Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Cheslin bid toe hy mans met bakstene sien

“Ek het my oë toegemaak en gebid. Hierna kan ek niks onthou nie,” het Cheslin Marsh, Hannah Cornelius se vriend, Donderdag oor sy traumatiese ervaring van die aanval op hom in die hooggeregshof in Kaapstad getuig.

Marilyn Marsh troos haar seun, Cheslin, toe die hof ’n kort verdaging geneem het omdat Cheslin baie emosioneel geraak het. Foto: Adrian de Kock

Die mans wat hom en Cornelius ontvoer het, het hom op die grond laat lê en sy kop op ’n baksteen geplaas. Hy het gesien twee van die ontvoerders het halwe bakstene in die hand.

Marsh het Donderdag telkemale in die hof begin huil.

Sy ma, Marilyn, was by om hom te ondersteun. In ’n stadium toe die hof verdaag, het sy haar seun omhels. Sy het hom ’n stywe en lang druk gegee en sy trane van sy gesig afgevee.

Vernon Witbooi, Geraldo Parsons en Eben van Niekerk staan tereg op tien aanklagte. Hulle het skuld ontken op vier aanklagte van roof met verswarende omstandighede, drie aanklagte van menseroof, een aanklag van poging tot moord, een van verkragting en een van moord. Die vierde beskuldigde, Nashville Julius, staan tereg op twee aanklagte van menseroof en twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede. Hy het ook skuld op al die aanklagte teen hom ontken.

Marsh het getuig nadat drie gewapende mans hulle ontvoer het, is hy agter in die kattebak van Cornelius se blou VW Citi Golf gedruk. Die ontvoerders het ’n paar draaie met hulle gery. Cornelius was voor in die motor langs die ontvoerders.

Marsh het getuig nadat hy sy bewussyn verloor het, het hy die volgende dag, toe dit al lig was, sy bewussyn herwin.

“Ek het baie pyn oral gehad, en ek het probeer vasstel waar ek was,” het hy getuig. Hy het gaan hulp soek en is later hospitaal toe geneem. Benewens die kopbeserings en ’n gebreekte arm het Marsh die gehoor in sy linkeroor verloor.

Cheslin Marsh sit in die Tygerberg-hospitaal terwyl sy wonde afgeneem is nadat hy glo deur die beskuldigdes met bakstene aangerand is.
Cheslin Marsh soos wat hy gelyk het in die Tygerberg-hospitaal nadat hy aangerand is.

Hy het Witbooi en Parsons in die hof uitgeken as die mans wat met bakstene by hom gestaan het.

Reservis-konst. Andile Jongilani en konst. Bulelani Siko was op die toneel waar Cornelius se lyk gevind is.

Jongilani het getuig toe hy Cornelius se gesig sien, was daar bloed wat by haar mond en oë uitgekom het. Haar broek was ook halfpad by haar bene afgetrek en sy het op haar maag gelê.

Haar liggaam was reeds met ’n hospitaalkombers bedek. Al wat hy naby haar lyk gesien het, was ’n groot klip, maar hy het nie gedink dit was deel van die voorval nie, omdat daar nie bloed op was nie.

Siko is een van die beamptes wat eerste op die toneel was. Hy het getuig hoe hy die lyk gevind het en watter ander items, ’n haarband en oorbel, hy naby haar lyk gevind het.

Hy het ook spore van motorbande uitgeken wat later afgeneem is. Siko het ook getuig van die jaagtog waarin hy betrokke was toe die blou Golf gewaar is en hoe hy teen 160km/h die verdagtes gejaag het.

Hy het later vir Witbooi in hegtenis geneem toe die Golf by die Dwars in die Weg-plaas tot stilstand gekom het en hy Witbooi te voet agterna gesit het.

Die verhoor duur Maandag voort.

Konst. Andile Jongilani was een van die polisiebeamptes wat op die moordtoneel na Hannah Cornelius se lyk gekyk het. Foto: Jana Breytenbach
Konst. Bulelani Siko het een van die beskuldigdes ná ’n hoëspoed-jaagtog in hegtenis geneem. Foto: Adrian de Kock
Die klip wat naby Hannah Cornelius se lyk gevind is. Daar sal later oor die klip getuig word.

Meer oor:  Hannah Cornelius  |  Cheslin Marsh
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.