
Ruan van Heerden (18) en Colson William Phelps (22) Maandagoggend in die landdroshof in Pretoria. Foto: Deaan Vivier
Netwerk24 deaan vivier
Colson Phelps se gesin staan “in elke moontlike opsig” by hom.
“Ons aanvaar dat die reg sy gang moet gaan en ons bid vir gepaste versagting, sou hy skuldig bevind word,” lui ’n verklaring van sy ouers, Colin en Grietjie Phelps.
Die 22-jarige Colson van Faerie Glen, Pretoria, word saam met Ruan van Heerden (18) en ’n 17-jarige meisie daarvan beskuldig dat hulle Barnie (54) en Magda (49) van Heerden in die vroeë oggendure van 10 Januarie met ’n mes en ’n gholfstok aangerand het.
Hulle het Maandag vir die eerste keer saam in die landdroshof in Pretoria verskyn.
Phelps, wie se hare nou korter is as op sosialemediafoto’s, se ouers het in 'n kort verklaring bygevoeg hul harte “gaan uit” na die slagoffers en hul gesin, maar besef dat niks “wat ons sê of doen die omstandighede sal kan verander nie”.

Colson Phelps (regs) word saam met Ruan van Heerden en ’n 17-jarige meisie daarvan beskuldig dat hulle Barnie (54) en Magda (49) van Heerden in die vroeë oggendure van 10 Januarie met ’n mes en ’n gholfstok aangeval het. Foto: Deaan Vivier
“Ons bid voortdurend vir hulle en sal, as en wanneer dit gepas is, graag ons hartseer en besorgdheid aan hulle persoonlik wou oordra,” sê die Phelps-ouerpaar.
Hul seun is sedert verlede week Dinsdag in aanhouding.
Hy is die laaste van die drie verdagtes wat in hegtenis geneem is. Van Heerden is op Vrydag 10 Januarie naby Aliwal-Noord in die Oos-Kaap vasgetrek en die meisie verlede week Maandag by ’n tuisonderrigsentrum.
Die meisie is intussen in haar ma se sorg vrygelaat en het Maandag saam met haar ma en haar prokureur, Stephan Schoeman, buite die hofsaal gewag totdat die saak geroep is. Sy mag nie geïdentifiseer word nie omdat sy minderjarig is.
Phelps en Van Heerden het uit die hof se aanhoudingsel gestap en kort-kort na die openbare galery gekyk asof hulle iemand soek. Albei jong mans se oë het moeg voorgekom.
Phelps het ’n advokaat, Louis Kok, gehad om namens hom op te tree.
Van Heerden moes vra vir ’n gratis Regshulp-prokureur.
Tumi Phongola-Nkosi, staatsaanklaer, het gesê die saak is voorheen uitgestel sodat die polisie alle inligting wat vir ’n borgtogaansoek vereis word, soos die bevestiging van die beskuldigdes se adresse en “profiele” wat aandui of daar enige vorige veroordelings of hangende sake teen hulle is, kon bekom.
“Dit is gedoen en die saak kan nou geplaas word vir ’n formele borgtogaansoek. Die staat sal dit teenstaan,” het sy gesê.
Die saak is toe vir dié doel na volgende maand uitgestel.
Van Heerden en Phelps bly in aanhouding.
• Luidens bronne het Van Heerden, Barnie en Magda se enigste kind, op 31 Desember teruggekeer na die gesin se huis in Pierre van Ryneveld-park, Centurion, nadat hy in ’n rehabilitasiesentrum vir dwelmverslawing behandel is.
Hy en die meisie is glo die aand van 9 Januarie, nadat hulle gefliek het, na Phelps waar hy by ’n kuierplek werk.
’n Ruk later is Magda en Barnie aangeval. Magda, ’n lupuslyer wat klaarblyklik baie moeilik loop, is glo verskeie kere met ’n mes gesteek. Barnie is met ’n mes aangeval en met ’n gholfstok geslaan.
Die aanvallers het onder meer Barnie se bakkie gesteel en ook ’n beursie met bankkaarte, selfone, ’n handsak en die veiligheidskameras se rekenaarhardeskyf geroof.
Die hardeskyf is kort ná die aanval gevind in Barnie se bakkie wat verlate naby Tembisa aan die Oos-Rand gevind. Dit is vermoedelik juis die bankkaarte en die hardeskyf wat die polisie na die drie gelei het: die kaarte is glo gebruik om vir ’n Uber-taxi na Aliwal-Noord te betaal en daar goed te koop en die hardeskyf wys wat die veiligheidskameras buite die familiewoning opgeneem het.