Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Brackenfell: EFF moet vir skade betaal
EFF-lede beweeg oor die pad naby die Hoërskool Brackenfell tydens die betoging. Foto: Adrian de Kock

Die EFF moet R87 312 aan die Kaapstad-metro betaal ná ’n betoging in November verlede jaar in Brackenfell.

Die landdroshof in Kuilsrivier het dit Vrydag gelas in die saak tussen die metro en die EFF nadat lede van die party, die publiek en die polisie slaags geraak het tydens dié betoging deur lede van die EFF. Die betoging is gehou weens beweringe van rassisme by die Hoërskool Brackenfell.

Vroeër is berig die Brackenfell-poskantoor, voertuie by ’n motorhandelaar en voertuie van die polisie en metropolisie is tydens die betoging beskadig.

“Die EFF het in November aansoek gedoen om in die Brackenfell-gebied te betoog en het sodoende verantwoordelikheid aanvaar om aan wetgewing te voldoen en te verseker dat die betoging vreedsaam verloop. Dit het egter nie gebeur nie en die betogers het die polisie se bevele verontagsaam,” lui ’n verklaring van die metro.

“Die EFF het nie op ’n skadevergoedingseis gereageer wat die metro in Maart vanjaar aan hom gestuur het nie. Daarin word hul oortreding van die Wet op Byeenkomste, asook besonderhede rakende die skade, uitgestip.”

Betogers in November verlede jaar in Brackenfell. Foto: Adrian de Kock

Luidens die verklaring beloop die skade R87 312,25 en sluit dit skade aan ’n brandweerwa, ’n ambulans, agt verkeersligte, ’n verkeersligkas en vullisdromme in.

“Hoewel die reg op vreedsame betogings deur die Grondwet beskerm word, is daar geen rede om infrastruktuur te beskadig nie. Enigeen wat dit doen, moet daarvoor verantwoordelik gehou word,” lui die verklaring.

Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, sê hulle is bly dat die hof dit goedgedink het om diegene wat verantwoordelik is vir die skade verantwoordbaar te hou. “Ons inwoners hoef nie wetteloosheid te duld nie en ek dink dit stuur ’n sterk boodskap uit.”

Die betoging het gekom nadat daar beweer is dat net wit leerlinge na ’n private matriekafskeid by die skool uitgenooi is en geen van sy anderskleurige matrikulante nie.

’n Ondersoek deur die Wes-Kaapse onderwysdepartement het egter getoon die beweringe is ongegrond.

Melikhaya Xego, provinsiale voorsitter van die EFF, kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Meer oor:  Hoërskool Brackenfell  |  Kaapstad  |  Skade  |  Skadevergoeding  |  Eff
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.