Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Breker’ Leibrandt kry opgeskorte vonnis

Francois Leibrandt het Dinsdag erken hy het verlede jaar ’n polisiekonstabel en sy broer ernstig aangerand.

Leibrandt (24) en sy gewese meisie Cindy Esterhuizen (26) het in die landdroshof in Pretoria-Noord albei skuld beken op ’n klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Die staat het alle klagte teen die twee se medebeskuldigde, Jacques van der Merwe, teruggetrek.

Francois (Breker) Leibrandt op een van sy vorige hofverskynings in die landdroshof in Pretoria-Noord. Foto: Deaan Vivier

Al drie is in Junie 2019 saam in hegtenis geneem nadat konst. Leon Mentz van die Sinoville-polisiekantoor in Pretoria, en sy broer, Arrie, by ’n kuierplek aangerand, met ’n bottel geslaan en die konstabel met ’n stukkende drinkglas in die gesig gegooi is.

Mentz moes ’n oogspesialis gaan sien en verskeie operasies ondergaan. Hy moes ook sowat 82 steke aan sy gesig, byna 20 aan die agterkant van sy kop en aan sy een oor kry.

Later is agtergekom dat die glas ’n deel van sy een oogbal afgesny het, wat sy sig permanent beskadig het. Arrie het agt steke in sy gesig gekry.

Konst. Leon Mentz kort ná die aanval.

Leibrandt en Esterhuizen se pleitooreenkoms volg ná ’n bemiddelingsproses tussen al die partye waartydens op ’n “aanvaarbare” vonnis ooreengekom is.

Tydens die drie beskuldigdes se borgtogaansoek het die hof gehoor daar is verskeie ander soortgelyke sake in Pretoria teen Leibrandt.

Hy was ten tyde van die aanval op die Mentz-broers in al die ander sake óf op borgtog óf op waarskuwing vrygelaat.

Gevolglik is Leibrandt in die Mentz-saak borgtog geweier, terwyl Esterhuizen en Van der Merwe elk op borgtog van R1 000 vrygelaat is.

Leibrandt en Esterhuizen se pleitooreenkomste is nie Dinsdag by die hofrekord ingelees nie.

Landdros Naseema Khan het egter melding gemaak van ’n persoonlike brief wat Leibrandt aan Mentz en sy familie gerig het.

Jacques van der Merwe en Cindy Esterhuizen verlaat die hof ná een van hul vorige verskynings. Foto: Deaan Vivier

In dié brief het hy onder meer geskryf hy het “opregte berou oor sy dade”.

Khan het die hoop uitgespreek dat Leibrandt – wat nog jonk is, sy eie onderneming het en mense het wat vir hom omgee – sal “hou by sy woorde in sy brief”.

Sy het Leibrandt se pleit aanvaar en hom tot drie jaar gevangenisstraf gevonnis wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is. Leibrandt moet ook R195 000 aan die Mentz-broers betaal vir hul mediese koste en trauma waardeur hulle moes gaan.

Khan het Leibrandt ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

Esterhuizen is tot ses maande tronkstraf gevonnis wat vir drie jaar opgeskort is mits sy nie weer skuldig bevind word op klagte van aanranding nie.

Sy moet ook R55 000 skadevergoeding aan die twee broers betaal. Esterhuizen het ’n aansoek gebring dat sy nie onbevoeg verklaar word om ’n wapen te besit nie, wat deur Khan toegestaan is.

Meer oor:  Francois Leibrandt  |  Aanranding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.