Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Coligny-2 op borgtog vrygelaat

Pieter Doorewaard (28) en Phillip Schutte (35) is Vrydag elk op borgtog van R20 000 in die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes, vrygelaat.

Dit volg nadat hul spesiale aansoek om verlof tot appèl teen hul skuldigbevinding vir die moord op Matlhomola Moshoeu (15) vroeër vanjaar in die appèlhof in Bloemfontein toegestaan is.

Die twee mans het aansoek gedoen om borgtog hangende die uitslag van die appèlverrigtinge. Hulle het hulle na die appèlhof gewend nadat regter Ronald Hendricks, wat hulle skuldig bevind het, hul aansoek om verlof tot appèl geweier het omdat hy gemeen het ’n ander hof sal nie tot ’n ander bevinding kom nie.

Hendricks het Doorewaard in Maart vanjaar effektief 18 jaar gevangenisstraf opgelê en Schutte 23 jaar nadat hy hulle in Oktober verlede jaar skuldig bevind het.

Pieter Doorewaard (regs) en Phillip Schutte verlede week by adv. Barry Roux, wat hul borgtogaansoek in die hooggeregshof in Mmabatho behartig het. Foto: Susan Cilliers
Agnes en Sakkie Moshoeu, die ouers van Matlhomola (15), aan wie se moord Pieter Doorewaard en Phillip Schutte skuldig bevind is. Foto: Susan Cilliers

Hendricks het bevind die mans het saam opgetree toe Schutte die seun in April 2017 van ’n bewegende bakkie op ’n plaas naby Coligny afgegooi het. Hulle ontken steeds skuld en sê die seun het self van die bakkie afgespring of geval. Die mans het hom op die bakkie gelaai om hom na die polisiekantoor te neem omdat hy glo sonneblomme gesteel het. Matlhomola het met die val sy nek gebreek en is dood.

AfriForum staan die mans se regspanne by in die appèl- en borgtogverrigtinge.

Adv. Barry Roux, wat vir die mans optree, het verlede week tydens die borgtogaansoek daarop gewys dat twee regters in die appèlhof in Bloemfontein meen ’n ander hof kan moontlik bevind die enigste ooggetuie in die saak se getuienis het tekort geskiet. Dis ook om dié rede dat die appèlhof hul aansoek om verlof tot appèl toegestaan het.

“Daar is dus ’n redelike kans dat hul appèl kan slaag en daarom moet hulle op borgtog vrygelaat word hangende die uitkoms van die appèl,” het Roux verlede week aangevoer.

Hendricks het uitspraak voorbehou tot Vrydag.

Hy het in sy skuldigbevinding destyds sterk gesteun op Bonakele Pakisi se getuienis dat hy gesien het hoe Schutte die seun meer as een keer van die bakkie afgooi. Hendricks het bevind hoewel Pakisi homself in sekere opsigte weerspreek het, is sy getuienis in wesenlike aspekte deur ander getuies gestaaf, en dat sy weergawe met getuienis oor die seun se beserings gestrook het.

Pakisi het egter, nadat die verhoor afgehandel is, teenoor vier verskillende mense erken hy het in die hof gelieg, maar later weer beweer hy is betaal om te sê hy het in die hof gelieg.

Roux het verlede week aangevoer indien daar ’n redelike kans is dat ’n ander hof Pakisi se getuienis kan uitgooi, die mans moontlik ook onskuldig bevind kan word aan die moord en op ander aanklagte. Pakisi was ook die klaer in die ander aanklagte waaraan die mans skuldig bevind is, onder meer aanranding en intimidasie.

Betogers met ’n foto van Matlhomola Moshoeu voor die Coligny-landdroshof, kort ná die seun se dood. Foto: Susan Cilliers

Roux het ook gesê die mans se borgtogaansoek moet gunstig oorweeg word omdat hulle nie skuldig bevind is aan moord met voorbedagte rade nie, maar vir moord op grond van die dolus eventualis-beginsel; dat hulle iemand se dood moes kon voorsien deur hul optrede.

Adv. Moeketsi Moeketsi, vir die staat, het die aansoek teengestaan. Hy het geargumenteer Pakisi se getuienis was nie al waarop die hof gesteun het om die mans skuldig te bevind nie. “Sy getuienis is ook gestaaf deur ander getuienis, sowel (in sommige opsigte) deur die beskuldigdes.”

Moeketsi het aangevoer die mans is op verskeie aanklagte skuldig bevind en dat dit onwaarskynlik is dat die appèlhof al dié bevindinge ter syde sal stel.

Meer oor:  Borgtog  |  Moordverhoor  |  Coligny-2
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.