Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Borgtog vir 3 wat verskyn oor stadsaal wat afbrand

Drie munisipale werkers wat na bewering die historiese Bloemfonteinse stadsaal Woensdag aan die brand gesteek het, is in die landdroshof in Bloemfontein op borgtog van R1 000 elk vrygelaat.

Nthateng Jankie (46), Vincent Tsoametsi (40) en Mbuyiselo Magqithane (49), almal lede van die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie (Samwu), het op aanklagte van brandstigting en openbare geweld verskyn.

Hulle staan ook tereg op ’n aanklag dat hulle ’n hofbevel geminag het.

’n Handjievol Samwu-lede het Vrydag soos sardientjies in die oorvol hofsaal gepak gesit en gewag vir hul verskyning.

Vincent Tsoametsi (links) en Mbuyiselo Magqithane praat met hul regsverteenwoordiger, Jan Jordaan, in die landdroshof in Bloemfontein. Foto: Mlungisi Louw

Luidens die voorlopige klagstaat het sowat 300 Samwu-lede Woensdagmiddag ’n onwettige vergadering in die stadsaal gehou.

Hulle het na bewering die stadsaal se deure gesluit om te verhinder dat die polisie inkom. Polisiebeamptes het ’n rukkie later gesien rookwolke borrel by die gebou uit.

Toe die polisie die deure van die stadsaal oopbreek, het honderde mense uit die brandende gebou gestorm.

Die kombuis en stoele in die saal was aan die brand.

Jankie, Tsoametsi en Magqithane is daarna in hegtenis geneem.

Johan de Vries, aanklaer, het aan landdros

Marlene Marais gesê hy het opdrag van die direkteur van openbare vervolging (DOV) ontvang om nie die munisipale werkers se formele aansoek om borgtog teen te staan nie en te vra dat elkeen op borgtog van R1 000 vrygelaat moet word.

Die werkers se regsverteenwoordiger, Jan Jordaan van Kramer, Weihmann en Joubert-prokureurs, het in die aansoek om borgtog gesê die werkers het net die vergadering bygewoon en was nie deel van die brandstigting nie.

Landdros Marais het die borgtog toegestaan.

Sy het die drie gewaarsku dat hul borgtog teruggetrek sal word as hulle weer aan ’n staking deelneem.

Die verhoor is tot volgende maand vir verdere ondersoek uitgestel.

* Die 14 Samwu-lede wat Donderdag tydens ’n betoging buite die stadsaal in hegtenis geneem is, sal na verwagting Maandag in die hof verskyn.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Brand  |  Drie  |  Borgtog  |  Hof  |  Stadsaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.