Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Cecilia getuig oor al die ‘persoonlikhede in haar’

“Blykbaar is sy deel van my – ’n volwassene,” het Cecilia Steyn Dinsdag in die hooggeregshof in Johannesburg getuig toe sy uitgevra is oor Akhesia, na bewering ’n bose leier van al haar verskillende persoonlikhede.

Cecilia het getuig dat sy kort voor haar inhegtenisneming ’n sielkundige oor haar dissosiatiewe identiteitsteuring (DID) gaan spreek het.

Sy staan saam met Zak Valentine (34) en Marcel Steyn (21) tereg op 11 moorde en ’n rits klagte wat daarmee verband hou, soos die bedryf van ’n onderneming wat gemoor het om geld te bekom.

Cecilia Steyn
Cecilia Steyn Dinsdag in die getuiebank. Foto: Felix Dlangamandla
Netwerk24 Felix Dlangamandla

Cecilia het getuig dat sy van ander mense verneem het dat verskillende persoonlikhede in haar na vore kom.

“Weet jy watter persoonlikhede het na vore gekom?” het adv. André Coetzer, haar regsverteenwoordiger, gevra, waarop Cecilia ontkennend geantwoord het.

Sy het getuig sy het besef daar skort iets en dat sy sielkundige hulp moet kry omdat “tyd verlore gegaan het”.

“Een oomblik sal ek besig wees met iets, en die volgende oomblik met iets anders besig wees,” het sy getuig.

Adv. Gerrit Roberts SC het Cecilia tydens kruisondervraging gevra oor ’n e-posadres waarin die naam “Xena” voorkom.

“Wie is Xena? Een van jou persoonlikhede?” het Roberts gevra, waarop Cecilia geantwoord het sy weet nie.

Cecilia Steyn
Cecilia Steyn Dinsdag in die getuiebank. Foto: Felix Dlangamandla
Netwerk24 Felix Dlangamandla

Op Roberts se vraag: “En wie is Anja?” het Cecilia gesê sy het gehoor dis “’n driejarige”.

Candice Rijavec, ’n grafiese ontwerper en voormalige vriendin van Cecilia, het vroeër getuig Akhesia was “tweede in beheer” van Cecilia se meer as 100 persoonlikhede. In ’n brief wat as bewysstuk by die hof ingedien is, word die leser teen “Akhesia” gewaarsku – “sy sal jou doodmaak wanneer jy nie kyk nie”. Daar is getuig Anja, die driejarige meisietjie, is die “suiwerste deel van Cecilia” en Daphne is ’n kranige kok.

Op Roberts se vraag Dinsdag oor wat die verskil tussen Anja en Akhesia is, het Cecilia geantwoord: “Seker maar die ouderdom.”

Cecilia het Roberts toe aangeraai om eerder die sielkundige vrae aan haar sielkundige te stel.

Cecilia het betrokkenheid by al die moorde en gepaardgaande misdrywe ontken en ook dat sy ooit by satanisme betrokke was, buiten dat sy haar op skool by die “goths” geskaar het. Sy het getuig sy het die skool op 15-jarige ouderdom verlaat.

Cecilia het verder volgehou dat daar nooit ’n onderneming bestaan het nie, selfs nadat adv. Amanda Nel, wat namens Valentine optree, Marinda Steyn (52) se pleitooreenkoms aan haar voorgehou het.

Ek twyfel of verskeie staatsgetuies sou saamsweer om ’n gemeenskaplike getuienis teen jou ‘te skep’.
Adv. Gerrit Roberts SC

In dié pleit erken Marinda dat sy die bestuurder van sodanige onderneming was.

Marinda is in Mei 11 lewenslange vonnisse (wat saamlopend uitgedien word) asook nóg 115 jaar vir haar aandeel in die Krugersdorp-moordsaak opgelê. Sy gaan na verwagting ook vandeesweek vir Cecilia getuig.

Cecilia het getuig Marinda het ’n “raadgewende rol” in die vriendekring vertolk, “want sy was die oudste”.

Nel voer aan Cecilia is in hegtenis geneem nadat Le Roux Steyn (23) en John Barnard (42) – albei voormalige lede van die groep wat reeds gevonnis is – bekentenisse afgelê het.

“Ek het niks teen Le Roux nie, maar verstaan nie waarom hy dit doen nie,” het Cecilia Nel geantwoord.

Nel: “Dink jy John Barnard impliseer jou ook onregverdig?”

“Ja, ek dink Le Roux beïnvloed hom,” het Cecilia geantwoord.

Nel het dit verder aan Cecilia gestel dat dele van haar getuienis totaal strydig is met dié van sekere staatsgetuies.

“Ek twyfel of verskeie staatsgetuies sou saamsweer om ’n gemeenskaplike getuienis teen jou ‘te skep’,” het Nel volgehou.

Meer oor:  Marcel Steyn  |  Zak Valentine  |  Cecilia Steyn  |  Getuienis  |  Afspraakmoorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.