Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Brackenfell se ‘Bonnie’ borgtog geweier

Die blonde ma van Proteahoogte, Brackenfell, wat verlede maand saam met haar kêrel op klagte van huisbraak en diefstal in hegtenis geneem is, sal vir eers agter tralies bly.

Landdros Cyril Kroutz het Maandag in die landdroshof in Stellenbosch borgtog aan ’n betraande Nelmari van der Westhuizen (40) geweier.

Hy het egter borgtog van R10 000 toegestaan aan haar kêrel, die 36-jarige Petrus Wilders.

Lees ook: Wynlande se eie ‘Bonnie en Clyde’ gevang

Kroutz het in sy uitspraak gesê Van der Westhuizen het ’n geneigdheid om dieselfde tipe misdrywe te pleeg waarvan sy nou weer aangekla is.

Sy het reeds vyf vorige veroordelings vir huisbraak met die doel om te steel en diefstal.

Die hof in Stellenbosch het Maandag borgtog aan Nelmari van der Westhuizen geweier. Foto: Facebook

Die hof het Maandag in die voortsetting van haar en Wilders se borgtogaansoek gehoor dat sy reeds in 1998 op aanklagte van huisbraak en diefstal gevonnis is. Daarna het haar paaie weer in 2008, 2009, 2013 en 2019 met dié van die gereg gekruis. Sy is toe ook op aanklagte van huisbraak met die doel om te steel en diefstal gevonnis.

Die hof het Maandag gehoor dat daar, benewens dié saak in Stellenbosch, twee ander sake teen haar vir huisbraak met die doel om te steel en diefstal hangend is.

Aanvanklik is berig dat Van der Westhuizen en Wilders in die Stellenbosse hof in verband met ’n voorval op 14 Maart in die boetiekhotel L’Ermitage in Franschhoek verskyn.

Dit het egter Maandag aan die lig gekom dat hul hofverskyning hier nie met die 14 Maart-voorval verband hou nie, maar wel met ’n voorval vroeër vanjaar op Le Pommier, ’n gesogte gasteplaas wat op die Helshoogtepas buite Stellenbosch geleë is.

Hulle sou glo twee aande in Le Pommier oorslaap, maar hulle het glo die eerste oggend nadat hulle daar ingeboek het, nie vir ontbyt opgedaag nie. Die hof het gehoor dat hulle die uitstaande R2 400 vir die kamer teen 14:00 die Saterdag sou betaal. Die Sondag het hulle weer nie vir ontbyt opgedaag nie en dit is toe dat die personeel van Le Pommier die beweerde diefstal van goedere uit die kamer ontdek het.

Die hof het ook gehoor dat die twee, volgens hul eie getuienis, lede van ’n sindikaat is.

Kroutz het verder in sy uitspraak gesê Van der Westhuizen se regsverteenwoordiger, Wildre Fourie, se argument dat sy ’n ma van vier kinders is en dat hulle finansieel van haar afhanklik is, gaan nie op nie.

Hy het gesê dat haar kinders in haar ouers se sorg is en dat haar ouers nog altyd vir haar vier kinders gesorg het – of sy nou in die tronk of vry was.

Fourie het ook aangevoer dat die staat se saak teen haar baie swak is. Volgens hom is daar geen beeldmateriaal of regstreekse getuienis wat haar met die diefstal verbind nie. Volgens Fourie is daar slegs omstandigheidsgetuienis teen haar.

Die hof het ook dié argument verwerp. Kroutz het Fourie daaraan herinner dat sy haar aandeel in die voorval erken het en dat sy ook van die gesteelde goedere teruggegee het wat by haar ouerhuis gevind is.

Kroutz het gesê die hof het nie die vermoë om in die toekoms te sien nie en kan nie voorspel of iemand wat op borgtog vrygelaat word, hulle weer tot misdaad sal wend nie. “Maar die hof moet die belange van die gemeenskap in ag neem en beskerm, en ongelukkig val beskuldigde nr. 1 in die kategorie van mense waar die moontlikheid groot is dat sy haar weer tot misdaad sal wend indien sy vrygelaat word.”

Die saak teen hulle is tot 14 Mei uitgestel.

Wilders en Van der Westhuizen staan ook in die landdroshowe in Bellville en Franschhoek op aanklagte van huisbraak en diefstal tereg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.