Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Centurion-aanval: Seun trek aansoek om borgtog terug

Ruan van Heerden, die 18-jarige jong man wat glo by was toe sy ouers in die vroeë oggendure van 10 Januarie met ’n mes en ’n gholfstok aangeval is, het Woensdag sy aansoek om borgtog laat vaar, omdat hy geen vaste adres – ook nie sy ouerhuis – het nie.

Hy word saam met Colson Phelps (20) en ’n 17-jarige meisie aangekla van poging tot moord op Magda (49) en Barnie (54) van Heerden, sowel as van roof met verswarende omstandighede en motordiefstal.

Barnie is destyds kort ná die voorval uit die hospitaal ontslaan.

Ruan van Heerden en Colson Phelps in die beskuldigdebank gedurende ’n vorige hofverskyning.Foto: Deaan Vivier

Magda, wat steeds in die waakeenheid is nadat sy glo meer as 20 keer met ’n mes gesteek is, se toestand het egter versleg.

“Dit gaan nie so goed met haar nie. Ons vermoed daar het septisemie ingetree,” sê Stiaan Bekker, familiewoordvoerder.

Die voorval het gebeur enkele dae nadat Van Heerden ná ’n tydperk by ’n rehabilitasiesentrum vir dwelmverslawing teruggekeer het na sy ouerhuis in Pierre van Ryneveld-park, Centurion.

Die drie verdagtes het Woensdag weer in die landdroshof in Pretoria verskyn waar die twee mans om borgtog aansoek sou doen.

Thomas Mohale, Van Heerden se regshulp-prokureur, het egter in die hof gesê hulle het ná konsultasie besluit om sy borgtogaansoek te laat vaar.

“Omdat die slagoffers die beskuldigde se ouers is, het hy nie ’n alternatiewe adres (waar hy kan bly, sou hy vrygelaat word) nie. Dit sal dus nutteloos wees om met ’n borgtogaansoek voort te gaan,” het Mohale verduidelik.

Phelps se aansoek het wel voortgegaan, maar is onderbreek en uitgestel omdat die staat wou hê hy moet vir evaluasie na ’n distriksgeneesheer geneem word. Phelps het in sy borgtogverklaring aangevoer hy het ’n geestesgesondheidsprobleem.

Luidens dié verklaring het hy ’n geskiedenis van geestesongesteldheid.

Dit het glo daartoe gelei dat hy homself vroeg in 2019 om die lewe wou bring.

’n Psigiater het toe bevind dat Phelps in ’n stadium psigoties was en bipolêre gemoedsversteuring by hom gediagnoseer.

My inhegtenisneming en aanhouding was ’n sterk wekroep en ek het besef dat ek my (psigiatriese) medikasie en behandeling benodig...
Ruan van Heerden.

Sy ouers en regspan het ná sy inhegtenisneming met die sielkundige gekonsulteer, wat toe die psigiater gekontak het.

Hulle was dit eens dat Phelps opvolg-konsultasies benodig en selfs moontlike hospitalisering.

“My inhegtenisneming en aanhouding was ’n sterk wekroep en ek het besef dat ek my (psigiatriese) medikasie en behandeling benodig,” lui sy verklaring.

Hy voeg by dat hy sowat drie maande voor sy inhegtenisneming homself van die medikasie probeer “speen” het met die hoop dat hy daarsonder sou kon klaarkom.

“Ek het gedink ek is sterk genoeg om daarsonder te oorleef,” lui Phelps se verklaring.

Hy besef nou, voeg hy by, hy sal met sy behandeling moet volhou.

Die verklaring lui voorts dat Phelps ’n kelner by ’n kuierplek in die Grove-winkelsentrum in Pretoria is.

Hy werk hard om geld te verdien en poog om werkservaring, sowel as ’n reputasie as betroubare werknemer, op te doen.

Sy geld is beperk en hy is afhanklik van sy ouers om “ ’n dak oor my kop te verskaf”, sowel as van hul siekefonds.

“Niemand van ons kan bekostig dat ek my borgtog verbeur nie. Ek sal ook nie my familie verdere trauma aandoen deur te vlug en die borgtoggeld, wat ons bymekaar sal moet skraap, te verbeur nie,” sê hy.

Phelps voer ook aan hy ken nie die slagoffers in dié saak nie.

Hy wou wel sy “diepste simpatie” met hulle betoon vir die emosionele en fisieke lyding, sowel as met sy ouers.

Tumi Phongola-Nkosi, staatsaanklaer, het hierop gesê in die lig van die inligting rakende Phelps se geestestoestand, ag die staat dit nodig dat hy na ’n distriksgeneesheer geneem word vir evaluasie, voordat die borgtogaansoek voortgaan.

Die saak is toe vir dié doel uitgestel.

* Die minderjarige meisie is vroeër in haar ma se sorg vrygelaat.

Meer oor:  Ruan Van Heerden  |  Centurion  |  Gesteek  |  Seun  |  Aangekla  |  Aanval  |  Poging Tot Moord  |  Ouers  |  Vriend
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.