Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Coligny-getuienis in twyfel getrek

Die advokaat van die twee mans wat daarvan beskuldig word dat hulle ’n 16-jarige sonneblomdief in Coligny, Noordwes, van ’n bewegende bakkie afgegooi het, het die afgelope week in die hof beweer die staat se sleutelgetuie lieg en dat sy weergawes van gebeure nie ooreenstem nie.

Bonakele Pakisi Foto: Johan Eybers

Adv. Hennie du Plessis tree op vir Pieter Doorewaard (27), wat saam met Phillip Schutte (34) daarvan beskuldig word dat hulle Matlhomola Mosweu op 20 April 2016 vermoor het.

Du Plessis het Donderdag vir Bonakele Pakisi (28) in die hof daarvan beskuldig dat hy van sy oorspronklike verklarings aan die polisie afgewyk het en onder eed lieg. Doorewaard en Schutte sê hulle het Pakisi nog nooit ontmoet nie en dat hy beslis in geen stadium saam met hulle in hul bakkie gery het nie.

Pakisi het vroeër getuig hy het gesien hoe die beskuldigdes Mosweu aanrand en van die bewegende bakkie stamp. Toe die beskuldigdes hom sien, het hulle hom glo gedwing om saam met hulle en die beseerde Mosweu rond te ry. Terwyl Mosweu in die bakkie gelê het, het die beskuldigdes niks gedoen om hom te help nie, het Pakisi gesê.

Volgens Pakisi het die beskuldigdes hom gedwing om alkohol te drink. Toe hy weier, is hy aangerand.

Die twee beskuldigdes beweer Mosweu het van die bakkie gespring en sy nek gebreek toe hulle hom na die polisiekantoor geneem het.

Du Plessis het vir Pakisi gesê hy weerspreek homself oor die plekke waarheen die beskuldigdes hom sou geneem het.

Du Plessis het Pakisi daarop gewys dat hy in sy verklaring gesê het Doorewaard en Schutte het hom gedwing om by die Henwill Chickens-slagpale uit die voertuig te klim, maar dat hy onder kruisverhoor ontken het dat hy ooit daar was.

Du Plessis het gesê dat hy verder in sy verklaring beweer dat Schutte en ’n derde onbekende medepligtige hom by ’n dam in Putfontein wou doodskiet, maar dat Doorewaard hulle gekeer het. In die hof het hy egter getuig dat die medepligtige die persoon was wat vir Schutte en Doore­waard gekeer het om hom te skiet.

Du Plessis wou ook by Pakisi weet waarom hy in die hof getuig het dat Doorewaard en Schutte hom by Buffelsfontein beveel het om uit die voertuig te klim, maar dit nie in sy verklaring genoem het nie.

Pakisi het getuig die polisie het sy verklaring verkeerd afgeneem en dat hy nooit enigiets oor die Henwill Chickens-slagpale gesê het nie.

“Ek stel dit aan jou dat jy nie die waarheid praat nie. Jy verander jou weergawes,” het du Plessis aan Pakisi gesê.

Pakisi het hierop geantwoord dat hy wel die waarheid praat.

Pakisi het beweer sy eerste verklaring is nooit aan hom voorgelees nie en dat hy dit nooit gelees het nie. Hy het sy tweede verklaring as die korrekte weergawe bestempel.

Nadat Du Plessis uitgewys het dat hy homself in die tweede verklaring weerspreek, het Pakisi gesê sommige van die goed wat in die tweede verklaring staan, is verkeerd deur die polisie afgeneem.

Die saak is tot môre uitgestel.

Meer oor:  Bonakele Pakisi  |  Pieter Doorewaard  |  Phillip Schutte  |  Coligny  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.