Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Chaos binne en buite hof toe ‘skieter’ borgtog kry

“Ons sal hom buite kry!” en “Hy het my vriend vermoor!” het mense Woensdag onder meer geskree toe borgtog toegestaan is aan ’n sakeman wat glo twee “besetters” doodgeskiet het.

Verskeie mense het vroeër by Mohamad Sajid Khan se aansoek om borgtog hemde met ’n foto van Kabelo Matlata, een van die oorledenes wat vermoedelik die woordvoerder van die Concerned Tshwane Residents Group was, aangehad.

Die rumoer net buite die hofsaal in die Kgosi Mampuru II-gevangenis in Pretoria was so hard dat landdros Thandi Theledi haar stem in die hof moes verhef om gehoor te word.

Sy het kort tevore nog verduidelik dat die toestaan van borgtog, al dan nie, daarvan afhang of ’n beskuldigde sy verhoor sal bewoon, en dit handel nié oor die moontlike skuld of onskuld van die beskuldigde nie.

Hierop het sy borgtog van R10 000 aan Mohamad Sajid Khan (43) toegestaan.

As deel van die borgtogvoorwaardes moet hy en sy gesin na ’n ander adres buite Pretoria verhuis en hy moet hom twee keer per week by die polisie aanmeld.

Sy nuwe adres en die spesifieke polisiekantoor is nie in die hof genoem nie, juis vir die beskuldigde se veiligheid.

Khan word daarvan beskuldig dat hy Kabelo Matlata en Avela Mbengu op Saterdag 1 Februarie doodgeskiet het.

Hy word ook van poging tot moord aangekla.

Khan voer aan dat hy uit selfverdediging opgetree het toe ’n groep “aggressiewe” mans daardie dag een van sy persele “beset” het.

Hy het voorheen in sy borgtogaansoek-verklaring gesê ’n huurder het hom daardie dag na die perseel in Pretoria-Wes ontbied omdat ’n groep, genaamd die Concerned Tshwane Residents Group, daarop aangedring het om die eienaar te spreek.

Dit was glo Khan se vierde eiendom wat so “beset” is.

Hy en ’n vriend is soontoe, waar die groep glo geëis het dat hy sy titelaktes vir die eiendom aan hulle wys.

Die groep het gesê hy is ’n “onwettige immigrant” wat die eiendom gesteel het.

Khan het in sy borgtogverklaring verduidelik dat, hoewel hy in Pakistan gebore is, is hy sedert 2001 ’n wettige Suid-Afrikaanse burger. Die departement van binnelandse sake het dit in ’n verklaring aan die hof bevestig.

Volgens Khan het hy dit aan die groep verduidelik en voorgestel dat hulle na die nabygeleë Pretoria-Wes-polisiekantoor gaan. Hulle het geweier.

Toe die gemoedere nog hoër opvlam, het hy sy vriend gevra om die polisie se noodnommer te skakel. Daardie oproep, het die hof gehoor, is wel by die polisie geregistreer.

Volgens Khan het die groep “besetters” handgemeen geraak. Iemand het ’n wapen op hom gerig en hy het toe skote afgevuur.

Hy is daarna dadelik na die polisiekantoor om die voorval aan te meld.

Met elke verskyning van die saak was hulle oproerig en is dreigemente en vloekwoorde aan hofpersoneel geskree.

Die staat het borgtog teengestaan omdat die gemeenskap “woedend” is en Khan se vrylating die openbare orde sal versteur.

’n Memorandum is ook ingehandig waarin die gemeenskap dreig om die “hele Pretoria-Wes” af te brand indien Khan op borgtog vrygelaat word.

Theledi het die borgtog-aansoek ná Khan se vorige hofverskyning in die landdroshof in die middestad tot Woensdag uitgestel vir uitspraak in die tronkhof. Dié hofsaal in die gevangenis het verskerpte veiligheidsmaatreëls.

Net soveel gemeenskapslede waarvoor sitplek in die hofsaaltjie was, is Woensdag toegelaat.

Die voorste ry banke is oopgelaat sodat lede van die polisie se eenheid vir openbare orde tussen die gemeenskapslede en die beskuldigdebank kon staan.

Theledi het in haar uitspraak ook na die gemeenskapslede verwys en gesê hul optrede is kommerwekkend.

“Met elke verskyning van die saak was hulle oproerig en is dreigemente en vloekwoorde aan hofpersoneel geskree,” het sy gesê.

Sy het ook gewonder oor die sogenaamde Concerned Tshwane Residents Group. “Dit is onseker in watter hoedanigheid, of met watter jurisdiksie daardie groep na iemand se perseel kon gaan om sy titelakte te eis,” het die landdros gesê.

Theledi het toe bevind dat Khan nie ’n vlugrisiko inhou nie en daar geen bewyse is dat hy hom by die ondersoek sal probeer inmeng nie.

’n Chaos buite die hof

Die landdros het Woensdag skaars borgtog aan Khan toegestaan toe daar in die gangetjie buite die hofsaal ’n geskree was. Dit was vermoedelik van die gemeenskapslede wat voor die begin van die hofsaak badkamer toe is en nie betyds was om in die hofsaal toegelaat te word nie.

Hulle moes buite in die gang wag en kon deur die hof se houtpaneelmuur die uitspraak hoor.

Hierop het dreigemente teen Khan kliphard weerklink.

Toe volg voetstappe, traliehekke wat toeklap en ander stemme.

Iemand het van buite af teen die hof se muur gestamp.

In die hofsaal het lede van die polisie se openbare orde-eenheid verder tussen die beskuldigde en die mense in die openbare galery inbeweeg.

Lede van die departement van korrektiewe dienste wat in die hofsaal was, het hul skilde opgetel en is uit die hofsaal.

Stoeigeluide en nog woedende uitroepe het gevolg, en toe die “dzzzzzzz”-klank soos dié van ’n skokstok.

Die rumoer het daarna bedaar.


Meer oor:  Pretoria  |  Doodgeskiet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.