Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Burgeroorlog’ in drukgroep DearSA

Die drukgroep Dear South Africa (DearSA), wat verlede jaar hard teen die verlenging van die ramptoestand baklei het en pas ook ’n rol gespeel het in ’n beleidsbesluit van Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, oor kragopwekking, is in chaos gedompel en sy webblad word na bewering onregmatig bedryf.

Ted Blom

Mantashe het onlangs aangekondig private kragopwekkingsprojekte van tot 10 MW mag sonder lisensiëring voortgaan, eerder as die 50 MW waarvoor die bedryf en selfs alliansievennote van die ANC gevra het. Hy het in die parlement gesê ’n opname het gewys 10 000 Suid-Afrikaners glo die laer perk van 10 MW is voldoende.

Nou blyk dit dié “opname” is gedoen op die webblad dearsouthafrica.co.za.

Rob Hutchinson, wat die webblad bedryf, word egter deur sy voormalige mededirekteure beskuldig van bedrog en wanbesteding van skenkings wat gedoen is aan die maatskappy DearSA NPC.

Hutchinson ontken alle bewerings en sê op sy beurt die ander twee direkteure, die kommentator oor energie, Ted Blom en die Kaapse verbruikersaktivis Sandra Dickson, wou hul hande op sowat R800 000 se skenkersgeld aan DearSA lê.

Wrywing het klaarblyklik eers behoorlik begin nadat die Indigo-trust sowat R800 000 aan DearSA geskenk het.

Dít is volgens Blom en Dickson ’n infame leuen.

Dié “burgeroorlog”, soos Blom die situasie in hofstukke beskryf, woed tans in die hof nadat ’n likwidasie-aansoek teen DearSA NPC in April voorlopig toegestaan is aan die Britse Indigo-trust, een van DearSA se grootste skenkers. Die likwidateur, Johan Engelbrecht, het Vrydag aan Rapport gesê DearSA NPC se sake “maak nie sin nie”.

Hy het reeds met Blom en Dickson gepraat en moet nog met Hutchinson vergader om die kwessie uit te pluis.

Die hof sal op 27 Julie besluit of ’n finale bevel uitgereik moet word.

Intussen bedryf Hutchinson steeds verwoed veldtogte op die DearSA-webblad oor sake soos voorgestelde wetswysigings.

Uit hofstukke blyk dit dat DearSA NPC in 2017 gestig is en dat Blom, Dickson en Hutchinson in 2018 direkteure geword het. Hulle wou dit makliker maak vir die publiek om deel te neem aan amptelike konsultasieprosesse wanneer nuwe wetgewing voorgestel word.

Dit blyk dat Blom en Dickson nie betrokke was by die dag-tot-dag werksaamhede nie. Hulle het dit, asook die bedryf van die webblad, aan Hutchinson oorgelaat.

Rob Hutchinson
Sandra Dickson

Wrywing het klaarblyklik eers behoorlik begin nadat die Indigo-trust sowat R800 000 aan DearSA geskenk het.

Blom en Dickson beweer dat Hutchinson vir hulle probeer wegsteek het dat die geld reeds in DearSA NPC se bankrekening inbetaal is en nie gereageer het op ’n versoek om die volledige bankstate aan hulle te verskaf nie.

Blom noem Hutchinson in hofstukke ’n “probleemkind” wat sowat R90 000 van DearSA se geld bestee het sonder magtiging.

Hutchinson beweer weer veral Blom het eers regtig begin belang stel in DearSA toe hy hoor wesenlike bedrae geld is geskenk.

Blom en Dickson sê hulle was bekommerd oor Hutchinson se hantering van skenkings en het die organisasie se bankrekening op 28 Oktober verlede jaar deur FNB laat bevries.

’n Paar dae later het die Indigo-trust geëis dat sy skenkings van sowat R800 000 terugbetaal word.

’n Hofaansoek van Indigo en Hutchinson om die bankrekening te laat ontvries, is in Desember verlede jaar van die hand gewys omdat die hof dit nie as dringend beskou het nie.

Op 1 April vanjaar is Hutchinson uitgestem as direkteur en ’n derde direkteur, Mike Heyns, aangestel.

Die Indigo-trust het toe aansoek gedoen om DearSA NPC te laat likwideer.

Hutchinson beweer Blom en Dickson het DearSA se bankrekening leeggetrek toe dit kortstondig aan die einde van April ontvries is en voordat dit in voorlopige likwidasie geplaas is. Volgens hom was daar toe R1,4 miljoen in.

Engelbrecht het aan Rapport gesê daar is in dié tyd betalings gemaak, maar die bankrekening is nie leeg nie.

Nadat Hutchinson die bankbesonderhede vir skenkings op die webblad verander het in dié van ’n maatskappy met ’n soortgelyke naam, DearSAfrica NPC, wat hy beheer, het Dickson in Februarie ’n klag by die internetdiensverskaffer ingedien.

Die webblad is kortstondig gesluit, maar was weer aktief nadat Hutchinson dit glo via Brittanje herlei het.

DearSA NPC se drie huidige direkteure het hulle van die webblad gedistansieer en hou vol dat dit onregmatig bedryf word, maar Hutchinson voer aan dat hy die webblad begin het nog voordat DearSA NPC tot stand gekom het.

Hy het die handelsmerk DearSA geregistreer en het geen ander keuse gehad as om ’n nuwe maatskappy sonder winsbejag met sy eie bankrekening te stig toe DearSA se bankrekening bevries is nie.

Die Indigo-trust se prokureur in Suid-Afrika het nie op Rapport se navrae gereageer nie.¦ Rapporthet in 2019 berig dat Blom die voorsitter was van GNCC Capital, ’n Amerikaanse firma wat aan beleggers voorgehou het dat hy sou geld maak uit die Suid-Afrikaanse daggamark, sonder dat hy ’n lisensie of ’n enkele plantjie gehad het.

Meer oor:  Ted Blom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.