Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Brackenfell: 9 Maandag in hof ná geweld

Die nege mense wat Vrydag in Brackenfell in hegtenis geneem is, verskyn Maandag op aanklagte van aanhitsing tot geweld en openbare geweld in die landdroshof in Blue Downs.

Agt van hulle is glo EFF-lede wat na bewering die Brackenfell-poskantoor, ’n Hyundai-handelaar en ander private eiendom ná die betoging naby die Hoërskool Brackenfell beskadig het.

Die EFF het betoog uit protes teen beweerde rassisme by ’n matriekpartytjie aan die einde van Oktober wat deur leerlinge van die skool by ’n Stellenbosse wynplaas gehou is. Daar word beweer leerlinge van kleur by die hoërskool is nie na die partytjie genooi nie.

Neels van Aswegen hou sy arm in die lug voordat hy in die polisievoertuig gelaai word. Foto: Skermgreep

Die negende persoon wat in hegtenis geneem is, is Neels van Aswegen, glo ’n inwoner van Brackenfell, wat goedere soos maskers by die betoging verkoop het.

Van Aswegen is weens aanhitsing tot geweld in hegtenis geneem nadat hy voor die EFF-podium gaan staan en sy hand opgesteek het.

“Wat is jou f****n probleem?” het Marshall Dlamini, sekretaris-generaal van die EFF, glo oor die mikrofoon gevra. “Ek het nie ’n probleem nie,” het Van Aswegen geantwoord. Daarna is hy glo deur EFF-lede gestamp. “Loop, jou stuk k*k,” het Dlamini toe glo vir Van Aswegen gesê, terwyl talle EFF-lede hom na bewering bygedam het.

Kort daarna het die polisie skokgranate tussen die betogers ingegooi en die EFF-lede het weggehardloop, waarna die polisie Van Aswegen in hegtenis geneem het.

Voordat hy in ’n vangwa gelaai is, het hy glo gesê: “Ek soek vryheid in hierdie land. Ek soek ’n goeie land. Ek is bereid om te sterf vir hierdie land. Julle doen nie goed in die Naam van God nie. Julle doen die verkeerde dinge. Julle luister nie na God nie. Hy sal julle hierdie keer straf. Harder.

Neels van Aswegen praat met die media nadat die EFF hom glo aangerand het. Die regterkant van sy gesig bloei. Foto: Skermgreep

“Ek wil hierdie land regeer, en ek sal hierdie land regeer,” het hy glo gesê voordat hy in hegtenis geneem is.

Omstanders wat Van Aswegen glo ken, het sy familie in Pretoria gebel om hom met regshulp te help. Dit het glo Vrydagaand goed gegaan met hom waar hy in polisieaanhouding by die Brackenfell-polisiekantoor was. Die sanger Desmond Wells het aan Netwerk24 gesê ’n vriendin van hom het Van Aswegen bygestaan met regshulp en hy is ook deur minstens vier advokate gekontak wat bereid is om hom te verteenwoordig.

Voor dié skermutseling het Dlamini aan ongeveer 2 000 EFF-betogers gesê die EFF eis dat “onderwysers en lede van die beheerliggaam wat die geleentheid gereël het, verwyder word”.

Die skool en die Wes-Kaapse onderwysdepartement hou egter voet by stuk dat dit ’n private partytjie was en dat die skool niks met die organisering daarvan te doen gehad het nie.

Die geweld het uitgebreek op die kruising van Frans Conradie-rylaan en Paradysstraat, sowat drie blokke van die skool af.

Natalie Malgas, ’n joernalis vir eTV-nuus, is deur EFF-lede geteister en haar toerusting is van haar lyf af geruk. Sy is egter nie beseer nie.

EFF-lede agter lemmetjiesdraad by die betoging Vrydag. Foto: Adrian de Kock

Siviele eis kom dalk

Die Kaapstad-metroraad beoog ’n siviele eis teen die EFF om die skade te verhaal wat tydens Vrydag se betoging aan munisipale eiendom in Brackenfell aangerig is.

“Voorlopige verslae dui daarop dat ’n brandweerwa uitgebrand is, dat paaie en verkeersligte beskadig is en dat die EFF-betogers ’n veld aan die brand gesteek het,” sê die raad in ’n verklaring. Die koste van die skade moet nog bereken word.

Benewens munisipale eiendom het private ondernemings ook deurgeloop. Motorhandelaars op die hoek van Paradysstraat en Ou Paarlweg se vensters is stukkend geslaan en voertuie op die perseel het ook deurgeloop. Private voertuie is onder klippe gesteek.

“Volgens verslae is verskeie winkels geplunder,” lui die verklaring.

Dit sluit in die Hyundai-handelaar op die Ou Paarlweg waar minstens vier voertuie se ruite uitgeslaan is.

“Die EFF het dit duidelik gemaak dat hulle geen agting het vir die wet nie. Senior amptenare van die stad bepaal nou die skade aan die Kaapstad-metro se infrastruktuur,” sê Dan Plato, burgemeester van Kaapstad.

“Sodra dit gedoen is, sal die stad hierdie koste van die EFF verhaal. Ek wil die publiek verseker dat ons nie wetteloosheid in hierdie stad sal duld nie en dat die EFF verantwoordelik gehou sal word vir die skade.”

‘Ons is beter as dit’

Die Desmond en Leah Tutu-erfenisstigting het Vrydag in ’n verklaring die aanhitsing van rasseverdeeldheid ten sterkste veroordeel, maar ook vingers gewys na die onderwysdepartement oor sy hantering van die ontsteltenis oor die matriekpartytjie.

“Nie die onderwysdepartement in die provinsie, of die skool het al die geselligheid onomwonde veroordeel nie. “Dit lyk nie asof die polariteit in ons samelewing erken word nie, of dat hulle enige verantwoordelikheid voel om dit reg te stel nie,” lui die verklaring van die stigting.

Die departement het teruggekap: “Al die feite tot ons beskikking dui daarop dat niemand op grond van hul ras van die byeenkoms uitgesluit is nie, en dat dit ’n private geleentheid was wat buite die skoolterrein gehou is. As dit verander, sal ons dit beslis veroordeel. Ons kan egter nie voorskryf wie funksies bywoon wat nie skoolverwante bedrywighede is nie. Die Grondwet en die Handves van Regte verskans ook die vryheid van assosiasie.

“Die stigting het blykbaar ook nie ondersoek ingestel na of die departement die kwessie gepak het voordat hy beweer het dat ons nie ‘verantwoordelikheid aanvaar het om dit reg te stel nie’,” sê Bronagh Hammond, woordvoerder van die onderwysdepartement.

Meer oor:  Brackenfell  |  Aanklagte  |  . Hof  |  Inhegtenisname  |  Hoërskool Brackenfell  |  Eff  |  Verskyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.