Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Cheetahs se 'hande skoon' oor 'rasvoorval' by stadion

Die Vrystaatse Rugbyunie en die Vrystaat Cheetah-maatskappy ontken enige aanspreeklikheid in ’n hofeis van meer as R1,1 miljoen teen hulle oor ’n beweerde rassevoorval ná ’n rugbywedstryd in die Vrystaat-stadion in Bloemfontein.

Die unie en die maatskappy ontken in hofstukke dat die beweerde voorval gebeur het waarin Isaac Molapo (35), ’n kliëntediensbeampte van die Bram Fischer-lughawe buite die stad, glo erg by die stadion aangerand en rassistiese woorde toegesnou is omdat hy ’n skeidsregtershemp gedra het.

Die man wat hom na bewering aangerand het, is Schübel O’Reilly, ’n voormalige bestuurder van die Vrystaatse skeidsregters en ’n amptenaar van die unie.

O’Reilly staan ook die eis teen, lui ’n kennisgewing van sy prokureur, Adrie Hechter van Adrie Hechter-prokureurs, in die hof.

Luidens die unie en die Cheetah-maatskappy se verweerskrif in die Vrystaatse hooggeregshof was die maatskappy op 15 Oktober 2016 in beheer van die stadion.

Molapo beweer in sy eis hy is dié dag eers deur O’Reilly op die mond geslaan en toe teen ’n heining vasgedruk.

Daarna het O’Reilly en ander mans hom na bewering gewurg en geslaan totdat hy geval het en hom aanhoudend geskop.

Gedurende die slanery het O’Reilly en van die ander glo rassistiese woorde gebruik. Hulle het hom glo beskuldig dat hy die skeidsregtershemp wat hy aangehad het, gesteel het.

Die unie en die Cheetah-maatskappy ontken al hierdie bewerings.

Hulle ontken ook dat hy kneusings en skrape en ’n permanente besering aan sy linkerknie opgedoen het en nie meer aan sport kan deelneem of sy byna voltooide studies in sportbestuur kon voortsit nie.

Hulle ontken ook dat hulle hom moet vergoed vir die skade wat hulle in elk geval ontken hy gely het.

Elsie Louw van Lovius Block-prokureurs is die unie en die maatskappy se prokureur.

Hermann Fourie van Jacobs Fourie-prokureurs is Molapo se prokureur.

* Die voorval het glo ná die halfeindstryd om die Curriebeker tussen die Cheetahs en die Goue Leeus in 2016 gebeur.

* O’Reilly, ’n oudpolisieman, woon en werk glo nou in Kimberley.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.