Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Cele weet glo niks van saak teen Sitole en ander

Die nasionale minister van polisie “weet niks” van ’n verdoemende hofuitspraak dat die nasionale polisiekommissaris en ander korrupsie-ondersoeke in die polisie probeer belemmer het nie.

Dít nadat hulle geweier het om dokumente aan die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) te oorhandig wat as deel van korrupsie-ondersoeke versoek is.

Bheki Cele, minister van polisie.

Bheki Cele, die minister, het Donderdagmiddag hoog en laag voor LP’s in die portefeuljekomitee oor polisie gesweer dat hy niks van dié uiters belangrike hofuitspraak teen genl. Khehla Sitole, nasionale kommissaris, en twee nasionale adjunkkommissarisse weet nie.

Cele het saam met Sitole voor dié komitee verskyn om onder meer oor die stabiliteit in die polisie verslag te doen.

Cele is Sitole se politieke hoof, maar hul verhouding het blykbaar erg versuur.

Albei is tans onder enorme druk oor die polisie se trae hantering van die onlangse onluste en plundering in KwaZulu-Natal en Gauteng.

Hulle moet Vrydag weer voor die parlement in ’n amptelike ondersoek na die onluste verskyn.

Lt.genl. Godfrey Lebeya, nasionale Valke-hoof, het ook aan LP’s gesê verskeie aanhitsers van die onluste en plundering is reeds in hegtenis. Die Valke en nasionale vervolgingsgesag ondersoek dit saam.

Cele se uitlatings oor die Sitole-hofuitspraak het gekom nadat LP’s in ’n vraag-en-antwoordsessie wou weet of Sitole en sy adjunkte daaroor getug sal word óf gaan bedank.

Netwerk24 het Dinsdag berig dat Sitole na bewering ’n maand lank versuim het om Cele in te lig dat sy en ander se aansoek om verlof tot appèl teen ’n hooggeregshof-uitspraak reeds op 30 Junie vanjaar van die hand gewys is. Dit was nadat die hooggeregshof bevind het dat hulle die klassifikasie van dokumente “as rookskerm gebruik het”.

Opod het dié dokumente vroeër versoek in sy ondersoek na die verkryging van ’n selfoonsein-onderskepper teen die opgejaagde prys van R45 miljoen van die polisie se topbestuur.

Vroeër is ook berig dat Robert McBride, Opod se voormalige uitvoerende direkteur, in sy hofstukke aangevoer het dat die vermoede bestaan dat die betrokke R45 miljoen glo gebruik sou word om stemme op die ANC se Nasrec-konferensie in 2017 te koop.

Cele het bygevoeg dat hy Woensdag toevallig van die appèlhofuitspraak teen Sitole uitgevind het.

Volgens hom moes hy ook deur “gerugte” hoor dat die regskoste wat daarmee gepaardgaan sowat R1,8 miljoen beloop. Hy weet egter nie wie die geld afgeteken het nie.

Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris.

Sitole het op sy beurt gesê oproepe dat hy en die ander moet bedank, is “voortydig”.

Volgens hom het die inspekteur-generaal van intelligensie reeds die kwessie van die sein-onderskepper ondersoek en hulle vrygespreek.

“Die hofuitspraak is gegrond op die klassifikasie en deklassifikasie van dokumente. Die bevindinge van die inspekteur-generaal is nie daarin in ag geneem nie. Geen selfoonsein-onderskepper is in elk geval ook aangekoop nie. Die kwessie word steeds hersien.”

Oor die stabiliteit in die polisie, het Tina Joemat-Pettersson, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie, egter aan Cele en Sitole gesê dat daar sedert 2009 agt permanente en waarnemende nasionale polisiekommissarisse in Suid-Afrika was.

“Dit het die ontwrigting en onstabiliteit geskep wat ons sien. Ons het byna 200 generaals en 600 brigadiers wat gesamentlik R1 miljard verdien.”

Dít terwyl die polisie die afgelope twee jaar weens begrotingsbesnoeiings geen nuwe rekrute in diens kon neem nie. Dit beteken minder beamptes op grondvlak.

Volgens haar het die vroeëre huurmoord op lt.kol. Charl Kinnear in Kaapstad ook die moontlike samespanning tussen polisiebeamptes en misdadigers teen polisie-ondersoekers skerp onder die vergrootglas geplaas.

Joemat-Pettersson het bygevoeg dat senior polisie-offisiere ook talle hofgedinge teen Sitole oor sy besluite ingedien het. Volgens haar skep dit alles ’n “duidelike prentjie van onstabiliteit in die polisie”.

Meer oor:  Bheki Cele  |  Minister  |  Uitspraak  |  Polisiekommissaris
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.