Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Boshof-moorde: Man betrek by verskeie plaasaanvalle

Een van die vier mans wat Donderdag in verband met die moorde op Sakkie (67) en Ina van der Berg (62) in die hof op Boshof verskyn het, was ten tyde van die moorde uit op borgtog vir ’n plaasaanval buite Hertzogville.

Die Van der Berg-egpaar is volgens inligting Saterdag met hul eie vuurwapens op ’n plaas buite Boshof vermoor.

Lolo Johannes Sekgoro (41) en nog drie mans staan tereg op aanklagte van moord, gewapende roof en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie.

Johannes Lolo Sekgoro was ten tyde van die Van der Berg-egpaar se moord uit op borgtog.Foto: Verskaf

Hannes de Jager, wat veiligheidsdienste in die Wes-Vrystaat bedryf, sê Sekgoro moet op 5 Augustus weer in verband met ’n plaasaanval op Japie en Emma van den Berg in die hof verskyn.

Japie is op 28 April 2018 by sy melkstalle aangeval en na die huis gedwing waar Emma ook aangerand is. Hulle was toe onderskeidelik 75 en 74 jaar oud.

’n Werker het hulp ontbied en vyf mans, onder wie Sekgoro, is in hegtenis geneem.

Japie is later in ’n motorongeluk oorlede en Emma het verhuis.

De Jager sê Sekgoro is ook van twee ander plaasaanvalle aangekla.

In die een aanval het die ondersoek net doodgeloop. In die ander aanval was die bejaarde slagoffers so getraumatiseerd dat hulle na Australië geëmigreer het voordat die verhoor kon plaasvind.

De Jager sê Sekgoro is ná die aanval op die Van den Bergs in die landdroshof borgtog geweier, maar hy het die hooggeregshof genader waar borgtog van R1 200 aan hom toegestaan is.

Dit kos sowat R20 000 om in die hooggeregshof om borgtog aansoek te doen.

Ina en Sakkie van der Berg wat op ’n plaas tussen Boshof en Dealesville vermoor is.Foto: Verskaf

“Hy was skaars uit op borgtog toe sy naam weer by misdade begin opduik,” sê De Jager.

Hy sê Sekgoro is ook verhoorafwagtend in talle veediefstalsake in die Vrystaat.

Sekgoro, Daniël Sidas Lephele (44), Daniël Tsekiso Selwane (28) en Terrence Kat Thami (34) het in hul eerste hofverskyning verskeie aanmerkings teenoor die ondersoekspan en staatsaanklaer gemaak.

Een het onder meer geskree: “Ek soek jou nie as staatsaanklaer nie!”

Adv. Lieb Loots, staatsaanklaer, meen die staat het ’n sterk saak teen die beskuldigdes. Hy het aan die hof gesê die mans is ook by ander misdade soos veediefstal betrokke en dat een van hulle skape in ’n ambulans vervoer het.

Loots sê hierdie soort sake kan tot vier maande duur, maar hy dink dat dié verhoor korter sal wees, omdat dit ’n hoëprofielmisdaad is.

“Dit is ’n plaasaanval en twee mense is dood.”

Landdros Mothusi Khumalo het die verhoor tot 25 Julie vir ’n borgtogaansoek uitgestel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.