Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Cameron stuur balju na eks se pa se huis

Die Olimpiese swemkampioen Cameron van der Burgh soek die geld wat sy eksmeisie se familie hom skuld nadat ’n aandeletransaksie tussen hulle platgeval het.

Cameron van der Burgh en Jana Botes (nou Nel) in 2012. Foto: Cornél van Heerden

Van der Burgh (31), wat in ’n spogbuurt in Londen woon, het reeds die balju laat stuur na twee familielede van sy eksmeisie, Jana Nel, maar die balju het onverrigter sake teruggekom nadat hy nie genoeg bates kon kry nie.

Al wat nou oorbly om Van der Burgh se skuld te delg, is ’n huis in Menlopark, Pretoria, wat behoort aan Nel se pa, Johan Botes (57).

Botes woon in Dallas, Texas, en dié huis is glo die laaste van sy bates wat in Suid-Afrika oor is.

Van der Burgh se aansoek dat dié huis in 13de Straat uitwinbaar verklaar word, word in Augustus in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor.

Die hof het op 18 Junie in ’n dringende bevel vir Botes verbied om die huis te verkoop totdat Van der Burgh se hofaansoek afgehandel is. Van der Burgh het die bevel bekom nadat Botes se prokureur hom ingelig het dat hulle ’n koper vir die huis gekry het. Van der Burgh het gevrees as die koop deurgaan, sal hy nie ’n sent sien van die meer as R340 000 wat nog aan hom geskuld word nie.

Eksmeisie se familie ‘skuld swemmer R340 000’.

Die swemmer en Nel se verhouding het omstreeks 2013 op die rotse geloop. Sy is later met iemand anders getroud en bedryf deesdae haar eie ontwerp-onderneming in Pretoria.

Van der Burgh se sakeverhouding met sy mede-aandeelhouers by Consilia Investments – waarby Nel, haar pa en nog drie mense betrokke was – het ook skeefgeloop.

Van der Burgh sê in hofstukke dié vyf van Consilia het in Februarie 2015 sy 2 250 aandele in die onderneming gekoop, maar hom nie die volle R860 000 betaal waarop ooreengekom is nie. Hulle het hom R659 447 geskuld.

Hy het hulle in 2017 hof toe geneem oor die skuld en daarna is net sekere paaiemente daarvan aan hom betaal.

Hy het verlede jaar ’n lasbrief gekry waarmee die balju van Pretoria-Oos roerende bates van Johan Botes en Wynand Botes moes gaan opskryf, maar die balju kon nie genoeg bates by hul huise kry nie.

Al wat by Johan Botes se huis was, was ’n Mercedes-Benz van R60 000 en nog sowat R10 000 se los bates, het die balju gesê.

Van der Burgh sê hoewel van die skuld gedelg is, is daar steeds R343 311 plus rente aan hom verskuldig.

Van der Burgh se prokureurs sê in hofstukke die huis is Johan Botes se enigste oorblywende bate in Suid-Afrika.

“Dit blyk (Botes) het ’n lewe oorsee gebou en het geen plan om terug te keer nie.”

Meer oor:  Cameron Van Der Burgh  |  Eis  |  Skuld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.