Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Centurion-aanval: Só lyk 3de verdagte

Die hardeskyf wat gesteel is toe ’n egpaar van Centurion met ’n gholfstok en ’n mes aangeval is, was deel van hul huis se veiligheidskamerastelsel.

Dit blyk dat die aanvallers vermoedelik geweet het dat hulle op kringtelevisiekamera vasgevang sou wees.

Ruan van Heerden
Ruan van Heerden (18) tydens sy hofverskyning Maandag. Foto: Deaan Vivier

Die hardeskyf is luidens bronne later in Barnie van Heerden se gesteelde bakkie gevind, wat deur die aanvaller(s) naby Tembisa aan die Oos-Rand gelaat is.

Barnie (54) en Magda (49) van Heerden is in die oggendure van 10 Januarie in hul huis in Pierre van Ryneveld Park, Centurion, aangeval.

Barnie is met ’n gholfstok geslaan en met ’n mes gesteek. Magda is verskeie kere gesteek.

Benewens die twee aanklagte van poging tot moord wat hieruit spruit, lui die klagstaat ook dat die egpaar van onder meer selfone, ’n beursie met bankkaarte, die hardeskyf en ’n handsak beroof is.

Barnie se bakkie is ook gesteel.

Ruan van Heerden (18), die egpaar se enigste kind, is enkele ure later naby Aliwal-Noord in die Oos-Kaap in

’n Uber-huurmotor gekry en in hegtenis geneem.

Sy 17-jarige vriendin is Maandag in Waterkloof in hegtenis geneem.

Dinsdag is Colson William Phelps (22) van Faerie Glen, Pretoria, by sy werk – ’n kuierplek in die Grove-winkelsentrum, ook in die ooste van Pretoria – vasgetrek.

Hy het Donderdag in die landdroshof in Pretoria verskyn, waar hy grootoog en verskrik voorgekom het.

Die 17-jarige meisie is terselfdertyd vanaf die kinderreghof na die strafhof oorgeplaas sodat sy saam met Phelps kon verskyn.

Haar regsverteenwoordiger, Stephan Schoeman, het hierop versoek dat die hofverrigtinge in camera gehou word omdat sy kliënt minderjarig is.

Colson William Phelps
Colson William Phelps (22) Foto: Facebook

Die aanklagte teen haar en Phelps is toe op dieselfde klagstaat as Van Heerden s’n gevoeg en al drie sal volgende week saam in die hof verskyn.

Phelps bly in aanhouding, terwyl die meisie in die sorg van haar ma vrygelaat is.

Dit blyk luidens bronne dat Van Heerden op Oujaarsdag uit ’n rehabilitasiesentrum vir ’n dwelmverslawing ontslaan is.

Op sy tweede Donderdagaand tuis het Barnie sy seun en die 17-jarige by die fliek gaan aflaai, hulle later weer gaan haal en toe by die meisie se huis afgelaai om nog ’n bietjie te kuier.

Die twee jongmense is egter toe na die kuierplek waar Phelps werk.

Omstreeks middernag het ’n motor voor die Van Heerden-huis stilgehou.

Twee mans (na bewering Van Heerden jr. en Phelps) is glo die huis in.

Daardie voertuig het later gery. So ook Barnie se bakkie, vermoedelik met sy seun agter die stuur.

Dit is dié bakkie wat later naby Tembisa gevind is – met die hardeskyf van die kamerastelsel binne-in.

Later daardie Vrydag is Barnie se bankkaarte glo as betaling vir ’n Uber, sowel as by winkels in Aliwal-Noord, gebruik, wat tot Van Heerden jr. se arrestasie gelei het.

* Stiaan Bekker, Barnie se vennoot en familiewoordvoerder, sê dit gaan beter met die beseerde egpaar. Terwyl Barnie Saterdag uit die hospitaal ontslaan is, is Magda egter steeds in die hospitaal, nadat sy ná die aanval in die waakeenheid opgeneem is.

Meer oor:  Barnie Van Heerden  |  Ruan Van Heerden  |  Centurion  |  Gholfstokke  |  Aanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.