Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Coligny: 'Ek het gelieg'

Die enigste ooggetuie in die Coligny-moordverhoor wat glo gesien het hoe twee plaaswerkers ’n tiener van ’n bakkie afgooi, het nou vir ’n predikant en prokureur gesê hy het gelieg.

Bonakele Pakisi, die enigste ooggetuie in die Coligny-moordverhoor, het glo aan verskeie mense erken dat hy in sy verklaring en in die hof gelieg het. Nou sê hy hy het nie in die hof gejok nie. Foto: Elizabeth Sejake

Bonakele Pakisi se “bekentenis” is ook op ’n bandopname waarna Rapport geluister het, al sê Pakisi nou weer hy het nie in die hof gejok nie.

Dié skokwending kom ’n week voordat Pieter Doorewaard (27) en Phillip Schutte (34) gevonnis moet word vir die moord op Matlhomola Moshoeu (16) wat op 20 April 2017 gevang is waar hy glo sonneblomme gesteel het. Lewenslange tronkstraf staar hulle in die gesig.

Ná Moshoeu se dood het die dorp in Noordwes weens rassespanning in ’n chaos ontaard. Winkels is geplunder en aan die brand gesteek.

‘Ek het niks gesien nie.’

Schutte en Doorewaard is ook skuldig bevind dat hulle die staat se ooggetuie, Pakisi, ontvoer het, ’n vuurwapen op hom gerig het en sy selfoon gesteel het. Hul weergawe is dat Pakisi nooit op die toneel was nie, maar dié weergawe is deur die hof verwerp.

Pakisi se getuienis was die sleutel tot die skuldigbevinding.

Regter Ronald Hendricks, van die hooggeregshof in Mahikeng, het in Oktober bevind Pakisi het homself in verskeie opsigte weerspreek.

“Teenstrydighede beteken nie noodwendig hy jok nie, dit kan normale menslike foute wees.”

Paul Morule, net nadat hy in Rapport se teenwoordigheid met Bonakele Pakisi gepraat het. Foto: Elizabeth Sejake

Hendricks het gesê Pakisi se verklaring is deur ’n onopgeleide tolk afgeneem en misverstande kon ingesluip het.

Die regter was ook kwaad omdat die polisie op die dag van die voorval aanvanklik vir Pakisi weggewys het omdat hy volgens beamptes dronk was en gereeld onbetroubare verklarings afgelê het.

Paul Morule, ’n predikant van ’n kerk in Mahikeng, sê aan Rapport Pakisi se ontboeseming teenoor hom pla hom só dat hy nie daaroor kan stilbly nie. “Ek is ’n man van God en kan nie toelaat dat twee mense onskuldig in die tronk sit vir moord nie.”

Morule is egter ook ’n werknemer van Pieter Karsten, Doorewaard se oom, en albei veroordeeldes se werkgewer.

Pakisi met die tekkies wat hy beweer Morule vir ho
Pakisi met die tekkies wat hy beweer Morule vir hom gekoop het. Foto: Elizabeth Sejake

Morule sê sy bande met Karsten het niks hiermee te make nie. Volgens hom het Pakisi toevallig op sy pad gekom.

“My tannie bly in Coligny. Op ’n besoek aan haar vroeg in Desember (verlede jaar) het ek gesien hoe mans besig was om teëls te lê. Een van hulle het bekend gelyk en ek het my tannie gevra wie dit was. Dit was toe Pakisi.”

Hy sê hulle het begin gesels en ’n vertrouensverhouding begin opbou.

“My kerk is in Mahikeng en my plaas tussen Potchefstroom en Klerksdorp. Ek het elke keer by hom aangegaan (in Coligny). Sommer vroeg-vroeg het hy al vir my gesê hy kry daardie twee seuns jammer en weet nie hoe om dit reg te maak nie. Toe sê ek vir hom die enigste manier is om jou hart oop te maak en die waarheid te praat.”

Phillip Schutte (34) tydens sy skuldigbevinding. Foto: Deon Raath

In die eerste week van Januarie het Pakisi glo vir Morule gebel.

“Hy was bang om in sy eie gemeenskap te praat, toe gaan haal ek hom in Coligny en vat hom na die Spur in Mahikeng. Dis daar wat ek die opname gemaak het sonder dat hy weet.”

In die opname, waarin die mans Tswana praat, vra Morule vir hom na die voorval.

“Ek was nie daar toe die voorval gebeur het nie,” antwoord Pakisi.

“Ek het niks gesien nie.”

