Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Centurion-aanval: Vriendin saam met seun aangekla

’n Vriendin van Ruan van Heerden (18), wat daarvan beskuldig word dat hy sy ouers aangeval het, sal saam met hom aangekla word.

Die 17-jarige meisie is Maandag in Pretoria in hegtenis geneem en het Dinsdag in die plaaslike landdroshof verskyn.

Sy staan soos Van Heerden ook tereg op twee aanklagte van poging tot moord, een aanklag van roof met verswarende omstandighede en een van motordiefstal.

Ruan van Heerden (18) Maandag met sy verskyning in die landdroshof in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Haar saak is tot later vandeesweek uitgestel en sy sal tot dan in ’n aanhoudingsentrum vir jeugdiges aangehou word.

Na verneem word sal daar eers ’n verslag deur ’n proefbeampte opgestel word om vas te stel of die meisie weer in haar ouers se sorg vrygelaat mag word. Indien nie, sal sy in ’n plek van veiligheid aangehou word.

Volgens die polisie word sy en Van Heerden daarvan verdink dat hulle sy ouers, Barnie en Magda, verlede Vrydag saam in hul huis in Pierre van Ryneveld-park aangeval het.

Volgens voorlopige inligting voor die hof is die meisie en Van Heerden na bewering op die aand van die aanval op van die huis se veiligheidskameras gesien.

Die vriendin

Die meisie het Dinsdag in die kinderreghof in die landdroshof in Pretoria verskyn.

Sy is minderjarig en daarom mag haar identiteit nie bekend gemaak word nie, en die media is ook nie in die hof toegelaat nie.

Stiaan Bekker, wat optree as die familie se woordvoerder, het Dinsdag by navraag gesê hy ken nie die meisie nie.

Hy kon ook nie bevestig of ’n derde verdagte wat intussen in hegtenis geneem is, ook met Van Heerden bevriend is nie.

Brig. Mathapelo Peters, Gautengse polisiewoordvoerder, het Dinsdag bevestig dat ’n derde verdagte by sy werkplek in The Grove-inkopiesentrum in Pretoria in hegtenis geneem is.

Volgens die polisie was hy moontlik ook by die aanval betrokke. Hy was glo ook bevriend met Van Heerden, maar dit is in hierdie stadium onduidelik hoe hy met die saak verbind word. Hy sal na verwagting later vandeesweek in die hof verskyn.

* Van Heerden het reeds Maandag in die landdroshof in Pretoria verskyn.

Luidens die klagstaat het hy in die aanval op sy ouers met ’n gemeenskaplike doel opgetree. Dit beteken hy het nie alleen opgetree nie, maar saam met ander met die doel om iemand leed aan te doen.

Uit dié klagstaat blyk dit dat sy pa met ’n gholfstok en mes aangerand is, terwyl sy ma met ’n mes gesteek is.

Van Heerden is kort ná die aanval in Aliwal-Noord-Noord in die Oos-Kaap in ’n Uber gekry en in hegtenis geneem.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.