Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Saak uitgestel toe tolk nie kan Afrikaans praat

Die verhoor van Pieter Doorewaard en Phillip Schutte, wat van die moord verlede jaar op ’n tiener in Coligny beskuldig word, moes Maandag uitgestel word omdat daar nie vooraf gereël is vir ’n tolk wat in Afrikaans kan tolk nie.

Die verrigtinge in die hooggeregshof in Mmabatho in Noordwes het pas begin toe dit blyk die tolk kan nie eens die aanklagte in Afrikaans aan die beskuldigdes stel nie. Schutte en Doorewaard is Afrikaanssprekend. Hulle was veronderstel om te pleit op altesame sewe aanklagte wat met die dood van Matlhomola Mosweu (16) verband hou.

Regter Ronald Hendricks het die verhoor na Dinsdag uitgestel sodat ’n tolk gevind kan word wat in Afrikaans kan tolk.

Pieter Doorewaard (links) en Phillip Schutte Maandag in die hooggeregshof in Mmabatho in Noordwes.Foto: Susan Cilliers

Dis nie duidelik hoekom ’n toepaslike tolk nie beskikbaar was nie, terwyl die verhoordatum reeds verlede jaar bepaal is. Lusanda Ntuli, woordvoerder by die kantoor van die hoofregter, het onderneem om ondersoek in te stel.

Daar was Maandag geen betogings of oproer by die hof in Mmabatho met die aanvang van Doorewaard en Schutte se verhoor nie. Met hul vorige verskynings in Coligny het hoofsaaklik EFF-ondersteuners voor die hof gesing en gedans en ’n foto van ’n jong Matlhomola omhoog gehou. Matlhomola se familie was ook nie by die hof nie.

Pieter Doorewaard (links) en Phillip Schutte praat Maandag met ’n lid van hul regspan in die hooggeregshof in Mmabatho in Noordwes.Foto: Susan Cilliers

Die tiener is in April 2017 dood toe hy sy nek gebreek het nadat hy by ’n bewegende bakkie afgeval het. Dit is nie duidelik of hy gegooi is of self afgespring het nie.

Doorewaard en Schutte word daarvan verdink dat hulle hom by die bakkie afgegooi het.

Rassespanning en erge onrus het ná die tiener se dood in die Coligny-omgewing uitgebreek en huise is afgebrand.

Schutte en Doorewaard staan benewens moord op ses ander aanklagte tereg: menseroof, intimidasie, die rig van ’n vuurwapen, diefstal en die onwettige besit van sowel ’n vuurwapen as ammunisie.

Die twee, wat vroeër op borgtog vrygelaat is, ontken dat hulle Matlhomola van die bakkie gegooi het en sê hy het self afgespring. Hulle het in hul borgverhoor

Betogers vroeër by die landdroshof in Coligny met ’n foto van die oorlede Matlhomola Mosweu. Foto: Susan Cilliers

aangevoer hulle het Matlhomola gevang terwyl hy sonneblomme in hul werkgewer se mielieland gesteel het. Hulle het hom toe glo op die bakkie gelaai om hom polisiekantoor toe te neem, maar hy het na bewering op pad daarheen afgespring.

Die diefstalklag teen Schutte en Doorewaard is weens bewerings dat hulle ’n sleutelgetuie se selfoon gesteel het.

Die hof het vroeër gehoor die mans het ná die gebeure in April dit self by die polisiekantoor aangemeld.

Dit was glo nie die eerste keer dat hulle kinders gevang het terwyl hulle steel en daarna na die polisiekantoor geneem het nie, het ’n polisielid in hul borgaansoek getuig. Volgens dié lid het Schutte en Doorewaard nie in enige van die vorige gevalle geweld gebruik of die kinders aangerand nie.

Meer oor:  Pieter Doorewaard  |  Phillip Schutte  |  Uitstel  |  Misdaad  |  Verhoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.