Die veroordeelde rassis Adam Catzavelos is Vrydag 'n boete van R50 000 of twee jaar tronkstraf, opgeskort vir vyf jaar, opgelê in die Randburg-landdroshof in Johannesburg.

Adam Catzavelos Vrydagoggend in die hof. Foto: Arisa Janse van Rensburg
Dit volg nadat hy verlede jaar skuld beken het op ’n aanklag van crimen injuria vir die gebruik van die k-woord.
Die saak spruit uit ’n video wat in 2018 wyd en syd versprei is, waar Catzavelos die k-woord herhaaldelik gebruik terwyl hy op ’n Griekse strand vakansie hou.
Hy het by monde van sy regsverteenwoordiger erken dat die gebruik van die k-woord mense se waardigheid aangetas het.
Sy vonnisverrigtinge het 13 Februarie begin waartydens hy gesê het hy is nou “’n nuwe mens” en “heeltemal wedergebore”.