Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Bruwers se aanvaller 20 jaar tronk toe

’n Jong man is in die Vrystaatse hooggeregshof tot 64 jaar tronkstraf gevonnis ná die koelbloedige moord en roof van die bekende Bruwer-egpaar van Vanstadensrus wat doodgeskiet is omdat hulle een van hul moordenaars se gesig gesien het.

Motlatsi Motsetse (links) en Tsediso Matankaba in die beskuldigdebank van die Vrystaatse hooggeregshof. Foto: ALZANE NARRAIN

Voordat Marian Bruwer (68) in die kop geskiet is, is sy eers in een van haar bobene geskiet. Dit was nadat sy net haar bankkaart en nie ook geld aan haar moordenaars oorhandig het nie, blyk uit die hofverrigtinge Woensdag voor regterpresident Cagney Musi.

Hy het Motlatsi Motsetse (19) van Wepener tot 20 jaar tronkstraf op elk van die moorde op Marian en haar man, Choppie (78), gevonnis.

Hulle is op 26 Junie verlede jaar – albei in stoele vasgebind en met koeëlwonde in die kop – in hul huis op die plaas Florida, sowat 3 km van die dorp, gekry.

Op ’n aanklag van roof is Motsetse tot 14 jaar en vir die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie tot tien jaar tronkstraf gevonnis.

Luidens ’n vonnisooreenkoms sal hy al die vonnisse só samelopend uitdien dat hy effektief tot 20 jaar tronkstraf gevonnis is.

Tsediso (Pina) Matankaba (27), wat na bewering die sneller getrek het, se verhoor is tot vroeg volgende maand uitgestel.

Ek wil nie sien as hy hulle skiet nie. Pina het toe die oupa en ouma in die kop doodgeskiet.

Motsetse, wat skuld beken het, vertel in ’n skriftelike bekentenis hoe hulle eers die “ouma” en daarna die “oupa” in die plaashuis oorval en in stoele vasgebind het.

“Ek sien ’n vuurwapen in ’n holster agter die oupa se rug. Sy hande was agter sy rug. Hy haal dit uit, maar omdat sy hande vas was, kon hy nie die vuurwapen gebruik nie.

“Ek vat die vuurwapen af en laat die oupa op die stoel sit en ons maak hom daarop vas en vra waar is die geld.”

Wyle Marian en Choppie Bruwer.

Hy sê nadat Matankaba die vrou met haar man se “Baby Brown” in die bobeen geskiet het, het sy vir hulle ’n groot kluis en sleutel gewys.

Hulle het ses gewere daaruit gehaal en die egpaar se selfone en ’n skootrekenaar gevat. “Ek gaan na die yskas waar ek kos gevat het.”

Buite het Matankaba gesê hulle moet die egpaar skiet. “Pina sê die oupa en ouma het sy gesig gesien en hulle moet doodgeskiet word.”

Motsetse het gesê hy kan nie ingaan nie. “Ek wil nie sien as hy hulle skiet nie. Pina het toe die oupa en ouma in die kop doodgeskiet.”

Hulle is toe met hul buit en die egpaar se motor daar weg. Toe kom Matankaba agter hy het sy selfoon in die huis gelos. Hulle is terug na waar die egpaar dood in die stoele gesit het, maar kon nie die selfoon daar kry nie. Hulle het dit in die motor gekry.

Matankaba het eers met die bankkaart R1 000 in Wepener en daarna in Dewetsdorp weer geld getrek. “Hy koop vir my ’n broek en skoene,” sê Motsetse.

Nadat hy in hegtenis geneem is, het hy vir die polisie gesê Matankaba het alles wat geroof is, gehad. Hy het net die skootrekenaar by hom gehad.

Adv. Moipone Moroka het aangekla. Leona Smit van SA Regshulp het vir Motsetse opgetree.

Meer oor:  Choppie Bruwer  |  Marian Bruwer  |  Moord  |  Doodgeskiet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.