Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Bushiri’s: Appèlsaak uitgestel
Die selfverklaarde profeet en sakeman Shepherd Bushiri, en sy vrou, Mary.

Die saak waarin Malawi se direkteur van openbare vervolging appèl aanteken teen die vrylating van die selfverklaarde profeet en sakeman Shepherd Bushiri, en sy vrou, Mary, is in die hooggeregshof in Lilongwe tot 14 Desember uitgestel.

Dit is omdat die egpaar die jurisdiksie van die hof bevraagteken om ’n strafregtelike appèl aan te hoor in wat hulle meen ’n siviele saak is, het Wapona Kita, hul regsverteenwoordiger, Dinsdag aan News24 bevestig.

Die Bushiri’s het verlede maand uit Suid-Afrika gevlug waar hulle van bedrog, korrupsie en geldwassery van meer as R100 miljoen aangekla word.

’n Laer hof in Lilongwe het sowat twee weke gelede gelas die egpaar moet vrygelaat word omdat hul voorlopige inhegtenisneming in Malawi volgens hom onwettig was.

Die direkteur van openbare vervolging appelleer teen dié beslissing.

Die egpaar het hulle in Malawi aan die polisie oorgegee nadat Suid-Afrika Interpol se hulp ingeroep het omdat hulle hul borgtogvoorwaardes verbreek het.

Hul borgtoggeld sowel as ’n huis in Midstream Estate in Centurion is al deur die landdroshof in Pretoria aan die staat verbeurd verklaar.

Suid-Afrika het intussen die nodige amptelike dokumente deur die vereiste diplomatieke kanale aan die owerhede in Malawi gestuur waarin gevra word die egpaar moet aan Suid-Afrika uitgelewer word.

Dit beteken die egpaar kan nou weer in hegtenis geneem word.

Shepherd Bushiri staan in Suid-Afrika ook tereg op drie aanklagte van verkragting.

Die egpaar hou vol hulle is onskuldig. Hulle wil nie aan Suid-Afrika uitgelewer word nie omdat hulle sê hulle sal nie ’n regverdige verhoor hier kry nie. – Sarel van der Walt

Meer oor:  Shepherd Bushiri
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.