Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Brands uiters wreed gemoor

Elzabie Brand het vermoedelik nog gelewe toe sy in die veld vasgemaak is. Toe word sy verwurg.

Hul harte is stukkend nadat hul ouers en suster die afgelope week op hul plaas buite Hartswater vermoor is. Hier sit Danie en Breggie Brink se dogters, Trudie de Beer (naaslinks) en Heidie Taljaard, by hul mans, Cobus de Beer (links) en Wikus Taljaard, in hul ouers se huis wat hulle nou moet oppak. Foto: Suzanne Venter

Dit lyk of haar ma, Breggie (73), verbete geveg het voordat die aanvallers die oorhand gekry het.

Danie Brand was nooit sonder sy kêppie nie, het sy ander dogters, Trudie de Beer en Heidie Taljaard, die afgelope week aan Rapport vertel.

Maar toe kry ’n vriend dié hoedjie en sy bril waar dit by bebloede bakstene lê waarmee die 82-jarige blykbaar van agter op sy plaas naby Hartswater in die Noord-Kaap aangeval en doodgeslaan is.

Vermoor: Elzabie Brand en haar ouers, Breggie en Danie.

Die susters en hul mans is gedaan. Hul oë is moeg gehuil en nou moet hulle die huis oppak.

“My pa het in hierdie huis gebly vandat hy ses jaar oud was. Ons het nog nie krag om my pa se rekenaar af te sit nie. Hy het altyd gesit en speletjies speel op die rekenaar,” sê De Beer.

Taljaard vertel: “Ons het elke dag met my ma-hulle en sussie gepraat en verlede Sondag ook gebel en lekker gesels. Dit was naby aan twaalfuur die middag en net voordat hulle sou eet. My pa het gesê ‘luister, die ou vrou het lekker gekook’ en hy gaan nou groet, want daar is poeding ook. My pa was baie lief vir sy poeding.”

‘Dit was grusaam om te sien.’

De Beer het hulle ook probeer bel, maar die lyn was beset.

“Ek het besef Heidie praat met hulle en gedink ek sal later bel, want hulle gaan nou eet en dan ’n middagslapie vat.”

Toe De Beer en Taljaard hul ouers of suster ook nie Maandag in die hande kon kry nie, het Taljaard ’n ou skoolvriend, Stephen Bennie, gevra om ondersoek te gaan instel.

Swart en wit het Donderdag saam betoog teen plaasmoorde by die landdroshof in Hartswater.

“By die huis het ek gesien daar lê bebloede bakstene en ’n ysterpyp op die grond. En toe sien ek oom Dan se hoedjie en bril wat ook daar lê en het besef hier is groot fout,” sê Bennie. “Hy was nooit sonder daai kêppie nie. Ek is toe na die agterdeur en het bloedstrepe gesien soos hulle gesleep is. Die agterdeur en traliehek was oop en toe ek ingaan, het daar ’n bloedbad op my gewag.”

Dit was Maandagmiddag omstreeks 16:00. Hy het die eenheid vir gemeenskapsveiligheid in Vaalharts (GVE) en polisie dadelik gebel. Tien minute later was hulle met honde en al daar.

“Dis vir ons belangrik dat mense moet weet ons is geweldig beïndruk deur die polisie,” sê Taljaard. “Daar was talle vals berigte dat hulle geweier het om die saak te ondersoek en dat ’n saak al Sondag ingedien is, maar dis nie so nie. Hulle het uit hul pad gegaan en verskriklik hard en aanhoudend gewerk om my ma-hulle en die verdagtes te kry.”

Sy is baie geslaan en dit lyk of sy op die ou end verwurg is.

Bennie sê hulle het gesien die motors is weg en het besef die drie Brands is ontvoer.

“Ironies genoeg was dit altyd vir oom Dan ’n ding dat sy dogters nooit moet toelaat dat hulle tydens ’n aanval in ’n voertuig gelaai word sodat die aanvallers kan wegry met jou nie en toe gebeur dit nou met hom,” sê Bennie.

Breggie se lyk was in ’n watergat naby Taung, sowat 30 km van Hartswater. “Aanvanklik het ons gedink dis Elzabie, want dit was moeilik om te sien met die erge beserings wat sy opgedoen het,” sê Bennie.

Danie en Elzabie se lyke is etlike kilometer verder op verskillende plekke in die veld gekry. Hulle was vasgemaak en met takke toegepak.

Die vyf verdagtes in die landdroshof in Hartswater.

“Hulle het my skoonpa se skedel gekraak toe hy met die baksteen geslaan is en hy is waarskynlik aan sy hoofbeserings dood,” sê Cobus de Beer. Hy en sy swaer, Wikus Taljaard, moes Donderdag die lyke gaan uitken.

“Dit was die verskriklikste ding nog om te doen. Hulle het lelik seer gekry en dit was grusaam om te sien. Dit lyk of my skoonma ’n geweldige geveg opgesit het. Sy is gesteek met ’n mes soos sy geveg het, ook in die gesig, bors en keel. Sy was op medikasie om haar bloed te verdun en ons vermoed sy is dood weens bloedverlies.

“ ’n Lap is in Elzabie se mond ingedruk, met mening, seker om haar stil te kry, en met dié het hulle haar tong agter in haar verhemelte ingedruk. Albei vroue se gesigte was ook baie toegedraai met lap en ons vermoed hulle het versmoor,” sê Cobus.

“Elzabie was kaalvoet en patoloë sê hulle vermoed sy het nog geleef toe sy in die veld vasgebind is, want haar lyk is vol hoendervleis. Sy is baie geslaan en dit lyk of sy op die ou end verwurg is,” sê Wikus.

Daar was geen tekens dat die vroue verkrag is nie. “Daar is ook geen ledemate afgesny of skending van die liggame nie,” sê Cobus.

Die optog deur boere na die landdroshof in Hartswater Donderdag het vir die familie geweldig baie beteken. “Ons het so seer en terwyl almal praat oor die moorde is dit óns ouers en óns sussie. Maar Donderdag het ons besef dat ons nie al is wat seer het nie. Die gemeenskap huil saam met ons,” sê Heidie.

Hulle het die besoek van Nomandla Bloem, Noord-Kaapse LUR vir landbou, Vrydag baie waardeer.

“Ons het vir haar gesê daar moet gekyk word na die sensitiwiteit waarmee verskillende politieke leiers na boere verwys. Daar word sommer reguit gesê ‘kill the boer, kill the farmer’, en dan hoor jonger mense wat bloeddorstig is dit en dink dit word geregverdig as hulle dit doen, want dis dan ’n leiersfiguur wat so praat,” sê Cobus.

“En sy het saam met ons gestem,” sê Wikus.

Die plaas was reeds verkoop en al drie Brands sou binnekort Wes-Kaap toe getrek het.

Nou gaan net Biebie, die klein swart katjie wat ’n paar weke gelede by die huis aangekom en Elzabie se hart gesteel het, saam met Heidie en Wikus daar woon.

Meer oor:  Trudie De Beer  |  Breggie Brand  |  Heidie Taljaard  |  Danie Brand  |  Elzabie Brand  |  Hartswater  |  Plaasaanval  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.