Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Bylsma oor ‘teenstrydige getuienis’ geroskam
Mercia Bylsma, Xander se ma, gee hom ’n drukkie in die hof. Foto: Deaan Vivier

Die staat het Xander Bylsma (20) Maandag geroskam weens sy teenstrydige getuienis, onder meer oor wanneer hy waar was tydens en kort ná die Stella-moorde.

Adv. Sakkie Nel, sy regsverteenwoordiger, het toe getuienis in die hooggeregshof in Mmabatho aangebied wat deels klop met Bylsma se jongste weergawe oor sy bewegings.

Adv. Sakkie Nel
Adv. Sakkie Nel, Xander Bylsma se regsverteenwoordiger. Foto: Deaan Vivier

Bylsma ontken skuld vir die moorde op Sharnelle Hough (17) en Marna Engelbrecht op 26 Mei 2018 in Stella.

Adv. Johan Smit SC, vir die staat, het Bylsma se verskillende weergawes voorgelees uit onderskeidelik sy bekentenis ure ná die moorde, sy verklarings tydens sy borgtogverhoor einde 2018, en sy getuienis in die binneverhoor vroeër vanjaar.

Bylsma het soms beweer hy is omstreeks 03:00 uit Stella, en ander kere weer dat hy om 02:30 daar weg is. Bylsma het Maandag getuig hy het omstreeks 03:30 op die plaas Kameelfontein, sowat 64 km van Stella, aangekom. Sy ma, Mercia, het daar gewoon en gewerk. Hy het getuig hy het sowat 45 minute by die hek gesit en rook, koeldrank gedrink en musiek geluister tot hy gery en omstreeks 04:20 by sy ma se blyplek was.

Vroeër het hy getuig hy was eers om 05:00 by sy ma se huis.

Bylsma se verduideliking vir dié en ander teenstrydighede was telkens dat hy net “vaagweg” of glad nie kan onthou nie omdat dit lank terug was.

Smit het aan Bylsma gesê hy “lieg” omdat hy sover moontlik wil wegkom van 04:21 die oggend van Saterdag 26 Mei – die laaste keer wat Sharnelle se selfoon aktief was. Vermoedelik haar en Marna se moordenaar het ook om 04:17 ’n boodskap van Sharnelle se foon gestuur om die indruk te wek dat hulle hulself om die lewe gebring het.

Nel het Michael du Preez van die maatskappy Ctrack, wat opsporingstelsels in voertuie installeer, Maandag geroep om te getuig. Du Preez het getuig ’n vragmotor met een van hul toestelle is op 26 Mei 2018 om 04:02 op die plaas Kameelfontein aangeskakel.

Dit het omstreeks 04:30 afgedraai na die hoofpad na Vryburg. Dié besonderhede klop met Bylsma se weergawe dat hy in dié tyd ’n Volvo-vragmotor by die plaas sien uitry het waar hy by die hek gesit het. Hy het getuig hy het nie ’n nommer op die vragmotor gesien nie.

Sy ma het destyds vir Freddie MacDonald, eienaar van die plaas, se vervoeronderneming gewerk. Bylsma het Maandag getuig sover hy weet het sy nie toegang tot die vervoerrekords of -afdeling gehad nie.

Regter Ronald Hendricks wou by Du Preez weet of hy net opdrag gekry het om die bewegings van een van MacDonald se meer as 350 voertuie na te gaan en hoe hy geweet het wat die nommer van die vragmotor is wat hy moet ondersoek.

“Ek het opdrag gekry om net een te kontroleer, maar het uit my eie ook al die ander gekontroleer. Net dié vragmotor het in daardie tyd uit die plaas gery. Die verdediging het die nommer van die vragmotor aan my verskaf. Daar is in my verslag geen verwysing dat dit ’n Volvo was nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.