Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Coligny-2’ vry ná appèl slaag

Hoewel die sogenaamde “Coligny-twee” Vrydag deur die appèlhof in Bloemfontein onskuldig bevind is aan die moord op Matlhomola Moshoeu (16), meen een van die regters die moordklag teen Pieter Doorewaard behoort in een van strafbare manslag verander te word.

Appèlregters Visvanathan Ponnan en Aubrey Ledwaba het nie met appèlregter Mahube Molemela saamgestem nie en het Doorewaard en Phillip Schutte Vrydag op alle aanklagte teen hulle vrygespreek. Hul vonnisse is ook ter syde gestel.

Doorewaard en Schutte is vroeër onderskeidelik tot 18 en 23 jaar tronkstraf gevonnis weens die moord op Moshoeu.

Pieter Doorewaard (28) en Phillip Schutte (35) van Coligny tydens ’n vorige hofverskyning. Hulle appèl is hierdie week aanlyn aangehoor. Foto: Dulile Sowaga

Moshoeu se dood op 17 April 2017 het tot groot onrus gelei toe die gemeenskap destyds in opstand gekom het. Huise en winkels is geplunder en aan die brand gesteek.

Molemela het in haar uitspraak gesê Dooreward moes voorsien het dat dit gevaarlik sou wees vir Moshoeu agter op ’n oop bakkie sonder ’n kap. Daarom moet die moordklag verander word in ’n klag van strafbare manslag.

Die drie appèlregters het onder meer bevind die staat kon sy saak nie bo redelike twyfel bewys nie, dat die ondersoek vol brouwerk was en dat die staatsgetuie se getuienis deurspek is met teenstrydighede.

Appèlregter Ledwaba sê vrae ontstaan oor hoekom Bonakele Pakisi, ’n staatsgetuie wat glo gesien het wat dié dag op die plaas Rietvlei gebeur het nadat die twee mans Moshoeu in ’n sonneblomland betrap het, net ’n klag van intimidasie geopen het en nie van aanranding met die doel om ernstig te beseer nie, aangesien hy van die aanranding getuig het.

Hy het ook nie in sy beëdigde verklaring van 22 Mei 2017 genoem dat hy na die polisiekantoor of vir mediese hulp op 21 en 22 April 2017 gegaan het nie.

Daarmee saam is hy ’n enkelgetuie in al die aanklagte teen Doorewaard en Schutte.

Daarom ontstaan die volgende vrae: “Was Pakisi by Doorewaard en Schutte op 20 April 2017 en het hulle só opgetree soos wat hy getuig het?

“Hoekom het hy nie vir mediese behandeling gegaan vir die beserings wat Doorewaard en Schutte hom aangedoen het nie?

“Hoe het hy geweet die oorledene bloei deur sy mond, neus en ore?

“Hoe het hy geweet Doorewaard is die bestuurder van die bakkie?”

Voorts is daar ook geen foto’s van bloed op die toneel nie, hoewel Pakisi die toneel saam met die polisie besoek het.

“Nog belangriker is dat Pakisi in sy getuienis aangedui het hy het laas die seun in die bakkie gesien toe hy agter die kop geslaan is en sy bewussyn verloor het. Hy het verder getuig dat hy eers later die dag sy bewussyn herwin het en huiswaarts gekeer het. Hy het nie gesien waar die seun geval het nie, omdat hy nie daar was toe die ambulans die seun kom haal het nie.”

Ledwaba het verder gesê die voertuig wat vir bloedtoetse verwys is en deur Doorewaard en Schutte bestuur is, is nie deur Pakisi en verskeie ander uitgewys nie.

Daarmee saam was die uitslae van die toets vir menslike bloed in die bakkie negatief.

“Dit wil sê geen bloedmonsters is in die bak gevind nie. Verder het Pakisi ook in sy verklaring aangedui die oorledene is drie keer van die bakkie gegooi, maar in die hof het hy getuig die oorledene is een keer van die bakkie gegooi en dat hy nie seker is van die ander twee keer nie.”

• Doorewaard en Schutte se appèl is in Augustus virtueel aangehoor.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.