Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Coligny-saak kry nou ’n klag oor k-woord by

Die enigste ooggetuie in die opspraakwekkende Coligny-moordsaak, Bonakele Pakisi, het die afgelope week nóg ’n strafregtelike klag ingedien teen Pieter Karsten, wie se twee werknemers, Pieter Doore­waard en Phillip Schutte, tans tronkstraf uitdien weens moord.

Die oomblik toe Bonakele Pakisi en Pieter Karsten se paaie gekruis het. Pakisi beweer Karsten het hom die k-woord toegesnou.

Pakisi beweer Karsten het hom die gewraakte k-woord toegesnou. Hy het vroeër ook ’n klag van intimidasie teen Karsten gelê.

Pakisi sê Karsten het Sondag in sy wit bakkie langs hom in die straat in Coligny gestop, na ’n vriend op die passasiersitplek gedraai, en gesê: “Hier is die k*ffer wie se skuld dit is dat my familie in die tronk sit.”

Karsten sê dit is ’n leuen. “Ek en ’n familievriend, Renier Vorster, het Sondag teen 13:00 middagete in die dorp geëet toe ’n vriend met ’n wegsleepdiens my vra ek moet gaan kyk of daar ’n voertuig is wat weggesleep moet word ná ’n ongeluk in die township,” sê Karsten.

Karsten-hulle het op pad terug van die Tlhabologang-township vir Pakisi naby die Coligny-hotel gewaar. “Ek het skuins langs hom gestop, toe vra ek my vriend of hy weet wie dit is. Hy het nie geweet nie en ek het hom vertel dat dit die berugte Pakisi is. Ek en Pakisi het nie een woord met mekaar gepraat nie, toe ry ons weer,” sê Karsten.

Bonakele Pakisi

Vorster (31), ’n boekhouer by ’n argiteksfirma in Harrismith, bevestig sy vriend se weergawe. “Ek het nog met Pieter gegrap en gesê Pakisi het hom gesien, so hy gaan seker nou ’n klag van aanranding teen hom indien,” sê Vorster.

Rapport het ’n video van ’n sekerheidskamera gekyk waarop die ontmoeting sigbaar is. Pakisi was in die voorgrond waar hy die straat in die kamera se rigting wou oorsteek, toe Karsten se wit dubbelkajuitbakkie aangery kom. Die bakkie draai regs tussen die kamera en Pakisi en hou etlike sekondes reg langs hom stil. Dit is nie duidelik of enige van die mans met mekaar gepraat het nie.

Doorewaard (27) en Schutte (34) is tot onderskeidelik 18 en 23 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op Matlhomola Moshoeu (16), wat hulle op 20 April 2017 op ’n plaas van Karsten gevang het waar hy glo sonneblomme steel. Die twee is ook daaraan skuldig bevind dat hulle Pakisi ontvoer, ’n vuurwapen op hom gerig en sy selfoon gesteel het.

Hulle het deurgaans volgehou Pakisi, wat beweer het hy het alles sien gebeur, was nooit op die toneel nie. Pakisi, wat volgens regter Ronald Hendricks die sleutelgetuie was wat die twee mans se lot bepaal het, het hom telkens gedurende die verhoor weerspreek, maar Hendricks het in Oktober 2018 bevind: “Teenstrydighede beteken nie noodwendig hy jok nie, dit kan normale menslike foute wees.”

Pieter Karsten Foto: Deon Raath

In Januarie het Rapport berig Pakisi het glo teenoor twee dominees, Paul Morule (’n werknemer van Karsten) en Petrus Ramatsosa, asook Kobus Burger, ’n Klerksdorpse prokureur, erken sy getuienis in die verhoor is onwaar.

Rapport het na ’n klankopname hiervan geluister, en Pakisi het toe aan Rapport erken dat dit sy stem is, maar gesê hy is om die bos gelei. Mense het hom ná sy getuienis glo probeer omkoop om terug te krabbel. “Die opname is gemaak van ’n voorbeeld van die verklaring wat hulle wou hê ek moes maak,” het Pakisi toe gesê. “Hulle het vir my nuwe Converse All Star-tekkies gekoop en ’n bottel 15 jaar oue Glenfiddich-whisky.”

Hy is glo ’n huis en R3 miljoen beloof as hy sou lieg. Pakisi het dit nie by die polisie aangemeld nie omdat hy kwansuis vir die kontant gewag het om aan die polisie te gee.

Die whisky het hy gedrink.

Later het hy beweer Karsten het hom met ’n vuurwapen gedwing om die verklaring voor te lees.

Brig. Sabata Mokgwabone het Pakisi se klag van crimen injuria bevestig. Pakisi het nie op talle boodskappe van Rapport reageer nie.

Meer oor:  Bonakele Pakisi  |  Phillip Schutte  |  Coligny  |  Moord  |  Crimen Injuria
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.