Pieter Doorewaard tydens sy skuldigbevinding. Foto: Deon Raath

Hy vertel dan “iemand” het vir hom ’n beloning aangebied as hy sou sê hy was daar en het gesien hoe die seun van die bakkie afgegooi is.

Morule het hom aangemoedig om vir die polisie te vertel.

Kort ná die gesprek wat opgeneem is, het Morule ook vir Pakisi na ’n prokureur in Klerksdorp, Kobus Burger, geneem om regsadvies te kry.

Burger het dit aan Rapport bevestig.

“Ek het hom (Pakisi) gevra waarmee ek hom kan help, waarop hy gesê het dat hy gelieg het in die hof. Ek het hom gevra wat hy daarmee bedoel, waarop hy gesê het dat hy in die hof vertel het dat hy die hele voorval gesien het terwyl dit nie die waarheid was nie. Ek was geskok om die onthulling aan te hoor en het hom gevra waar hy dan die betrokke dag was. Hy het my meegedeel dat hy die hele dag by sy huis was en dat sy buurvrou en twee van sy familielede dit kan bevestig,” sê Burger.

Pakisi het aan Rapport bevestig dat hy Burger besoek het. Hy erken ook dat dit sy stem op die opname was, maar sê hy is om die bos gelei.

Toe die opname vir hom gespeel is, het hy met albei hande sy kop vasgegryp, opgespring en rondom die eet- en sitkamer gehardloop terwyl hy herhaaldelik geskree het: “Ek het dit geweet, ek het dit geweet!”

Nadat hy kalmeer het, het hy gesê mense het hom ná sy getuienis in die hof probeer omkoop om terug te krabbel. “Daardie opname is gemaak van ’n voorbeeld van die verklaring wat hulle wou hê ek moes maak,” sê Pakisi. “Hulle het vir my nuwe Converse All Stars-tekkies gekoop en ook ’n bottel 15 jaar oue Glenfiddich-whisky. Hulle het vir my huise in Kaapstad en Port Elizabeth gewys en gesê hulle sal vir my ’n huis koop en R3 miljoen gee as ek lieg.”

Gevra waarom hy nie dié omkooppogings gerapporteer het nie, het Bonakele Pakisi gesê hy wag vir die kontant sodat hy dit as bewyse vir die polisie kon gee. Die whisky het hy egter gedrink.

Pieter Karsten en Paul Morule ontken albei dat hulle by enige omkopery betrokke was.

“Ek wens ek het R3 miljoen gehad om vir hom te gee. Die man is nie lekker nie,” sê Karsten.

Morule sê Pakisi jok.

“Hy het my as ’n dominee ontmoet. Hoe verander ek dan skielik in Pieter Karsten se verteenwoordiger?”

Pakisi beweer verder daar is ’n groter komplot om hom te intimideer om sy getuienis in die hof te verwerp.

Pakisi is verlede Vrydag deur drie mans in sy huis aangerand.

“Dit is familie van Pieter Karsten se werkers. Hulle probeer my dwing om my verklaring te verander,” sê Pakisi.

Kapt. Sam Tselanyane, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig Pakisi is aangerand en drie mans is hiervoor in hegtenis geneem, maar sê dit het niks met die Coligny-saak te doen nie.

“Die geveg het oor ’n vrou gegaan. Alles wat in Pakisi se lewe verkeerd gaan, is volgens hom verwant aan die Coligny-saak. Pakisi het self in sy eie verklaring gesê die aanranding was oor die meisie van een van die beweerde aanranders.”

Wat nou?

Indien Bonakele Phakisi vir die hof gelieg het, skep dit baie regsprobleme.

Prof. Wium de Villiers, strafprosesregkenner aan die Universiteit van Pretoria, sê die hoër howe het ’n diskresie oor hul eie prosesse, maar die vonnisoplegging sal waarskynlik eers moet voortgaan.

Daarna kan die veroordeeldes aansoek doen om teen hul skuldigbevindings te appelleer. “Hulle sal tydens die appèl ook moet aansoek doen om nuwe getuienis aan te bied.”

De Villiers sê die appèlhof kan self die nuwe getuienis aanhoor en oor die saak beslis, of die saak terugverwys na die hooggeregshof om van voor af te verhoor.

Meer oor:  Matlhomola Moshoeu  |  Bonakele Pakisi  |  Pieter Doorewaard  |  Phillip Schutte  |  Coligny  |  Moord  |  Omkopery  |  Meineed  |  Coligny-Saak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.