-polisiekantoor aangekeer.

Hy het Donderdag die beskuldigdebank vanuit die hof se aanhoudingselle ingestap, hare kort geskeer en gryserig, met sakkies onder sy oë.

Hy het ’n sak vol medikasie vasgehou.

Mostert het toe verskeie kere na die mense in die openbare galery agter hom gedraai, asof hy iemand soek.

Daar was egter niemand wat gelyk het of hulle daar was vir hóm nie.

Theledi moes hom vra om op te hou omkyk.

Sy het toe, nadat Mostert gesê het hy sal sy eie verdediging behartig, verduidelik dat hy lewenslange tronkstraf op die aanklagte teen hom opgelê kan word, sou hy skuldig bevind word.

“Wil u steeds u eie verdediging behartig?” het sy in Afrikaans seker gemaak.

“Ek verstaan. Ja, ek sal myself verdedig,” het Mostert volgehou.

Die man wat glo ’n bankkassiere met ’n nagemaakte bom gedreig het, loop met sy sak medikasie terug na die aanhoudingselle nadat die saak teen hom uitgestel is. Foto: Deaan Vivier

Aangesien veral die eerste aanklag so ernstig van aard is dat dit gewoonlik na die hooggeregshof verwys word, is die saak tot later die maand uitgestel vir ’n sertifikaat van die nasionale direkteur van openbare vervolging wat sal bepaal waar Mostert se pleit aangehoor sal word.

Daarby het Kagiso Rancho, die staatsaanklaer, verduidelik die staat wil ook eers Mostert se adres bevestig en kyk of hy enige vorige veroordelings het.

Luidens Mostert se sosialemedia-profiele het hy hom in die 1980’s by die polisie aangesluit.

Ekhard Albertus Mostert (50) Donderdag in die hof in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Hy was onder meer ’n lid van die voertuigdiefstaleenheid en later lid van die Johannesburgse eenheid teen georganiseerde misdaad. Hy het hom in 2000 aangesluit by die oud-elite-ondersoekeenheid die Skerpioene, en was daar tot 2005.

Die Skerpioene het later die Valke geword – dieselfde eenheid wat nou die ondersoek na Mostert oorgeneem het.

Die beskuldigde het later in die “jagbedryf” gewerk, voordat hy in 2011 in die private veiligheidsbedryf begin werk het, onder meer as risikobestuurder. In Julie 2017 het hy sy eie veiligheidsmaatskappy, Mostert Security Solutions, begin wat ook private ondersoeke gedoen het.

Toe stap hy na bewering Dinsdagoggend net ná 11:00 by die Absa-bank, wat ’n glasvoorkant het en dus sigbaar is vir almal buite, met ’n nagemaakte bom in.

Volgens bronne was die toestel binne met buskruit bestrooi, ’n daad van iemand wat sou geweet het dat dit bom-snuffelhonde “positief” sou laat reageer.

Hy het glo ’n “buitensporige, abnormale bedrag kontant” geëis wat, bronne sê, “geen tak sal aanhou nie”.

Die verdagte het ook ’n gelisensieerde vuurwapen by hom gehad, maar dié is glo nooit uitgehaal of getoon nie. Dit is eers gevind toe kapt. Riaan Bekker en sers. Greg Dodgen van die Brooklyn-polisiekantoor hom bestorm en platgetrek het.

Die honde- en bomeenheid het toe die toneel ondersoek en beveilig.

Mostert is sedertdien in aanhouding.

Meer oor:  Garsfontein  |  Pretoria  |  Bomdreigement  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.