Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Brand-moorde: Man se gebaar in hof ontroer familie

’n Man van Hartswater in die Noord-Kaap het Donderdag met die verskyning van die vyf moordverdagtes in die Brand-moordsaak die gesin se familie met sy gebaar en ondersteuning ontroer.

George Mtshayi, ’n werknemer in die Phokwane-munisipaliteit se rekeninge-afdeling, het ’n T-hemp aangehad met ’n versoekskrif met agt punte wat aan Ronald Lamola, minister van justisie, Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, en pres. Cyril Ramaphosa gerig is, om só sy ondersteuning aan die familie van die Brand-gesin te betoon.

George Mtshayi het Donderdagoggend die hofverrigtinge van die Brand-moorde met 'n T-hemp met 'n versoekskrif daarop bygewoon. Die versoekskrif is aan verskeie ministers en die president gerig. Foto: Verskaf

Elzabie (54) en haar ouers, Breggie (73) en Dan Brand (83), is op 26 Julie in hul huis in die Vaalharts-skema oorrompel, ontvoer en later wreed vermoor.

Die moorde op die gesin het wyd opslae gemaak en selfs tot ’n debat oor plaasmoorde in die parlement gelei.

Mtshayi het Donderdag gesê die wrede plaasaanvalle ontstel hom en dat hy deur die Bybelstorie van die farao van Egipte se droom geïnspireer is om vir boere op te staan.

“Ek is ’n man wat my Bybel lees. Ek het in Genesis oor die farao se droom gelees en hoe Josef sy droom vir hom uitgelê het. In dié droom het sewe maer beeste sewe vet beeste opgevreet. Josef het aan die farao gesê dat daar ’n droogte van sewe jaar op pad is en dat hy graan moes plant en in die silo’s berg sodat sy mense nie sal honger ly nie. Dit het my laat besef hoe belangrik ons boere is en hoe nodig ons hulle het,” sê Mtshayi.

Hy wil ’n beroep op die president doen om na die landbouers van Suid-Afrika om te sien.

“Hy moenie soos (Julius) Malema maak soos hy wil nie. Hy moenie stilbly nie. Hy moet oor die ding praat. Oudpres. Mandela het van ’n reënboognasie gepraat, maar hoe moet ons só ’n land bou as ons boere vermoor word? Mý Here werk met die landbouers sodat hulle vir ons kan sorg.”

George Mtshayi met sy T-hemp aan waarop aan die agterkant staan dat die moord op die Brand-familie elke jaar herdenk moet word. Foto: Verskaf

Die versoekskrif op sy T-hemp vra onder meer dat Lamola moet deel wees van die Hartswater-moordsaak en dat Didiza ’n verskoning aan die Brand-familie moet rig.

Hy versoek drie lewenslange vonnisse vir elk van die moordenaars, dat die saak as ’n verraad-saak beskou word en dat borgtog nie aan die verdagtes toegestaan word nie.

Mtshayi vra ook dat die dood van die Brand-gesin jaarliks op 26 Julie herdenk word.

“Soos Mandela-dag moet die Brand Boerdery-dag jaarliks herdenk word en dit moet deur die Hartswater-plase begin word.”

Heidie Taljaard, een van die Brand-egpaar se dogters wat in die Kaap woon, het ’n foto van Mtshayi met die T-hemp ontvang.

Elzabie (54), Breggie (73) en Dan Brand (82) is op 26 Julie in hul huis in Hartswater oorrompel, ontvoer en later vermoor.Foto: Verskaf

Sy sê die gebaar het haar diep geraak. Sy het hom dadelik gebel en haar waardering vir sy ondersteuning uitgespreek. “George, so ongelooflik dankie vir dit wat jy doen. Dit was vir my so kosbaar om jou hemp te sien. Dit is vir my so spesiaal om te sien dat vreemdelinge saam met ons staan en voel. Ons harte is so stukkend oor dit wat ons verloor het. Ons ouers was regtig baie spesiaal,” het Taljaard aan Mtshayi gesê.

Die vyf verdagtes het vlugtig in die hof verskyn en die saak is tot 10 Desember uitgestel terwyl die staat op DNS-uitslae wag.

Meer oor:  Noord-Kaap  |  Polisie  |  Hof  |  Plaasmoord  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.