Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Boom is wortel van die kwaad
Die leer waarmee Anees Dennis oor die buurman se oorgroeide grensmuur tot by die yslike ­wildevyeboom gekom het. Foto: Nasief Manie
William (Willa) Petersen (79), die buurman.
Anees Dennis (39) by sy suster, Colette Louw.
Die twee bome in Anees Dennis se olieskildery toon onheilspellende ooreenkomste met die boom wat hy op sy buurman se werf met ’n saag getakel het.

’n Geskil met sy bure omdat ’n groot wildevyeboom se wortels hul huis se mure beskadig, het glo gelei tot die dood van ’n 39-jarige man wat trompop deur sy buurman met ’n swaarkaliber handwapen doodgeskiet is.

William (Willa) Petersen (79) het die afgelope Maandag in die landdroshof in Athlone in verband met die moord verskyn.

Die geskeide Petersen was ’n slagter en besit verskeie eiendomme in Athlone. Bure sê hy voer ’n kluisenaarsbestaan in sy woonstel bo ’n hardewarewinkel in Oasisstraat in Hazendal, Athlone.

Colette Louw sê haar broer, Anees Dennis, ’n geskeide pa van twee, het ’n paar jaar gelede “erg met dwelms gestoei”, maar sy lewe intussen reggeruk. In 2011 is hy deur ’n barmhartige familielid ingeneem en het sedert Maart vanjaar in ’n huis in Oasisstraat reg langs Petersen gebly.

Kort nadat hulle ingetrek het, het hulle probleme begin, sê die ma van die gesin by wie Dennis gebly het. Sy verkies om nie haar naam te noem nie. Sy sê Petersen is ’n hardkoppige ou man.

“Pruttelrig is dalk die regte woord, ja. Ons het aan hom gesê die wortels is onder ons kombuis in en gaan die fondamente lig. Die wortels het klaar twee ou motors in sy garage aan mekaar vasgegroei!”

Sy sê Petersen het toe gesê hulle kan die boom maar laat afkap, en hy sal die helfte betaal. “Toe sê Anees, nee, hy sal sommer die kap- en saagwerk doen.”

Sy sê sy was verlede Vrydag net voor djoemoea (die Vrydagdiens) by die huis toe sy vyf skote kort ná mekaar hoor.

Sy het uitgehardloop en Petersen buite gekry.

“Hy het ons met die hand gestop, paniekerig, deurmekaar. Voor in sy broek was ’n silwerkleurige pistool ingesteek.

“Hy sê toe: ‘Antie, Antie, as dit een van jou seuns was, het ek jou gesê. Ek het klaar die polisie gebel.’ ”

Volgens Petersen was daar ’n inbraak en hy het twee skote geskiet op die verdagte, wat glo laat spaander het.

Die polisie het sy 9 mm-pistool, magasyn en vier patrone gekonfiskeer.

Iemand het die polisie egter later gebel en gesê die bebloede lyk van ’n man is in ’n kamer onder die woonstel versteek.

Dennis se huismense het hom “aan sy donkerblou hemp en mosterd-en-grys Labarang-tekkies” uitgeken. Hy het koeëlwonde aan die regterbors, linkerskouer, rug, heup en linkerarm gehad. Die femur in sy linkerbeen is met ’n swaarkalibervuurwapen morsaf geskiet.

Petersen het lisensies vir 13 vuurwapens, maar kon van slegs agt wapens rekenskap aan die polisie gee. Daaronder is ’n .22-Colt-pistool, ’n Browning-pistool en ’n .357-Magnum-rewolwer, plus 700 patrone.

Volgens ’n bron het Petersen “self ‘platkop’-koeëls gemaak – oor ammunisie so duur is”.

’n Verwese Petersen het Maandag in die hof verskyn. Hy word in die hospitaalvleuel van die Pollsmoor-gevangenis in Tokai aangehou. Hy sal na verwagting Dinsdag, vyf dae voor sy 80ste verjaardag, aansoek om borgtog bring.

’n Jarelange vriend van Petersen sê hy is ’n “ernstige en metodiese, mens”.

“Rowers het 15 jaar gelede 20 gate in sy Mercedes-Benz geskiet. Sy broer, George, is destyds by sy vulstasie deur rowers doodgeskiet.

“Willa is baie privaat. Jy kan nie in sy huis kom sonder ’n ­afspraak nie.

“Sy waardes was te sterk om selfs saam met ’n vrou te woon.”

Louw sê sy het kort voor haar broer se dood met haar gewese skoonsuster onderhandel dat hy weer met sy 15-jarige seun en agtjarige dogter kan kontak maak. Hy het sy kinders drie jaar laas gesien.

“Anees se idee was om Saterdag (gister) sy kinders in die Tuine in Kaapstad te ontmoet, tussen die bome en eekhorinkies.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.