Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Boshof-moorde: Nog aanklagte by klagstaat gevoeg

Nog aanklagte is by die klagstaat teen die vermeende moordenaars van Ina en Sakkie van der Berg van Boshof gevoeg.

Behalwe aanklagte van moord, poging tot moord en gewapende roof, staan Lolo Johannes Sekgoro (41), Daniël Sidas Lephele (44), Daniël Tsekiso Selwane (26) en Terrence Kat Thami (35) tereg op aanklagte van menseroof en betreding.

Lolo Johannes Sekgoro in die landdroshof in Boshof. Foto: Mlungisi Louw

Sekgoro word verder van regsverydeling en die verset teen inhegtenisneming aangekla deurdat hy tydens sy inhegtenisneming vals name aan die polisie gegee en probeer vlug het.

Hy moet ook op 5 Augustus weer in verband met die plaasaanval in 2018 op Japie en Emma van den Berg op die plaas Langeveld in die Hertzogville-distrik verskyn. Hy en vier mans is vir dié aanval in hegtenis geneem en hy is later op borgtog vrygelaat.

Selwane en Kat, wat tot 2020 op parool was weens ’n onverwante misdaad, se parool is teruggetrek. Hul foto’s mag dus nie gepubliseer of gesirkuleer word nie, het die hof bevind.

Die vier mans word daarvan aangekla dat hulle die Van der Berg-egpaar tussen 12 en 13 Julie op die egpaar se plaas Bloubos in die Boshof-distrik met voorbedagte rade vermoor het deur hulle vas te bind en daarna te skiet.

Lolo Johannes Sekgoro het Donderdag sy borgtogaansoek laat vaar. Foto: Mlungisi Louw

Met hul hofverskyning Donderdag was hulle skugter vir die hofgangers in die stampvol hofsaal in Boshof, en het kop onderstebo gesit en hul gesig met hul hande bedek toe hulle die hofsaal binnegekom en verlaat het.

Van die inwoners van dié Vrystaatse dorp het ’n sug van verlugting geslaak toe die mans laat hoor hulle gaan nie meer voort met hul borgtogaansoek nie.

Gerda-Marié van Rooyen, predikantsvrou op die dorp, sê sy is bly dat hulle darem ’n tikkie insig het en nie borgtog geëis het nie, veral omdat een van die vier verdagtes reeds ’n hangende saak teen hom het.

“Ek sal wel baie beter en meer gerus voel as hulle die straf kry wat hulle toekom, hoewel dit nooit die vermoordes, of die waarde wat hulle vir die gemeenskap gehad het, sal vervang nie.”

Daniël Sidas Lephele in die beskuldigdebank van die landdroshof in Boshof. Foto: Mlungisi Louw

Die mans se verhoor is tot 30 September vir verdere ondersoek uitgestel.

Johan de Vries het aangekla. Engracia Francisco van die Regshulpraad het namens die mans opgetree.

* Inwoners van die Boshof-distrik het reeds vroegoggend voor die landdroshof saamgekom om die mans se borgtogaansoek teen te staan.

Altesaam 1 443 mense van oor die land heen het ook ’n grieweskrif onderteken waarin hulle vra dat dit teengestaan word.

Suné Oosthuizen, ’n inwoner van die dorp wat met die grieweskrif begin het, sê almal het saamgewerk om hul misnoeë met plaasmoorde te kenne te gee en die aansoek om borgtog teen te staan.

“Die gemeenskap was goed verteenwoordig vanoggend. Ons is baie trots op Boshof.”

Ds. Andreas van Rooyen, leraar van die NG kerk in Boshof, het voor die hof saam met die inwoners gebid dat dit “die laaste plaasaanval in die omgewing sal wees en dat die kwesbares veilig sal wees”.

Daniël Sidas LepheleFoto: Mlungisi Louw
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.