Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Bure se vete draai weer in die hof

Twee strafregtelike aanklagte wat spruit uit ’n bitter en jarelange vete tussen twee voormalige bure van South End, het Donderdag weer in die hooggeregshof in Port Elizabeth gedraai.

Jacques Gouws beweer die Nasionale Vervolgingsgesag is besig met ’n komplot teen hom. Foto: Lulama Zenzile

Jacques Gouws, ’n afgetrede polisieman, en Carel du Preez het al in 2016 nuusopskrifte gehaal toe hul vete tot Gouws se inhegtenisneming gelei het.

In die jongste regsalvo het Gouws Donderdag twee aansoeke by die hof ingedien teen die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en landdros Eben Coltman.

Gouws, wat homself verteenwoordig, eis in sy hoofaansoek ’n opskorting van verrigtinge teen hom.

Hy staan in die landdroshof in Port Elizabeth tereg op aanklagte van aanranding en saakbeskadiging ná ’n onderonsie met du Preez by die Neopolis-meenthuiskompleks in September 2014.

Hy word ook deur drie siviele eise in die gesig gestaar omdat Du Preez hom ná dié voorval tot die hooggeregshof gewend het vir skadevergoeding.

In Desember 2014 het regter Elna Revelas ’n interdik teen Gouws bekragtig om Du Preez in vrede te laat. Hy is in 2016 in hegtenis geneem omdat hy dié bevel oortree het.

In hofdokumente beweer Du Preez Gouws het hom maande lank geteister en belaster.

Hy sê Gouws het talle briewe na die meenthuiskompleks se bestuursagent gestuur waarin hy Du Preez ’n “sekslose moffie” en ’n “low life scumbag” noem.

Die vete het in September 2014 breekpunt bereik toe Du Preez beweer het Gouws het hom aangerand en sy eiendom beskadig omdat hy sy motorligte op Gouws se venster geskyn het.

Du Preez het twee jaar gelede uit die kompleks getrek omdat die situasie vir hom onhoudbaar geraak het.

Gouws het Donderdag ook ’n dringende aansoek by die hooggeregshof ingedien waarin hy die NVG versoek om verdere besonderhede ten opsigte van die sake teen hom aan hom te verskaf.

Carel du Preez het siviele sake vir skadevergoeding teen Jacques Gouws aanhangig gemaak. Foto: Facebook

Volgens Gouws is die staat se gesloer om die hofsake af te handel onbillik. Hy sê die NVG het sy plig versuim om besonderhede aan hom te verskaf. Hy meen die NVG is “korrupte leuenaars en kop in een mus” met Du Preez.

Hy het ook vinger gewys na Indra Goberdan, direkteur van die NVG in die Oos-Kaap, wat volgens hom nie ag slaan op sy klagtes en die bewyse wat hy aan haar verskaf het om sy punt te staaf nie.

Adv. Hannelie Bakker, wat die NVG in die dringende aansoek verteenwoordig het, het gesê Gouws se aantygings teen die NVG is lasterlik, en sy aanval op die geloofwaardigheid van die respondente is nie relevant nie.

Volgens Bakker het die NVG op ’n openlike en eerlike wyse antwoorde en inligting verskaf op Gouws se versoeke.

“Hy het die persepsie dat die NVG oneerlik is, so hy gaan nooit tevrede wees met die inligting wat ons aan hom verskaf nie. Die klagstaat en die volledige dossier is in sy besit.

“Hy het ’n wanpersepsie dat die NVG daarop uit is om hom leed aan te doen. Dit is ’n samesweringsteorie.”

Adv. Vuyo Madokwe het die NVG in die hoofaansoek verdedig. Hy meen Gouws het geen gronde om te eis dat sy vervolging gestaak word nie.

Regter Lee-Anne Ah Shene het uitspraak voorbehou.

Meer oor:  Jacques Gouws  |  Carel Du Preez  |  Port Elizabeth  |  Sonde Met Die Bure  |  Bure
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.